top of page
  • Anoniem

Impulsiewe besluite


Wanneer berou 'n mens gewoonlik daardie impulsiewe besluite? Ek weet. Wanneer dit te laat is.


Ons is in die middel van 'n redelike matige winter. So matig, dat ek vanoggend besluit ek gaan sommer die 1,5 kilometer na die busstop toe stap, in plaas van die gewoonlike bus en taxi roete. Dis 'n lieflike -1 en mistig. Heerlike stap weer. Voel amper soos 'n lieflike herfs oggend.


Apple Maps maak my wys dis net 'n 13 minute stappie, so ek sal 10 minute voor die bus daar wees. Ons het die roete al menige kere gestap so ek ken die pad. Ek het wel nog nooit die draai gesien wat op my kaart is nie, maar ek het ook nog nooit na daardie spesifieke busstop toe geloop nie.


En daar val ek, dapper en stapper in die pad. Alles verloop seepglad. Letterlik en figuurlik. Dis belangrik om te noem dat ons 'n mengsel van reën en yskoue temperature gehad het die laaste paar dae. So elke nou en dan skaats jy in plaas van loop. En dan gaan sit my hart so bietjie in my keel. Maar helaas, aanhouer wen. En dis nog net 400m.


Dis by hierdie laaste 400m waar ek al my impulsiewe Vrydag oggend keuses in twyfel begin trek.


Al skaatsende loop ek verder met die pad aan. My foon en baie slim Apple horlosie skree ek moet reguit aan, maar reg voor my is 'n doodloop pad. Dis net bosse na regs en 'n voetpad na links. Links het ons al baie geloop en ek weet vir 'n feit daar is geen busstop aan die einde van daardie pad nie.


So in my wyshied, belsuit ek regs is die beste opsie. Daar is so 'n self gemaakte voetpad deur die bosse en ek weet die busstop sit net daar aan die anderkant. So halfpad deur die bosse, takke en krakende ys, verdwyn die voetpad. En daar staan ek. Iewers in die bosse van West Bedford.


My foon skree: "Proceed to the route", my horlosie bly bewe om my te herinner dat ek van koers af is, en my sin vir rigting laat my besef dat ek dalk so bietjie die pad byster geraak het.


Daar bly net een opsie oor. Ploeter al die pad weer terug deur die bosse na die voetpad toe en hou links. Disndie enigste pad wat daar is.


Iewers tussenin ontdek ek 'n regs draai en reken 'n skerp draai regs sal dalk my enigste redding wees om betyds by die werk te kom.


Ek was nog nooit so bly om geboue te sien nie. Die eerste en naaste klip was my rusplek en die bus het my nooit gesien nie. Dankie tog vir apps en taxi's.


Ek was betyds vir werk; met hare wat in elke rigting staan (of ge-mince soos my vorige kollegas dit sou noem). Dankie tog vir jeans en tekkies op 'n Vrydag.


Iewers op hierdie avontuur onthou ek my vriendin het altyd gesê: "Pic or it didn't happen". So hier is my enigste kiekie van my vroëe oggend avonture.

57 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page