top of page
  • Anoniem

Die een waar ek bus ry vir die eerste keer




Ek kom van ‘n klein dorpie af. Dalk nie so klein as jy daaraan dink in terme van Namibië nie, maar wel klein in terme van Kanada. Nou bly in ons in ‘n stad – en nie eens ‘n baie groot stad in Kanadese terme nie, maar ten minste 3 maal die grootte van Windhoek.


As jy dink aan vervoer in Namibië,is die laaste ding waaraan jy dink publieke vervoer via ‘n bus. Publieke vervoer is beslis nie aan die orde van die dag nie. En dis hier waar my storie begin.


Die mense wat saam met ons hier in Kanada reis van die begin af, weet dat ons met die aanvang van COVID hier geland het. Dit het ‘n hele klomp klippe in ons pad kom stoot. Werk was skaars, versekering was onbekombaar, motor handelaars was toe, en sommer ‘n hele rits ander goed. So ons uitgangspunt was om net eers een kar te koop sodat wie ookal eerste werk kry, darem kan werk toe en terug en ons darem ‘n bietjie kon rondloop. Nooit ooit het die gedagte aan publieke vervoer eers by ons opgekom nie. Dit was volksvreemd. Ons het maar gehou by wat ons ken; naamlik dapper en stapper of ‘n taxi.


Ons het ons roetine uitgewerk en so het ons oor die weg gekom. Vir baie lank. Maar mettertyd het ek gejeuk om iewers deur die week ook so bietjie die wêreld daar buite te beleef en nie net te wag vir naweke nie. So is die saadjie geplant om dalk tog hierdie nuwe hoofstuk ook aan te pak – publieke vervoer, of sommer net bus ry.


Weke voor ek die eerste keer my voet op ‘n bus sit, koop ek die kaartjies en begin bestudeer die roettes. Laai elke moontlik toep (‘app’) af om seker te maak ek vat die regte bus en kom by die regte plek uit. Uiteindelik, op een mooi April oggend, se ek vir my buurvrou; vandag is die dag. As die skoolbus kom en ek is nie hier nie, moet jy weet daar is fout. Groot fout.


Vanaf ons gedeelte van die stad is daar twee bus opsies – bus 90 of 91. Volgens die toep, sal beide jou aflaai by die winkel waarnatoe ek wil gaan. Bus 90 ry met ‘n ompad soontoe en jy moet busse verwissel. Bus 91 ry direk soontoe. My gedategang is dus om die 91 bus te haal – dis net een bus en sal minder stresvol wees vir ‘n eerste keer se probeer.


So kom die bus aangery. In my haas om op die bus te klim, kyk ek nie regtig na die nommer nie. Volgens die toep, moes bus 91 eerste kom. Dis eers toe ek op die bus sit, dat ek sien ek sit inderdaad op nommer 90. Gelukkig darem nie ‘n groot katastrofe nie, want die slim toep het mos gewys dat albei uiteindelik by dieselfde bestemming uit kom.


Ek is die enigste persoon op die bus, so daar is geen voorbeeld om te volg nie. Ek gaan sit sommer op die eerste en beste stiplek heel voor in die bys. Minwetend dat hierdie eertse paar rye eintlik is vir mense met spesiale behoeftes en ou mense. Dit sien ek eers toe ek klaar my sit gekry het.


Ek vind dit nogal vreemd dat die bus bestuurder nooit vir my buskaartjie gevra het nie, maar reken hy sal my seker vra voor ek afklim.


Die bus se wiele begin rol, en sommer binne die eerte 100 meter weet ek ek het ‘n fout begaan. Toe die bus by die stop kom, draai dit onmiddelik na link en nie regs soos ek gehoop het nie. Maar aanhouer wen. Die roete is dalk anders en langer, maar die toep is mos slim (en ek selfs slimmer soms) en ek sal wel uitkom waar ek moet wees. Nou moet ek net busse ruil iewers langs die pad.


Ek het natuurlik geen idee hoe om hierdie bus tot stop te bring nie, en ek sal eerder dood voor ek vra. In my eiewysheid, het ek gedink die bus stop by elke bus stop. Nee, dis geensins hoe dit werk nie. Dit kom ek gou agter nadat ons verby meer as een stop ry. Langs die pad klim nog ‘n paar siele op die bus, en so raak ek darem ‘n paar dinge wys. Soos om die tou te trek om die bus tot halt te roep. Maar intussen het ek die stop misgery waar ek moes ruil na die ander bus, EN die bus ry in ‘n heel ander rigting. In plaas van die strate van Bedford, ry ons nou iewers op ‘n hoofpad oppad stad toe.





My moed en bravade begewe my sommer heeltemal en ek belsuit om te sit op hierdie bus tot waar dit uiteindelik tot ‘n stop gaan kom. Die stop is toe iewers in die middel van die stad. Genadiglik naby plekke waar ons al was. Met angs in my stem, stap ek na die bestuurder toe en bied my buskaartjie aan – dis nou nadat ek gesien het daar is ‘n oulike masjien wat die kaartjie sluk as jy opklim. Ek dink hy het die moedeloosheid op my gesig gesien en het plegtig gesê: dis ok, jy het verniet gery. Hou maar die kaartjie vir volgende keer.


Genadiglik was daar ‘n volgende bus wat my weer tot by die huis kon kry. Halfpad het ek die tou getrek vol selfvertroue, die inkopies gaan doen wat ek wou en ‘n taxi geboek huis toe – soms moet jy maar hou by wat jy ken. 😊


Dis was nie my laaste busrit nie en vir die volgende jaar het ek daagliks bus gery. Maar daardie eerste rit sal my altyd bybly en het my beslis waardevolle lesse geleer.


99 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page