top of page
  • Anoniem

Ons storie (deel 1)

Updated: Jul 17, 2020



Ek deel laas week ‘n paar foto’s van Nova Scotia en die pragtige natuur om ons. Dis somer, dis groen en dis vreeslik mooi. As jy om jou kyk, slaan dit jou asem weg.

Ek raak die oggend daarna wakker met ‘n Facebook Messenger inboks wat oorloop met boodskappe. En dit slaan my asem weg.

Dit is seker loshande een van die vrae wat ek die meeste kry. HOE? Hoe het julle dit gedoen en wie was julle agent?

So hier is dit nou. So het ons dit gedoen en daar was GEEN agent nie.

Iewers in 2016 het die gedagte by my pos gevat. Ek dink ons moet immigreer. Dis daai stemmetjie wat vir jou fluister – maar jy hou dit vir jouself. Op daardie stadium was dit al duidelik dat die Namibiese ekonomie nie in ‘n goeie toestand is nie. Maar, jy bly glo en hoop. Dis jou land, dis jou mense, dis jou huis, dis jou alles. Dinge SAL beter word. Die ekonomie sal weer verbeter. Nader aan die einde van 2016 noem ek sommer net in alledaagse geselsies vir my man ek het begin navorsing doen oor immigrasie Australië toe. Ja, Australië! Nog voor ek baie kan praat, stop hy my sommer net daar. Nee, my vrou, jy moet kyk na Kanada. My broer bly daar, dit sal sommer vining en maklik wees met familie daar (terloops, daar is ook familie in Australië). So gesê en so gedaan – ek krap rond op die internet en ek lees alles waarop ek hande (of oë) kan lê. Ek gebruik die CRS Calculator en dit sê tot my vreugde: You qualify for Express Entry! Jislike, ons kop is deur! Ons gaan immigreer Kanada toe! Sommer binne die volgende 6 maande! Don’t be fooled.

So deur al my lesery en navorsing, kom daar ‘n paar agente se name op. Ek kyk wie kom hoog aanbeveel en besluit dit sal sommer ons eerste stap wees. Ek is tog nie lus vir nog admin nie. Konsultasie is geboek en betaal (12 September 2016 = N$ 1,500), kinders word vroeg bed toe gestuur, vanaand vind ons uit wat ons volgende stappe moet wees. Iewers het ek gelees van IELTS (Engelse toetse) en WES (graad akkreditasie) en al daai dinge. Maar moet jy dit nou REGTIG doen. Dis tog net nog uitgawes. Ja, my mens. Jy moet al daai goed doen as jy via Express Entry werk. Daar is nie ‘n ‘get here quick’ manier nie. En dis ook wat ons kan aflei van die konsultasie. Maar ek druk deur. Daar moet seker ‘n makliker manier wees. Ek skep ons eerste Express Entry profiel – en dis ineligible.

Die lewe gaan aan. Mense bly vra hoekom is ons nog nie weg nie, wat maak ons nog in Namibië. Teen die tyd weet ons, die gaan nie ‘n 6 maande storie wees nie. Maar ek soek nogsteeds ‘n makliker manier. Want regtig – IELTS is duur en WES vat lank.

Om my eie gewete tot rus te bring boek ek nog ‘n konsultasie met ‘n ander agent (agent 2). Dis dieselfde ou rympie. Maar net om seker te maak die een het ons nou nie ‘n klomp nonsens gevoer nie, probeer ek agent 3. Skryf IELTS en stuur jou dokumente vir WES. Daar is nie ‘n ander manier nie.

Uiteindelik sak die storie in. In Junie 2017 gaan skryf ons ons IELTS toetse. Ek leer, ek doen al die oefeninge, my man dink ek is gek. Ons kan mos Engels praat, luister, skryf en lees. Ja, maar hulle soek dit op skrif, met ‘n punt daarvoor.

WES vat lank en UNISA is treurig. So tussen al die gewag op alles wat moet gebeur het ons nog 2 konsultasies (agent 4 & 5). Dit raak gou duidelik dat ons nêrens gaan kom sonder die dokumente nie. Na wat voel soos ‘n ewigheid, kry ek uiteindelik my WES verslag.

Alles goed en wel – nou kan ek my Express Entry profiel opdateer. Nou net wag vir die ITA (Invitation to Apply). En daar tref nog ‘n harde realiteit. Net omdat jy kwalifiseer vir Express Entry, beteken dit nie jou punte gaan genoeg wees nie. Ons s’n was nie. So na al die konsultasies, geld spandeer aan toetse en akkreditasie, is ons punte te laag (selfs met 15 ekstra punte by vir familie in Kanada).

In April 2018 soek ek nog ‘n agent op (agent 6). Hy stel voor ek begin kyk na provinsiële nominasie programme (PNP). Hy stuur my spesifiek in die rigting van Nova Scotia – boekhouers, rekenmeesters en ouditeure is op hulle kortlys van beroepe. My hart klop tjoklits! Dis dit! Dis ons uitweg!

En soos die voorsienigheid dit wil hê, sowaar het hulle ‘n trekking vir hulle B program (jy het nie ‘n werk nodig nie) in April 2018. Ek pluk my rekenaar nader, kry al my dokumente reg, sit en wag net vir 14:00 om ons aansoek in te dien. Hulle gee net ‘n sekere hoeveelheid aansoeke uit (dink dit was 250). Min wetend, die res van die wêreld het presies dieselfde plan. Daai arme webtuiste was so oorlaai. Ek probeer tot daardie aand 23:00 ons aansoek in kry. Dit raak duidelik ons het dit nie gemaak nie. Die webtuiste verander en wys dat al 250 plekke gevul is. My hart sit in my skoene. Dit was ‘n nou of nooit situasie vir ons. Daar is nie ‘n ander opsie nie.

Ek verander my benadering en besluit as ons dan nie met Express Entry dit gaan maak nie, dan gaan ons maar moet probeer vir ‘n werk permit (jy het ‘n werk nodig hiervoor, jy kan nie net aansoek doen nie). Ek stuur CV’s (resumé in Kanada) uit dat dit klap. Ek reken ek het seker 600-700 aansoeke gestuur. Hier en daar was daar belangstelling en ‘n onderhoud of twee, maar niks konkreet nie.

Jou moed sak in jou skoene. Ons het beide ons eie besighede bedryf. As boekhouer kon ek sien hoe besighede sukkel sukkel voortbestaan. Ons het elke liewe sent wat iewers was aan hierdie immigrasie storie spandeer. So vir ons was daar net nie ‘n opgee opsie nie.

Een aand in November 2018, net so voor ek gaan slaap, sien ek die Nova Scotia program maak weer die volgende dag oop. Sonder om ‘n woord te praat, het ek die volgende oggend baie vroeg opgestaan, my dokumente reg gekry en solank begin wag. Ek het geweet, die keer wag jy nie tot 14:00 nie. En sowaar gaan ons aansoek deur en word suksesvol ingedien. Dit was ‘n oomblik soos min (maar daar was nog SO baie deur die hele proses tot op die einde).

Op 18 Desember 2018 kry ons die nominasie. Ek het geen tyd gemors nie, en sommer onmiddelik aanvaar. Daai gesogte nominasie gee vir jou 600 waardevolle punte by (al is jou punte hoe laag, daardie 600 punte sal jou hier kry).

Op 19 Desember 2018 kry ons ons ITA en ons weet – Kanada hier kom ons (min wetend van alles wat nog wag. Maar dis ‘n volgende keer se storie)!



398 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page