top of page
  • Anoniem

Ons is hier (deel 9)


Hier sit ons nou. In ‘n vreemde land. Ons harte bloei vir almal in Namibië, vir al die seer en hartseer wat gepaardgaan met die verwikkelinge by die ‘huis’.

Ons krimp self so bietjie ineen. Ons finansies lyk beroerd en meeste van ons fondse is in iemand anders (my skoonma) se bank rekening. Ons het geen toegang tot dit nie en sy gaan vir weke die pad na herstel moet stap. Ons moet ‘n deposito betaal vir ons nuwe huur huis, vir die water en elektrisiteit aansluiting, sowel as die internet aansluiting. Al hierdie goed saam beloop $ 3,700 (N$ 40,000). Ons moet elke sent omdraai, want ons sal ons huidige woonstel huur moet verleng met nog 2 weke. Die huur huis is eers einde Maart beskikbaar.

En dis hier waar die klein jakkalsies begin hap. Ek en my man is beide in ‘n baie emosionele toestand met die stand van sake en skok van die nuus die laaste twee dae. Ons begin stres oor die finansies, soek werk tussenin en probeer vir die kinders se onthalwe die lewe so normaal as moontlik laat klink en verloop.

Want onthou, as jy begin praat van immigreer, verkoop jy ‘n droom. Jy verkoop ‘n droom aan jouself – jy moet jouself op ‘n manier oortuig dat hierdie die beste skuif gaan wees. Jy verkoop ‘n droom aan jou sielsmaat – Kanada is vol geleenthede. Jy verkoop ‘n droom aan jou kinders – Kanada is veilig, die skole is lekker, dit gaan baie sneeu en julle kan sneeumanne bou. En nou, nou voel dit soos ‘n nagmerrie meer as 'n droom. Die droom wat jy verkoop het, verloop nou glad nie soos jy dit in gedagte gehad het nie.


Daar gebeur sommer so ‘n mengelmoes van dinge op een slag. Die jongste se verjaarsdag kom verras ons. Dit vang ons eintlik onkant (nie ek of my man is regtig goed met verjaarsdae onthou nie). Ons voel dat hulle ietsie spesiaal verdien. Hulle het net soveel opofferinge gemaak om hier te wees. So vir haar verjaarsdag vat ons vir sussie na Build a Bear toe. Oudste sussie wat in Januarie verjaar mag ook iets kry. Daar was nie veel van ‘n viering tussen die pakkery deur nie. En daardie sussies se gesiggies straal! Hulle kan kies wat hulle wil en hulle hartjies voel gelukkig. Die mense daar is verby vriendelik en is baie nuuskierig oor die kinders se vreemde name. Dit kos amper ‘n halfuur se verduideliking oor waar Namibië presies sit.

Intussen het iemand my uit die bloute gekontak vir ‘n onderhoud. Die eerste telefoniese sessies het baie goed verloop, en ek moet asseblief die vennoot by hulle kantore gaan ontmoet. Sy gee vir my die adres en ek besef dis in die middestad. Weereens, ons kom van ‘n klein dorpie af. Ons ry ‘n hele uur voor die tyd. Ek haat dit om laat te kom. Eerstens kry ons nie die parkeer area nie. Dis net pyle oral om die Scotia Centre se parkeer area. Uiteindelik kom ons iewers waar ons kan in ry. Die masjien by die hek gee nie vir ons ‘n kaartjie nie, maar die hek tel op so ons ry net in. Dis vol in daardie parkeer area. Baie vol. Na 15 minute se gesoek vind ons ‘n enkele parkeerplek.


Ons spring uit en hardloop letterlik vir die hysbak. Ons moet op. So gemaak en so gedaan. Kom tot heel bo, en daar staan ons by ‘n doodloop gang. Nee, dis nie waar ons moet wees nie. Terug af ondertoe. Terug na die parkeer area. Ons probeer weer. Kyk op die kaarte by die hysbak, en dit lyk tog reg. Weer op boontoe, maar kies ‘n ander vloer. Nee, dis ook nie daar nie. Later beland ons in die kos arena, en ek sê vir my man ek dink ons is op die regte spoor. Sy het iets genoem van ‘n Tim Hortons en dit kan ek sien. Ek begin tik solank ‘n epos op my foon en vra om verskoning; ek gaan laat wees, maar ons het vreeslik verdwaal in die yslike gebou. Sy bel my terug en verduidelik vir my mooi hoe om te maak en op watter hysbak en vloer ek moet wees. Wat ‘n manier om jou heel eerste onderhoud aan te pak. Ek maak dit met 30 sekondes oor op die horlosie. Die onderhoud verloop goed en hulle sal terugkom na my toe.

Met ‘n effens ligter hart en ‘n bietjie lig aan die einde van die immigrasie tonnel, kry ek weer my man en kinders in die kos arena. Ons vind die midde stad ‘n bietjie beklemmend en wil net terug huis toe gaan. Ons kry die kar darem weer heel vinnig. Met die uitgaan slag, sien ek die parkeer kaartjie masjiene daar staan, en ek weet hier kom drama. Ons het mos nie ‘n kaartjie gekry nie. Ek weet daardie hek gaan nie oopmaak sonder ‘n kaartjie nie. Ons tik deur die opsies op die skerm en so kom ons tot die slotsom: $ 45 vir daardie uur se parkering. Nog ‘n les is geleer. Kry altyd ‘n kaartjie.

Ons voel so bietjie vasgedruk in die woonstel. Die park daar naby raak ons daaglikse heil. Dit gee ons so bietjie breathing room. My man stel voor dat ons die 15 kilometer aanpak na ons nuwe buurt toe. Ons moet dalk die area bietjie gaan verken. Op die koop toe, is daar ook net so ‘n wonderlike park. Die weer is nogal koel, so ons bly nie lank nie. So met die terugloop kar toe, vertel ek vir my man van Pete’s Frootique en dat ek baie graag soontoe wil gaan. Dis tog net om die hoek.


Met die intrapslag daar, weet ek, hier moet ek NIE wees nie. Sien, as ek nou een winkel met Woolworths kan vergelyk (minus die klere), dan is dit Pete’s. Woolworths was nog altyd my heel gunsteling winkel. By Pete's is daar vars blomme, vrugte in elke kleur en geur, klaargemaakte kosse, kase waarvan mens net kan droom, maar die kersie op die (Kanadese) koek: hulle het ‘n klein seleksie Suid Afrikaanse produkte! My hele gesig helder op toe ek die Ceres sap, Mrs. Balls blatjang, rooibos tee, Cadbury sjokolade en Heinz Salad Cream raakloop! Dit voel amper soos 'n vroëe Kersfees! Sente omdraai of te not; ek stap daar uit met iets wat smaak en ruik soos huis! Nog ‘n bietjie bekendheid in die vreemde!

Ons dwaal deur die relatiewe klein inkopiesentrum, en loop iets raak. Iets wat ons onmiddellik terugneem na ons eie kinderdae. En meteens herleef die droom wat ons aan ons kinders verkoop het. Daar is ‘n speletjies arena! Maar dis nie die moderne goed wat die kinders deesdae speel nie. Nee, dis Mario Bros., Donkey Kong, Pac Man en Sonic The Hedgehog (en nou gee ek sommer ook my ouderdom weg)! Ek weet nie wie is meer opgewonde nie; mamma, pappa of die kinders.


En so begin soek ek na die volgende avontuur vir ons om die 4 mure van die woonstel te ontsnap. Ek vind dit! Die Atlantiese RV en buitelug skou. En by daardie skou, tref die realiteit van COVID-19 ons.

189 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page