top of page
Anoniem

Ons is hier (deel 7)

Updated: Aug 4, 2020


Iewers langs die pad het ek gestop met die Ons is hier stories, want dis somer! Die weer is ongelooflik lekker, eintlik vrek warm, en ek wil net buite wees en elke sonstraal op slurp!

Maar, ons lewe het aangegaan van waar ek laas gestop het. Dit was na ons ekskursie na Peggy’s Cove. Daarna het ons die Museum of Natural History besoek. Nog voor ons in Kanada geland het, het ek al begin navorsing doen oor die uitstalling. Dis het my vreeslik fassineer. Dit het ook my hart bitter bly gemaak om te weet ons kan vir ons kinders (en vir myself) ‘n bietjie van die wêreld se geskiedenis wys. Ek sal ‘n paar foto’s hier plaas. Weens COVID moes hulle die uitstalling stop. Gelukkig is die uitstalling verleng na November toe (ek dink amper so).


Ons verblyf in ons eerste huis kom tot ‘n einde. Ons het oorspronklik geboek vir net 2 weke, maar 2 weke is eintlik veels te kort. Ek het dit verleng met nog 2 weke, want om ‘n huis te kry hier, met 3 slaapkamers, is nogal ‘n tameletjie. Daar is nie honderde om van te kies en keur nie. Gelukkig is die eienaar van die huis baie oulik en bied sy ander woonstel vir ons aan om in te bly tot ons ‘n huis kry (nie verniet nie. Dis nog ‘n VRBO eenheid). Ek vind wel ‘n huis te huur op Kijiji en ons gaan kyk daarna (dis ook waar ons nou bly), maar die huis is eers einde Maart beskikbaar.

Intussen, op Whatsapp, sê ‘n vriendin sy mis die see. En ewe skielik kry ek ook sommer so bietjie see heimwee. Want hier bly ons langs die oos kus, maar het nog geen stukkie see gesien nie. Behalwe nou vir Peggy’s Cove. Maar ek soek die see. Die see waar die branders raas, jou vel taai voel en jy die sout in die lug kan ruik. Sy noem Lawrencetown. En ek besluit sommer ook net daar en dan om ‘n plekkie daar te soek vir ‘n mini see vakansie voor ons na die woonstel trek. Dis nog steeds winter en bitter koud, dalk nie die beste idee of tyd vir ‘n see vakansie nie. Maar ek is ‘n vrou wat van durf en moed aanmekaar gesit is.

Moet asseblief nie dat die naam Lawrencetown jou mislei nie. Dis geen stad nie. Dis ‘n klein nedersetting met ‘n paar huise en ‘n restaurant. Maar daar is die see. Die see soos ons dit ken. Met klotsende branders. My hart slaan sommer bollemakiesie van blydskap net om daardie geluid weer te hoor!

Ons staan op ‘n steil bult, en kan net die see sien en hoor, maar natuurlik wil ek die see ruik en voel. Dis tog die doel van die hele rondloop sessie. Ek sê vir my man ons moet verder ry, tot iewers waar ek die see kan ruik en kan voel. En so ry ons in elke denkbare rigting, tot ek uiteindelik ‘n bruggie sien waaroor jy kan loop. Met die uitklim slag, hoor ek al die see. En nes jy oor die bruggie klim, sien jy die see. Maar dis geensins wat ek gedink het nie. Die hele ‘strand’ is besaai met swart klippe. Daar is amper nie eens ‘n druppel sand nie. En dit sal nie deug nie.

My soeke op my foon sê Conrad’s Beach is net die plek. Dis koud en die wind waai, maar die weskus kind in my wil net ‘n stukkie ‘huis’ in die vreemde beleef. By Conrad’s Beach wag daar ‘n elle lange wandelpaadjie deur moerasse. En ek begin wonder of dit die regte plek kan wees. Maar ek stap. En net so teen die einde van die paadjie sien ek dit: sand! See sand! See sand soos ons Namibiërs die strande van Langstrand ken. En net so oor ‘n klein bultjie, doem die see op voor my.



Op daardie oomblik gaan staan ek net stil en drink elke oomblik in. Die geluid van die see, die gevoel van die sand in my hande, die yskoue see water en die onmiskenbare reuk van die see. En onmiddellik verlang ek ewe skielik ‘huis’ toe. Die gevoel duur dalk net 10 sekondes. Maar in daardie oomblik voel ek ewe skielik ‘n gewaarwording van ‘hierdie is nou my huis’ oor my spoel. Op daardie oomblik, alleen op die strand en eintlik half tranerig, weet ek, ek het nog heeltyd gesoek na ‘n bietjie bekendheid in die vreemde. En hier vind ek dit. Op Conrad’s Beach in Nova Scotia. Dit voel soos huis, dit ruik soos huis, dit lyk soos huis, hierdie IS nou ons huis. Hier (die oos kus) is waar ek welkom en tuis voel. Dis alles en nog meer wat eens my huis was. Dis net nou in ‘n land met ‘n ander naam. Die onstuimigheid in my hart raak sommer heeltemal stil.


Ons bly in ‘n baie oulike huisie langs ‘n meer vir ‘n paar dae. Die kinders geniet hulself gate uit. Die meer is nog meestal gevries, maar plek plek is daar water. Hulle is mal daaroor om met die kano’s op die water te baljaar. Koud of nie. Hulle begin soggens vroeg roei en stoei, en elk dan en wan kom soek hulle gou iets om aan te kou. Ons ry ook heelwat rond en verken die area. In die drank winkel vind ons die SA wyn seksie sowel as die befaamde Ice Wine (perfek vir koue weer)!


Iewers op Facebook het ek ‘n plasing gesien oor snaakse straat name, en dis presies hier waar ek dit vind: This Street, That Street en The Other Street!


En voor ons ons kom kry, is die tydjie by die meer verby en trek ons in ‘n woonstel in op die derde vloer van ‘n 8 vloer gebou.

En dis ‘n storie vir ‘n volgende keer.

150 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page