top of page
Anoniem

Ons nuwe normaal (deel 2)


Ek het my laaste storie afgesluit waar ons nog op soek was na ‘n waterval. En toe gebeur die lewe! En ons kry ‘n kat! Die kinders is skool toe – vir die eerste keer in Kanada. Dit was ‘n dol week voor hulle gegaan het en nog meer dol nadat skool amptelik begin het.

Meeste van julle het dalk my storie gelees oor ons skoolbus ondervinding. Dit was ‘n oomblik wat ek nie gou weer wil beleef nie. Dit was wel nie ons enigste voorval met die skoolbus nie. Soms het die bus glad nie opgedaag nie. Gelukkig het een mamma my jammer gekry en my liewe seun by die skool afgelaai en opgelaai. Nou, na 3 weke, blyk dit dat meeste probleme uitgesorteer is. Die busse daag op, soms te vroeg. Gelukkig is ons nooit laat nie!

Daar was ook intussen ‘n orkaan hier by ons in Nova Scotia. In Engels het dit Hurricane Teddy geheet. Ek was nie seker wat om te verwag nie. Waar ons vandaan kom het dit amper nooit gereën nie, wat nog te sê van ‘n orkaan op jou voorstoep. Die regering het ‘n klomp waarskuwing uitgegee en gevra mense moet asseblief genoeg kos hê vir 3 dae en voorberei op moontlike kragonderbrekings. Ek het die winkels geheel en al vermy en Instacart was my heil. Ek het wel op sosiale media gesien dat die rakke leeg gekoop was en mense tot 2 ure gewag het by betaalpunte.

Dit was ‘n grou, grys dag. Iets waarvan ons nog bitter min gesien het hier aan die kus. Daar was vreeslike sterk rukwinde en heelwat reën. In ons buurt het ‘n boom ontwortel en ons was vir ‘n wyle sonder krag. Ek weet nie van enige noemenswaardige skade wat deur die orkaan veroorsaak is nie. Skole was nog Dinsdag oop, met die aanvang van die orkaan. Teen Woensdag was meeste skole, besighede en publieke vervoer gesluit vir die dag (tot 12:00).

Maar kom ek vertel julle eers meer van ons waterval soektog. Dis tog waar ek laas geëindig het.

Na ons vorige soektog geheel en al misluk het, begin soek ek na ‘n waterval wat nie te vêr is nie. Een wat maklik bekombaar is. Op Facebook is ‘n groep met die naam Exploring Waterfalls of Nova Scotia. Heelwat mense plaas gereeld foto’s met inligting oor watervalle in die omgewing. So pak ons toe die Sondag oggend die kar en vat die pad.


My keuse het geland op Crystal Falls. Iemand het gesê dis mooi, maklik om te kry en nie so vêr nie. Daai iemand ken duidelik nie hierdie gesin nie. Ons kan net nooit dinge maklik doen nie. Op pad soontoe vergaap ons ons aan die mooi plase (en droom skelm daarvan om eendag in die omgewing te bly). Ons beland op twee spoor paadjies. Tussen iewers en nêrens. Daar is nie ‘n huis in sig nie en ook amper nie meer foon opvangs nie (Apple Maps gaan weer nie werk nie). Maar ons besluit om net aan te hou met die paadjie. Dis vreeslik mooi en groen. Ons is verby opgewonde om op ‘n brug te stop en die vloeiende rivier te aanskou wat so rustig voort kabbel. Tot die muskiete ons pret bederf!

Iewers kom ons voor ‘n vurk in die pad te staan. En nou? Nou weet geen mens waarnatoe nie. Geen kaarte werk meer nie, daar is geen mens om te vra nie. My man reken ons klim maar uit en eet iets. Sommer so agter op ons bakkie (ekskuus tog, truck) se bak. Met dit uitklimslag hoor ons die geraas van massas water. Duidelik die waterval waarna ons gesoek het. Die vraag is; hoe kom ons daar? Wel, blykbaar met ‘n voetpaadjie teen ‘n baie steil bult af. Dis pure woud. Nat, modderig, mos oral om jou, bome meer as wat jy kan tel, maar ons weet net een ding – die water roep ons nader.

Uiteindelik is ons onder, en wonder bo wonder tref ons ‘n ander gesin daar aan. Dis asemrowend mooi. As jy ooit wonder wat om oor ‘n naweek te doen in Nova Scotia – gaan soek ‘n waterval iewers in die gramadoelas. Jy sal nie spyt wees nie.

Op ons pad terug stad toe, tref my oog ‘n inligting bordjie en daar staan The Lookoff. ‘n Vinnige soektog op Google sê dis ‘n absolute moet. By die volgende bordjie draai ons af. Eintlik het ons geen idee presies waar ons is nie. The Lookoff is ‘n uitkykpunt en vandaar af sien jy die hele “Valley” soos hulle dit noem. Die slaan jou asem weg. Dis so, so mooi! Dis een van daardie oomblikke waar jy staan en jouself verwonder aan die omgewing om jou en die besef neerdaal dat dit dalk een van die redes was vir hierdie uittog na die vreemde toe. Na vrede, natuurskoon en ‘n beter lewe!

En dis eers dit! Laat weet my waarvan julle graag meer wil hoor! Ek gaan beslis nog ‘n hele stukkie skryf oor al ons somer avonture.

81 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page