top of page
  • Anoniem

Terug skool toe (of eerder uiteindelik skool toe)


Hier’s ek weer, hier’s ek weer...of so gaan die lirieke van ‘n ou Afrikaanse liedjie! Behalwe ek het geen rooi rok aan nie en ek is op jou skerm (en nie voor jou deur nie).


Ons het intussen getrek, ‘n kat gekry en ‘n 8 voet regte, egte Kersfees boom staan net links van my.


Maar waaroor ek eintlik vandag ‘n bietjie wil skryf, is skole. Dis seker een van die vrae wat ek die meeste kry. En ek verstaan dit heeltemal. Ek is ook ‘n mamma en my hart was ook maar onstuimig met die wete dat my bloedjies hulle in ‘n Engelse skool in ‘n vreemde land gaan bevind. En hoe anders is skole nie hier nie? Ek wou eers net wag vir die eerste trimester om sy gang te gaan. Hier is ons nou. Die trimester is om, rapporte is huis toe gestuur (of nee, dit word per e-pos gestuur) en elke juffrou het my geskakel met hulle observasies.


So hier is ek nou om jou bietjie meer te vertel. En ek hoop hierdie maak daardie bekommerde mamma (of pappa) hart van jou bietjie kalmer.


Voor julle enigsins verder lees; onthou asseblief dat hierdie van toepassing is op die skole in my omgewing (Bedford, Nova Scotia). In enige ander streek/provinsie mag dit dalk baie anders werk.


Die heel eerste ding om te weet, is dat jou kinders na die skool toe gaan wat in jou buurt se opvangsgebied is. So as jy in Fall River bly, gaan jou kinders nie in Bedford skool gaan nie. Die beste manier om te sien in watter skool se opvangsgebied jy bly, is om op die volgende webtuiste te kyk: https://mybaragar.com/index.cfm?event=page.SchoolLocatorPublic&DistrictCode=NS54

Tik net jou straat naam in (nie jou huis nommer nie) en jy sal sien in watter skool gebied jy val. Dis ook ‘n baie goeie hulpmiddel vir as jy trek en wil seker maak jy bly nog binne dieselfde skool area. Elke skool het ‘n webadres en daarop sal jy ‘n magdom inligting kry. So as jy eers weet waar jy gaan bly, kan jy konsentreer op die inligting van die skool binne jou area en jou navorsing daarvolgens begin doen.


Om jou kinders in te skryf by ‘n skool, vul jy al jou besonderhede op die webtuiste van HRCE in (https://www.hrce.ca/registration). Hulle stuur jou aansoek na die skool in jou area. Die skool sal met jou in verbinding tree. (PS: skool is gratis).


Elke skool het ‘n lys van benodighede wat jy as ouer moet verskaf. Dis gewone goed soos potlode, kryte, skryfboeke, duo-tangs (ek tik aspris die woord, want ek moes dit Google om uit te vind wat die item op die skool lys is) en nog ‘n paar ander items. My totale kostes vir 3 kinders vir die hele jaar was min of meer $ 500 - $ 750.


Skoolbus ry is ‘n voorreg en nie almal is bevoorreg om dit te kan benut nie. Die huidige regulasies bepaal dat jy 2.4 km, of verder, van die skool af moet bly om van die diens gebruik te maak. Daar is geen kostes daaraan verbonde nie. Die diens word gratis gelewer. Maak net seker die skool registreer jou daarvoor as jy kwalifiseer en daarvan gebruik wil maak.


En ja, kinders gaan skool toe in gewone klere. Ons het geen harde en vaste stel reëls gekry rondom kleredrag nie. Ek hou maar by wat vir my sin maak. (PS: Koop sommer nou al ‘n stel warm pajamas. Hulle het vreeslik baie pajama dae hier. Ons trek al by pajama dag nommer 4 in die eerste trimester).


Sover het nog nie een van my kinders met buitensporige huiswerk huis toe gekom nie. Hier en daar is bietjie ekstra leeswerk of ‘n takie om klaar te maak, maar dis geensins soos ons dit geken het nie.


Die belangrikste vraag, is natuurlik oor aanpassing. Ek kan met eerlike opregtheid sê, dat die aanpassing swaar op my hart gedruk het. Eerstens, praat ons net Afrikaans by die huis. My kinders se grond fases is ook vasgelê in Afrikaans. Tweedens, met Kanada se reëls, het die jongste twee ‘n hele graad gemis.


En hier is nou waar my gerusstelling lê. Ek het vir elke kind se onderwyser ‘n e-pos gestuur en hulle attent gemaak daarop dat ons nie Engels is nie (alhoewel die skool dit alreeds geweet het). Ek wou dit net weer herhaal. Elke onderwyser het my terug geantwoord en my gerus gestel dat hulle jare se ondervinding het met kinders van regoor die wêreld (Kanada is tog ‘n land van immigrante). Die jongste twee (6 & 8 jaar) kry elke week spesiale Engelse lesse by ‘n ESL (English as Second Language) juffrou. Hier doen hulle ekstra lees werk, leer die klanke en alfabet. Ook gratis en deel van hulle skool dag. Hulle beide se rapporte was skitterend en die terugvoering van die onderwysers ook baie goed. Beide het baie goed aangepas, hulle het vinnig ingehaal en sommer baie maats gemaak.


My oudste is 12 jaar oud en in ‘n ander skool (net vir graad 5-6). Hulle is bevoorreg genoeg om elkeen ‘n nuwe Chromebook te ontvang van die skool vir gebruik gedurende die skooljaar (en ja, hulle bring dit ook huis toe). Baie van hulle werk word aanlyn gedoen. Ek het baklei dat hy asseblief nie ‘n graad moet mis nie (graad 6), en helaas het ek die stryd gewen. Sy rapport was net so skitterend en die onderwyser se terugvoering was ook bo my verwagting. Hierdie liewe kind van my is vreeslik skaam en ek het gedink hy sal dalk bietjie sukkel met die nuwe skool en aanpassing. Sommer gou-gou het hulle ‘n sokker span gemaak en daar is maats gemaak. En o ja, op my persoonlike Facebook blad het ek vertel van die slang wat hy gevang het by die skool!


As jy dalk nog in Namibië (of SA) is, en hierdie nuwe land en nuwe skool weeg swaar op jou hart, wees net rustig mamma (of pappa). Gee hulle net ‘n wyle om hulle voete te vind en (hopelik) gaan die aanpassing vir julle ook veel makliker wees as wat jy ooit sou kon dink. Ek belowe dit was nie naastenby so erg soos ek gedink het dit sou wees nie.


PS: voor ek vergeet, die bus tel hulle 8:12 op en laai hulle 2:55 af. Jy pak ‘n kosblik met ‘n paar versnaperings en iets meer stewig vir middagete. Meeste skole is neut vry. Moet asseblief nie Nutella in pak nie. Ek en die kinders was in die sop!



124 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page