top of page
  • Anoniem

Ons nuwe normaal (deel 1)


Ek eindig my laaste skrywe met die goeie nuus dat my man werk gekry het en ons meubels opgedaag het en dat ons inderdaad nog in mooie Nova Scotia bly, ook nog in een van Halifax se vele buurte.

Ons lewe hiervandaan het eintlik maar redelik eentonig geword, maar geensins minder opwindend nie. Ons dag begin gewoonlik om 05:30. Deur die week is dit ‘n roetine van werk (vir my man), huis skoonmaak (vir my) en eet (vir die kinders). Maar naweke, o naweke! Ons leef daarvoor! Dis wanneer al die pret gebeur! As ek iets mooi op Instagram sien, dan MOET ons soontoe ry. Of as iemand iets noem, dan word dit gemerk as ‘n latere bestemming.

Die naweek voor my man begin werk, sê ek vir hom ek wil net ‘n waterval sien. Almal deel die ongelooflikste foto’s van watervalle, en ek het nog nooit een gesien nie. Nie eens Namibië se majestueuse Epupa valle nie. Die kinders is uit hulle velle! Hulle wil net so graag een sien.

So besluit en so gemaak.

Ek kies een wat sommer lekker naby die stad is en Apple Maps beduie ons in ‘n rigting. Ek is gewoonlik die navigator – maar as julle my ken; baie goed ken; weet julle, my liewe Juffrou Sonnie in Sub A (deesdae Graad 1) het my nooit geleer van links en regs nie. Myne is elke dag andersom. En toe trou ek met ‘n plaasseun wat praat van duskant en anderkant. Dis ‘n ramp! Maar ‘n waterval gaan ons vandag sien!


Ons beland in so ‘n eenspoor sandpaadjie. Daar staan ‘n enkele kar en ek kry die idee ons het pas die twee siele (lyk soos tieners) se private oomblik versteur. Ons ry vir etlike kilometers aan met die paadjie en gou word dit duidelik – hier is geen waterval nie. Omdraai is al wat oorbly.

O genade, die kinders is vies! My man sê: Ja, my liewe vrou, jy het natuurlik weer iewers ge-duskant in plaas van ge-anderkant! Ek blameer vir Apple Maps. ‘n Vrou is mos altyd reg – behalwe die vrou wat praat op Apple Maps. Sy sorg net vir konsternasie.

Ek kies gou ‘n ander waterval, maar die pad is toe. Almal se moed sak in hulle skoene. Dis al 15:00 en al waterval wat ons vandag gesien het, was die meisiekinders se trane wat val.

As ‘n troosprys stel ek voor kom ons gaan na die een park toe wat ek gesien het. Nou moet julle weet, as ek sê park dink my kinders onmiddellik aan klimrame, glyplanke en swaaie. Maar die park is een waar mens staproetes aanpak. Daar is geen klim en klouter apparate in sig nie – tensy ‘n boom ook tel. Dis ‘n asemrowende park! Dis onmenslik groen en mooi! Wilde varings en groen bome net waar jy kyk. By die ingang is ‘n eende dammetjie in die vorm van ‘n hart. Die eendjies swem te lekker en eekhoring hol rond en skree! Daar staan ook ‘n bord met al die roetes op, maar ons stap sommer die eerste en beste roete. En ons stap, en stap en stap!


Dit kry net eenvoudig nie einde nie! Iewers langs die pad tref ons weer ‘n inligting bord aan en probeer dit ontsyfer – die roete se naam bord wys in een rigting en die kaart ‘n ander rigting (amper soos my links en regs). My man, rigting wyser van formaat, sê hy weet watter pad ons moet stap. Nou ja, ek stry nie ek stap net. En sowaar eindig ons 15 minute later weer by dieselfde bord op! Gelukkig vurk die pad net in 2 dele. So as die een dan nie die uitgang was nie, weet ons die ander een gaan beslis die uitgang wees! Ons stap uit daardie park uit 10,000 treë later, doodmoeg en half opgeëet van al die muskiete!


Ons bederf is ‘n Beaver Tail op pad terug huis toe. Ons het mos darem ver gestap en reken ons verdien hierdie stukke bederf na al die kilojoules wat ons verbrand het.

Ek weet wel een ding, môre gaan soek ons verder na ‘n waterval! En ons kry dit!

146 views4 comments

Recent Posts

See All
bottom of page