
Ons is in die middel van winter. Die seisoen van loop soos ‘n pikkewyn, of gly en breek dalk ‘n arm.
Ek dink na 5 jaar hier in die “koue” Noorde, is ek redelik seker winter is heel laaste op my lysie van gunsteling seisoene. Nou nie die hele winter nie – spesifiek die begin van die 6 weke voor winter amptelik verby is. Dis daai tyd van die jaar wat jy sneeu, reën, ys en bittere koue sommer alles op een slag kry. Wanneer jy op jou foon kyk sodra jy wakker word en hoopvol sien dis -10C, maar ook gou sien die werklike gevoel is nader -21C. Eintlik seker die tyd van die jaar wat winter en lente arm druk oor wie gaan langer bly en wie gaan vroeër kom. Ek bid maar altyd vir ‘n vroeër lente.
My misnoeë met winter het onlangs versterk. Die oggend het nie te koud begin nie. Die vorige dag was daar so bietjie sneeu, maar niks wat ek nog nie gesien of in bestuur het nie. So voet in die hoek is ek op pad werk toe. Dis nou tot ek die afrit moet vat, op ‘n besige pad, en ek en my kar amper ‘n totale 360 grade omwenteling doen. Wel, dalk nie heeltemal 360 nie, maar daai 90 grade het gevoel soos meer.
Ek weet nie wie het die grootste geskrik nie: ek, my kar of die mens in hulle karre aan die oorkant van die pad. Om op jou brieke te lê help jou niks nie – vra my, ek dit het eerstehands beleef. As jy daai briek trap terwyl jy baie onheilspellend gly en tol, gebeur daar kort duskant niks nie. Inteendeel, daai arme ABS brieke raas soos ‘n vars pak Simba skyfies wat jy stukkend druk. Die hele gedoente het dalk net sekondes geduur, maar ek het in m my geestesoog gesien hoe swem ek saam met die vissies in Kearney Lake. En my volgende gedagte was, hou tog net die kar op die pad en uit anders mense se karre, want versekering is duur hier! Winter bande ten spyte, as jy eers daai ys gevang het, is dit so goed soos skaatse vir jou kar. My KIA was amper 'n NO-KIA!
Mense gaan jou dalk vertel om in die sneeu te ry is soos om in duin sand te ry, en ek gaan se dis dalk nie heeltemal waar nie. Ek dink ek het my sarsie ry in die sand al beleef – ek het immers meestal van my lewe in een of ander woestyn spandeer (soms die Namib en soms die Kalahari). Die sneeu is heel doenbaar, maar daai lagie ys onder dit, dis daai een wat jou gaan les opsê.
Ek wil maar ook net noem, ek kla nie noodwendig oor winter nie, dit het sy eie mooi. Ek dink nie ek het al ooit iets mooier gesien as ‘n perfekte sneeuvlokkie in die winter nie. Ek sou net baie meer daarvan hou solank ek in my huis kon bly en nêrens heen hoef te gaan nie.
留言