top of page
Anoniem

Ons storie (deel 3)

Updated: Jul 17, 2020



En toe, toe kom daar ‘n deel 3!

So die koeël is deur die kerk! Ons gaan trek. Die PR is tentatief goedgekeur. Of dis wat daardie email impliseer.

In ‘n perfekte wêreld stuur jy jou paspoort in, hulle stempel die visa daarin en dan is jy oppad. Is die wêreld perfek? Nee! Werk dinge regtig so maklik? Nee!

Omdat alles bietjie langer gevat het as wat dit moes, besef ons ons sal ons paspoorte moet hernieu (daar is ‘n werk kontrak wat moet klaar kom en ‘n huis om te verkoop). Ons sperdatum vir paspoorte instuur is 12 Oktober. As jy ‘n Namibiër is, sal jy weet dat hierdie die reine waarheid is en nie een of ander sinister grappie nie. Namibië het nie paspoorte nie! Jy het net 30 dae om jou paspoort in te handig vir jou PR visa (trek een week af vir Suid Afrika toe stuur, en jy het eintlik net 3 weke). Hier staan ons – voor ons volgende berg. Die Ministry of Home Affairs weier om ons aansoeke te aanvaar, ewe skielik is ek nie meer op hulle sisteem as ‘n Namibiese geboorte nie, my man se naam is verkeerd gespel (op sy ID), die lys gaan aan en aan met die Ministry of Home Affairs. Ek spring in aksie oor en stuur email op email na elke lewende wese (daar is nie baie nie) by die Ministry of Home Affairs (die PM ingesluit). Die mense daar raak so kwaad vir my, hulle stuur dreigende emails terug. Ek draai later by die Ombudsman. NIKS help nie. Niemand luister na my pleidooie nie. Al wat uiteindelik help is om uitstel te vra om ons paspoorte in te dien (met 30 dae), en om aansienlik meer vir ons paspoorte te betaal (ek gaan nie uitspel wat dit beteken nie). Na al die drama sit ek met 4 van 5 paspoorte. Ons besluit ons stuur in wat ons het. 4 nuwes en die 1 oue.

Met die uitstel, moet ons paspoorte 15 November in SA wees. Ek kry alles reg om 12 November te stuur. Fedex is mos darem befaam vir hulle oornag diens (al is hulle duur). Ek verduidelik vir die meisie die erns van die saak en hoe krities tyd is. Sy sê: jammer, ons kan dit eers Maandag (18 November) afgee. Ek het daar uitgestap, my man gebel en amper begin huil (of dalk het ek). Dit was vir my die blyste oomblik (van daardie week) toe ek daardie Vrydag die email kry wat sê ons paspoorte is ontvang. Ek kon terug ry DHL toe en daai meisie gaan soen.

Saam met die land verlaat, het jy nie net ‘n paspoort nodig nie. Wat gebeur met jou huis? O jinne, ek was (is nogsteeds) mal oor ons huis! Aan daardie huis is gewerk en geld spandeer totdat dit ons s’n was. (Onthou, ons probeer die land verlaat te midde van swak ekonomiese toestande.) Die agente bring mense om te kom kyk. Hier en daar stel iemand belang. Maar die huis is groot en nie almal soek ‘n kasarm nie.

Een goeie aand staan en maak ek huis skoon, en daar stop vreemde mense voor my hek. Ek ken hulle van geen kant af nie. Los dit ook maar daar, net om die volgende dag ‘n oproep te ontvang van die mense. Hulle wil tog graag na die huis kom kyk. Daai vrou stap daarin, en sy is verseker: dis HAAR huis. Ek kan dit sien op haar gesig en hoor in haar stem. Die enigste kinkel in die kabel – die bank keur hulle goed vir ‘n huislening N$ 1,000,000 (dis die regte hoeveelheid nulle) onder die huidige waardasie. Dit slaan nogal die wind uit jou seile, want jou somme was gemaak met ‘n sekere som in gedagte. Maar……ons huis was vir ons ‘n seëning. Daardie huis het ons gevind (nie andersom nie). Ek reken ons moet die huis aan die mense verkoop. Ons was absoluut geseën daarmee, dalk is dit ‘n geval van “return the blessing”. Nie seker my man stem saam nie, maar ons moet letterlik vat wat ons kan kry want ons wil nie die huis verhuur en in ‘n ander land woon nie (dit sou die heel, heel laaste opsie gewees het).

Karre verkoop gelukkig soos soet koek, die huis se kontrak is geteken, die paspoorte is al terug (met die PR visas in wat verval op 7 Feb 2020). Wat bly oor? Alles IN die huis.

Op daardie stadium werk my man honderde kilometers van die huis af en ek probeer net kop bo water hou. Tussen werk, immigreer, skool vakansie, Kersfees, Nuwe Jaar en twee kinders wat verjaar, gaan dit nogal dol party dae. Ek begin solank pak wat ek kan en bespreek ons kaartjies vir 2 Feb 2020 (vlieg 15:00 en ons moet nog Windhoek toe ry. Dis nog 400 km). Die kinders slaap op matrasse op die grond. Ek gooi weg en pak reg as ek ‘n spaar kansie het. Maar so raak dit Januarie. Die tyd loop vinniger uit as wat ons reken en voor ons ons kom kry, is dit die laaste week van Januarie. As ek hier kan raad gee: moet tog asb nie wag tot so naby die vlug datum nie. Ons het besluit ons gaan ons meubels verskeep Kanada toe. Die vraghouer word op 30 Januarie afgelaai voor ons huis. 30 JANUARIE 2020 (2 dae voor ons moet vlieg)!!!! En ek werk nog! Ons probeer “cope” met 4 ure se slaap elke nag. Ons pak, sorteer, verkoop, gooi weg en dit voel of dit NOOIT gaan klaar kom nie.

