top of page
  • Anoniem

Ontdek: Peggy's Cove


En so staan ons een goeie oggend op en ek weet dat ons vandag weer ‘n rigting moet inslaan want my voete jeuk om nog meer te sien en te verken van Nova Scotia. Waarnatoe is die vraag? Natuurlik na die plek toe waarvan almal weet. Wel, ek weet nie wie almal is nie (en dalk weet jy nie hiervan nie), maar Peggy’s Cove is een van die mees gefotografeerde vuurtorings (lighthouses) in die wêreld.

Een van die 1,000 dinge wat jy moet doen tydens die immigrasie proses, is jou Biometrics. Vir ons het dit ‘n vlug Suid Afrika toe beteken. VFS het nie kantore in Namibië nie. Terwyl ons daar sit en wag, merk ek op daar is ‘n paar murals teen die mure. Een van hulle is Peggy’s Cove. Ek het daar gesit, op daardie ongemaklike yster stoeltjies, en gehoop dat ek ook eendag die voorreg sal hê om hierdie stukkie van Kanada te sien. En 10 maande daarna gebeur dit ook toe.

So op ‘n lieflike koel dag (dit was – 4 C), prop ek almal in die kar. Ons is op pad Peggy’s Cove toe. Ek wil vandag die vuurtoring sien. En eintlik, meer as enige iets anders, wil ek graag die see sien. Ek wil dit ruik, ek wil dit op my vel voel en ek wil dit sien. Ons doen ieder geval niks anders nie. Ons het met die snelweg soontoe gery. Ons vergaap ons nog steeds aan al die bome om ons en wonder hoe dit gaan lyk in die somer (dis soveel beter as wat ons onsself ooit kon voorstel).

En dan ewe skielik, betree jy iets wat lyk soos ‘n greep uit ‘n film. Dis hierdie piepklein (vissers) dorpie. Dit was presies wat ek myself voorgestel het.



Die vuurtoring staan op sulke yslike klippe (boulders is dalk ‘n beter beskrywing). Is dit mooi daar? Ja! Was dit koud? Bitterlik. Na 15 minute het ons weer gery. Ons kon die see sien (maar die see ruik nie soos see hier nie) en dit was ‘n groot plus punt.

Ek gewaar natuurlik die rooi stoele aan die oorkant van die jetty waar ek staan. Hoekom? Want hierdie Airondack stoele sien jy regoor Kanada. Van die lughawe in Toronto, op woonstel blokke se stoepe, plaas markte en iewers lang die see by Peggy’s Cove.

Met ons terugkoms, kies ek ‘n ander roete huis toe. En daar beland ons in die Prospect Communities. Dit is loshande van die mooiste gedeeltes van Nova Scotia (wat ons sover in ons eerste 3 weke gesien het). Ons verkyk ons aan al die klein ‘dorpies’, die eilande in die middel van die mere, klein huisies oral en net algehele natuurskoon om ons. Die maklikste manier om dit te beskryf, is om te dink aan die derduisende prentjies wat jy al op legkaarte gesien het. Dis hierdie klein huisies (en nog kleiner gemeenskappe) en dit weerkaats op die mere. Dis ongelooflik mooi!


Dis beslis op my lysie om weer te besoek gedurende die somer!

52 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page