top of page
  • Anoniem

Ons is hier (deel 8)


Met ons terugkeer van die meer af, wag daar ‘n nuwe hoofstuk op ons. Ons was nog altyd gewoond aan ooptes en spasie. En hier trek ons in ‘n 2 slaapkamer woonstel in. Mamma, pappa en 3 kindertjies. Die woonstel is vreeslik mooi, maar wel bietjie te klein vir ons gesin. Dis darem net 3 weke maak ons onsself wys. Die ongerief sal net van korte duur wees. Ons wil soveel as moontlik van die provinsie en die stad sien voor die skool begin of een van ons begin werk. Ons sal nie eens agterkom dat ons nou in so ‘n klein plekkie bly nie - dis tog net vir slaapplek. Min wetend wat Maart maand gaan oplewer.


Met ons trek na die woonstel, raak ons van daai mense. Daai mense met te veel goed en te min spasie. Dis ongelooflik hoe baie goed ons weer aangeskaf het na ‘n maand in ons vorige huis. Dis potte, panne, ‘n koffie masjien en tasse met te veel klere. Wat maak ons met al die goed? Ons kry ‘n storage locker. Presies soos die wat jy op televisie sien. Dis gelukkig nie duur nie, en bied die beste opsie vir ons om ons goed iewers te kan stoor tot ons by ons nuwe huur huis kan intrek einde Maart. Ons hou elkeen net ‘n week se klere en 2 pare skoene uit. Al die res gaan na die stoorplek toe.

Die woonstel sit op die derde vloer van ‘n 8 vloer gebou. Die kinders is verby opgewonde, want skielik kan hulle hysbak ry. Elke dag! Waar ons vandaan kom, is dit ‘n skaars item. Dis iets wat gemaak is vir stede met baie mense, nie ‘n dorpie met plat huise nie. Ons probeer so bietjie ons voete vind in hierdie nuwe area van die stad. Dis veel meer stad as waar ons vroeër in Halifax gebly het. Die ligte hou jou saans uit die slaap uit en dis ‘n geraas van karre en vragmotors van vroeg tot laat. En ek kan noem dat ek net so bang is vir hoogtes as wat ek is vir slange (en spinnekoppe)!

Intussen is ons huis se verkoop finaal afgehandel. Dit het BAIE langer gevat as wat ons gedink het. Iewers langs die pad het die reëls van Namibië verander en kan ons nie ons fondse oorplaas van ons besigheidsrekening in Namibië na ons Kanadese rekening nie. Dit verg dat ons AL ons fondse moet oorbetaal in my skoonma se rekening om die transaksie namens ons te behartig vanaf Namibië.

Ons staan die Sondag op met moed en durf vir die dag. Ek besluit dis tyd vir so bietjie Sondag bederf en bak ‘n heerlike poeding vir na ete. My hart is altyd bly as ek meel, eiers en suiker kan meet en weeg en iets wonderlik kan optower. Nes ons daardie laaste happie poeding vat, lui my man se foon. Aan sy woorde oor die foon, kan ek hoor daar is groot fout. Ek weet nog nie wat nie, maar ek weet die volgende woorde wat hy aan my gaan sê gaan nie goeie nuus wees nie.

Terwyl ek wag dat hy klaar praat, kan ek sien hy raak tranerig. En ek weet. Ek weet iets vreeslik het gebeur. My man huil nie en ons is al deur baie sakke sout saam in ons 17 jaar van getroude lewe. Nadat hy die foon neersit, wag ek vir die woorde om te kom. Maar hy sê niks nie. Hy stuur vir my ‘n Whatsapp. Hy wil nie hê die kinders moet weet wat gebeur het nie. Nie nou nie.

Ek kyk na die boodskap op my skerm, en dit lees: ‘Marco is oorlede.’ Marco, sy oom (maar meer soos ‘n broer) se 9 jarige seuntjie. Marco wat almal om hom kom verras het met sy koms. Die seuntjie wat altyd gelag het en wat lief was vir alles wat die plaaslewe hom gebied het.

Nog voor ek behoorlik kan verwerk wat ek pas gelees het, is my man uit by die deur. Iewers heen. Tussen trane deur, met ongekamde hare en veels te dun klere vir die winterkoue, plak ek die sonbril op my oë en gryp my eie kinders aan die hand om my man alleen tyd te gun. Met ons aankoms, het ek op die kaart gesien daar is ‘n park naby. Vandag stap ons park toe.


Die pad na die park toe verg dat ons ‘n baie steil bult moet klim. So halfpad boontoe, besef ek dis veel steiler as wat ek gedink het en kies ‘n afdraai pad. Ons vind ‘n stel trappe in die middel van die buurt. En wonder bo wonder, vat daardie trappe ons reguit na daardie park toe. Fort Needham Memorial Park. Wat ek toe nog nie geweet het nie: die park is gebou as herdenking van die Halifax ontploffing. En in daardie park staan ‘n gedenkplaat. Ek staan stil en lees dit ‘n paar keer en huil sommer bietjie harder agter my sonbril.

Na ‘n uur van hol en jol vir die kinders, ek wat bibber en bewe en die trane nie kan keer nie, wil ek terug loop huis toe. Af met die trappe en uit op die straat, besef ek dat ek nooit deur die gehuilery opgelet het watter afdraai pad ek geloop het nie. Ek het geen, maar geen rigting nie. My links is regs en andersom. En hier staan ek, in ‘n wildvreemde stad, met kindertjies langs my en ek weet geensins waar ek is nie. Ek begin huil sommer weer van vooraf. Dankie tog vir 8 vloer geboue! Ek kan die gebou sien, en weet net ons moet stap. Ons sal by die woonstel kom.

Na, wat voel soos ‘n marathon, kom ons weer by die woonstel uit. Dis ‘n droewige Sondag. Een wat ons altyd sal by bly. Ons praat nie veel nie. My man se hart trek met ‘n punt Namibië toe. Hy sê vir my prontuit: “ek sal veel eerder nou op die plaas wil wees, by my familie, as hier in die vreemde”. Jy kan jouself vir baie dinge voorberei in die lewe, maar hierdie is nie een van daardie situasies nie. En my hart krimp so bietjie ineen. Ek is die vrou wat hierdie hele immigrasie proses gedryf het. Van die begin af. Met ondersteuning van my man, natuurlik. Maar in my wese voel ek so bietjie skuldig dat ons nou 12,000 km weg is van familie af.

Die volgende oggend kry hy weer ‘n oproep. En ek kan hoor; hier kom dit! Dis nogmaals slegte nuus. Sy ma was in ‘n ernstige motor ongeluk. Haar kar is afgeskryf. Sy is in die hospitaal. Sy was op pad bank toe om ons fondse oor te plaas Kanada toe.

En hier sit ons. In ‘n vreemde land, ons harte stukkend, ons geld (in Kanada) al hoe nader aan uitloop en naby aan moedverloor.


149 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page