top of page

Ons storie (deel 2)

Anoniem

Updated: Jul 17, 2020



Op 19 Desember 2018 kry ons ons ITA (Invitation to Apply) en ons weet – Kanada hier kom ons (min wetend van alles wat nog wag. Maar dis ‘n volgende keer se storie)!

En hier is die storie. Die lang en duur storie!

As jy gedink het die hele proses tot by ITA was lank, duur en moeilik dan wag daar vir jou ‘n ontnugtering. Die admin wat kom na ITA is amper ‘n voltydse werk.

Ons kry al ons dokumente agtermekaar: nuwe paspoorte (riller verhaal), verwysing briewe, finansïele dokumente, PCC (polisie klaring), mediese toetse, vlugte SA toe vir Biometrics. Elke stap het sy eie bietjie (soms baie) drama.

Net so voor ons sperdatum, stuur ek daai pakkie (elektronies) in (13 Feb 2019). En nou wag ons. Die Kanadese regering sê dit vat net 6 maande (gemiddeld). So ons reken teen Augustus is alles goed en wel, en ons is oppad. Nee my mens, dis nie hoe die lewe (of PR) werk nie.

Daai ses maande sleep verby. En niks. Nie ‘n piep nie. Elke dag kyk en soek ek vir net die kleinste verandering. Intussen het ek so bietjie (baie) ondersteuning gevind via ‘n Whatsapp groep – almal van ons wagtend op daai PR goedkeuring.

So as jy al redelik vêr in die proses is, weet jy wat ‘n ‘ghost update’ beteken. Dis as hulle besig is met die finale stadium (hopelik) van jou aansoek. Jou PR goedkeuring is (gewoonlik) nie vêr weg nie (hopelik).

Ek maak die oggend van 5 September my Express Entry profiel bladsy oop en daar is dit! Die ‘ghost update’. Ek is verby opgewonde. Dis SO naby! Net wag vir die email. En op die koop toe het iemand op die groep ook sopas laat weet hulle het ‘n ‘ghost update’ gehad en kort daarna hulle PR goedkeuring email gekry. Ek is oppad na ‘n afspraak toe en dit voel of ek op wolke loop! Sekerlik kan dit nie meer lank wees nie. En weet julle wat gebeur – NIKS! Dis die aakligste gevoel om gelyk bly vir iemand anders te wees maar ook bitter teleurgesteld vir jouself (ek wil ook sommer hier sê: moenie jou storie vergelyk met ander s’n nie. Elkeen se proses is uniek). My moed sak weer in my skoene. Ek kyk op MyImmiTracker (jy kan vergelyk met ander mense se tydlyne) en dit lyk ook nie belowend nie.

Net so voor ek gaan slaap, kyk ek weer vir oulaas of daar nie dalk ietsie is nie. En daar is die email van die Kanadese regering – ons benodig nog dokumente. Ons harte sink. Iewers is hulle nie tevrede met iets nie.

Ek spring daardie Vrydag weg met die spoed van lig. Ek stuur elke liewe stukkie inligting of dokument waarop ek my hande kan lê. En nou wag ons weer. Van voor af (of so voel dit).

Elke dag kyk ek of hulle die nuwe dokumentasie opdateer op my profiel. NIKS! Dis ‘n swaar gevoel wat druk op ‘n mens se hart.

Wat volg in die volgende paragraaf is so ‘n stukkie ‘testimony’.

Op die oggend van 12 September 2019 staan ek op. Ons harte is swaar. As gevolg van sekere besigheid besluite, sit ons met ‘n groot berg voor ons. Ons staan lettelik op die rand van alles verloor waarvoor ons nog ooit gewerk het. En elke liewe sent wat iewers was, is spandeer aan immigrasie planne. Ek kyk vir my man en ek vra vir hom: wat gaan ons maak? En hy sê, “ek weet nie. Ek weet nie meer nie.” Dit was ‘n radelose, moedelose oggend. Soos ons oggend roetine maar verloop is hy en die kinders uit by die deur. Ek is nog besig om klaar te maak vir die dag se afsprake en werk. Toe ek hoor hoe die hek agter hulle toe gaan, weet ek daar is net een ding wat ek vandag MOET doen. Ek moet “praise & worship” soos nog nooit tevore nie (ek sing nie, nie eens in die stort of kar nie). Dis so half ‘n gesingery en gebid tussen trane deur. Wat gaan van ons word? Ons kon al hierdie geld spandeer het om die situasie waarin ons ons nou bevind op te los. Maar nou is al hierdie derduisende dollars op ander plekke uitgegee. Op ‘n droom. Op ‘n miskien.

Met my swaar gemoed en ‘n dapper glimlag ry ek na my eerste afspraak toe vir die dag. Jou brein is op auto-pilot en jou hart is stukkend. En daar gebeur dit – net so voor ons heeltemal moed opgee en tou ingooi kry ek daardie email. Die PR bevestiging. Op 12 September 2019; 09:00 die oggend.

As jy met die proses begin, maak jy planne oor hoe jy dit vir wêreld gaan aankondig. Hoe gaan jy die blye oomblik deel met jou mense. Die realiteit is, as jy daardie email kry, gaan stop jou wêreld vir net ‘n oomblik. My eerste reaksie was net trane – sommer by my kliënte in die kantoor (ek het die email op my foon gekry). Dit was die mees surrealistiese gevoel. Alles waarvoor jy gewerk het, waarop jy gehoop het, waarvan jy gedroom het. Alles word ‘n moontlikheid. Gebede (van net ‘n paar uur terug) is verhoor (dis wat ek glo).

Ons het nie ‘n groot opskop gehou nie. Ons was so oorbluf na al die gebeure dat ons pizza bestel het en ‘n bier gedrink het (vir die senuwees of lekkerte, besluit maar self).

Toe ek agterna ons tydlyn uitwerk om op die SACanada Facebook blad te plaas, sien ek iets raak wat my stom slaan.

Ons eerste konsultasie ooit was op 12 September 2016 en ons PR goedkeuring kom op 12 September 2019. Toeval? Miskien. Bestiering? Beslis!

En toe, toe kom daar ‘n deel 3!

 
 
 

Comments


  • facebook

©2020 by Ongiini. Proudly created with Wix.com

bottom of page