Die familie hou ‘n koebaai braai vir ons en ons mis dit amper. Ons daag eers 20:00 op toe die vleis al klaar gebraai is. Wens ons kon langer kuier, maar tyd was bitter min. Dis ‘n traan belaaide, moeilike koebaai. Dis vrek moeilik om daai laaste (maar nie finale) koebaai te sê. Maar ons moet weer terug om klaar te pak, trane of te not. Die oggend van 2 Februarie om 01:00, sluit ons die vraghouer se deur en ek maak gou die “Goods to Follow” lys klaar. 01:00 daardie oggend sê ons ook totsiens vir Simon (een van ons werkers wat al vir 15 jaar saam met ons klippe gekou het) en van die vriende wat nog rondhang (en help. Dankie tog!).

Ons sluit ons huis vir die laaste keer daardie oggend 01:30 en ry na die gastehuis toe, so half in ‘n waas. Ons is dood moeg (gewerk en gehuil). Ons het bitter min slaap gehad die laaste week, en ons moet 03:00 weer op. Windhoek is nog vêr! Langs die pad wil ons nog familie groet en tyd staan nie stil nie. Ons klim daardie oggend 03:00 in die kar met ‘n snaakse gevoel. Hoe moet jy voel as jy weet dis die laaste keer dat jy in 5de Weg (verby jou huis) ry, af in Union Straat (verby jou suster se huis), verby die begrafplaas (waar jou ma is), dwarsdeur Swakopmund (waar jou pa bly) tot in Windhoek waar nog ‘n ouma en oupa wag? Hoe moet jy voel? Jy moet voel met jou hart! Jy gaan huil – sommer baie!

Maar ons maak dit tot op Hosea Kutako International. Ons is so bly ons het British Airways gekies, want Air Namibia se vlugte is alweer gekanselleer. Die vlug Johannesburg toe verloop seepglad. Op OR Tambo staan en wag al my SA familie. Ons het nie dwarsdeur geboek nie (koste besparing) en paspoort beheer vat bietjie lank. Ons het net 3 ure op die lughawe. Ons loop en gesels en sê sommer so half koebaai tussen alles deur. Dis weer net snot en trane.

Ons vind ons pad na paspoort beheer toe en daar staan ‘n ry mense. ‘n Ry mense so lank soos die pad tussen Swakopmund en Usakos. Maar daar staan ons. Geen gesoute “travellers of the world” nie. Ons weet net, ons vlug is oor ‘n uur en ons is 300ste in die ry. Ek weet nie of mense die paniek op ons gesig gesien het nie, maar iemand kom verby ons geskuur en sy sê (dankie tog) vir ons, julle moet indruk tot voor, julle gaan die vlug verpas. Ons is nie indruk mense nie, maar ook nie gesoute ‘travellers’ nie. So ons maak soos sy maak en kom voor. Ons hardloop vir die ‘check-in counter’, en die meisie sê – “they are closing the gates, you need to run”. Wat sy nie gesê het nie, daai hardloop sessie is 1 km vêr (alhoewel dit voel soos 10). Ons gryp daai arme 3 wesentjies wat ons kinders noem aan die arm en hardloop vir die hekke. Ons maak dit net net. Ek dink die hele vlug se mense is vies vir die laatkommers. Maar ons maak dit, dors en natgesweet is ons op die vlug!

Nou ja, ons haal Parys. Die lughawe is lieflik en ons sal ons siele verruil vir ‘n lekker koffie. Starbucks toe sommer eerste! En net daar het ek besef – my arme Afrikaanse naam is nie gemaak vir die Engelse wêreld nie. Dit sukkel en stoei maar. Die vrou gee later moed op. Hoofsaak is, ons het koffie gekry. In my navorsing oor roetes, soek ek die planne oor die lughawens op sodat ons darem kan stort iewers terwyl ons oorstaan. Na ons hardloop sessie was dit ook net wat ons nodig gehad het.

My mens, geen Apple Maps of Google Maps kan jou help om Parys se lughawe te verstaan nie. Jy loop volgens daardie kaart en dan eindig jy op in doodloop gange. Vra jy iemand, trek die persoon net skouers op. Dis ‘n goor storie. Iewers loop ons iemand raak wat ons in die regte rigting pos (ons moes op die trein klim. Iets wat geen app vir jou sê nie). Daai stort kos ons N$ 1,600. Maar soos die VISA advertensie se – dis ‘priceless’.

Ons volgende vlug is Toronto toe. En hier is waar jy nou ‘n amper Kanadees raak! Hier kry jy jou “landing papers” en is jou Namibiese lewe agter jou. Ons het al riller verhale gelees, gehoor en gesien (op TV). So ons is maar bietjie senuweeagtig. In die hoekie speel ‘n Border Security episode af met iemand wat gedeporteer word terug Meksiko toe. Die offisier roep ons naam en ons stap vorentoe. Dit vat 10 minute. Net 10 minute en ‘n hartlike welkom en toe is ons amper Kanadese! Moeg en dankbaar met vol harte en rooi oë!

En hier, hier is waar die immigrasie storie eers stop!

PS: as 'n nagedagtenis Hier is iets baie spesiaal rakende ons immigrasie datum. Die datum lees dieselfde van voor af agtertoe en andersom.



200 views0 comments

Recent Posts

See All

Commentaires


bottom of page