Ek wens ons volgende paar dae was so opwindend soos hierdie eerste rukkie se mengelmoes van ervaringe! Stelselmatig raak mens alles gewoond en jy leer later watter paaie lei jou huis toe.
Nog iets op ons admin lysie, was bank rekeninge. Hier is ‘n magdom banke in Kanada! Dis nie soos Namibië waar jy eintlik maar net 4 het om van te kies nie. Ons het nie veel navorsing oor banke gedoen nie. In dieselfde kompleks waar Sobeys is, is ‘n RBC. So ons reken ons gaan sommer net soontoe gaan. Ons ken mos nou die pad daarnatoe! Die video hier onder
wys nogal mooi hoe die dag gelyk het: koud en grou!
Ek kan net sê, banke lyk en werk heeltemal anders hier. Eerstens, jy daag nie net op en maak ‘n bankrekening oop nie. Nee, o nee. Jy maak ‘n afspraak. En dit mag dalk ook nie op dieselfde dag wees nie. Ons moes 2 dae wag en dit het 3 afsprake geneem om aansoek te doen vir lopende rekeninge, krediet kaarte, spaar rekening en 3 x rekeninge vir die kinders. Tweedens, jy sal geen sekuriteit wag voor die deur sien nie. Derdens, as jy die bank in stap, is daar geen tellers nie. Jy mag dalk dink ek jok, maar ek doen nie. Daar is GEEN mense agter glas beskermde hokkies nie. Wat daar is, is ‘n paar tafels met konsultante wat staan en wag om jou te help. As jy ‘n afspraak gereël het met ‘n persoonlike adviseur is daar ‘n spesifiek wag area waar jy kan wag. Ek kan ook beaam dat hulle koffie en hot chocolate vir ons aangedra het terwyl ons gewag het. Sonder enige krediet rekord of ‘n sent in ons Kanadese bank rekening, stop hulle vir my en my wederhelfte elkeen ‘n $ 2,000 krediet kaart in die hand (nie eintlik nie, ons moes dit ‘n paar dae later gaan optel). Elke kind kry ook ‘n $ 25 bonus in hulle bank rekening. Buite die bank sit ook nog ‘n nuwigheid – die drive thru ATM. Al wat ons ooit geken het is die KFC drive thru wat ook meer toe as oop was. Terwyl ons by die konsultant staan, begin val die sneeu buite. Ons is vasgevang in die magic van die sneeuvlokkies wat val.
Amper aangrensend aan die bank is ‘n Lindt winkel (en net reg langsaan sit ‘n Weight Watchers. Ek weet nie wie se sin vir humor dit was nie. Die foto is op Ongiini se Facebook blad). My man vra of ons nie by die Lindt winkel moet inloer nie. Ek protesteer eers – want o jitte, ek is bitter lief vir sjokolade (dalk so bietjie liewer vir katte). Maar ek gee bes, en liewe genade, dis elke sjokolade liefhebber se droom. Daar is kleure en geure wat ek nog nooit gesien of geproe het nie. Ons verlaat die winkel met ‘n sakkie vol Lindt truffels. Daar is geen manier dat ek daar sou uitstap sonder iets in my hand nie.
Teen die middag lê daar ‘n redelike lagie sneeu en hierdie Afrika kindertjies wil net een ding doen – sneeuman bou! Dit tel natuurlik in ons guns dat dit fluffy sneeu is. Mens leer later dat nie alle sneeu ewe goed sneeumanne bou nie. Hulle is heel in hulle skik met hulle maaksel. Dis geen Olaf (van Frozen) nie, maar dis hulle heel eerste en beste probeerslag.
Op hierdie koue en grou dag, vertel ek ook vir my man van ‘n eg Kanadese dis: poutine. Wat is dit? Dit is fries (nie slap tjips nie), met gravy & cheese curds. Om darem so bietjie Kanadees te voel, bestel ek ook sommer van dit om te kan proe of dit darem die moeite werd is. Ek wens ek kan sê ek het daarvan gehou, maar ek het nie. Vir my is daar net een manier van tjips eet: met sout en asyn, toegedraai in papier. En ek begin wonder of ek gaan inpas in hierdie nuwe land en kultuur.
Die huise in Kanada is verhit. Maak nie saak hoe koud dit buite is nie, jou huis sal altyd warm wees (tensy die krag af is). Met hierdie sentrale verhitting van hulle, droog jou vel ook baie vinnig uit. Lyfroom raak sommer gou jou beste maat! Maar ek het nie ingepak nie. Dankie tog vir eerste wêreld lande en toeps (apps) wat jou lewe makliker maak. Ek leer sommer gou van Instacart. Jy kliek op die winkel waarvandaan jy wil bestel, kies wat jy soek, betaal daarvoor en hulle kom laai dit voor jou deur af.
Met al die sneeu wat die vorige dag geval het, mik ek vir ‘n uitstappie na die Emera Oval. Jy kan daar gaan ysskaats. Dit vat bietjie oorreding om pappa sover te kry, maar met groepsdruk van mamma en die kinders, stem hy later in. As jy so aangery kom, sien jy net mense oral. En (amper) almal skaats. Die meisiekinders is kinderlik opgewonde! Hulle kan nie wag nie. Jy kry die skaatse verniet, jy moet net jou ID of lisensie in gee. Jy kry dit weer terug as jy die skaatse kom teruggee.
Eerstens vra die man, watter skoen grootte soek ons. En daar staan ons en wonder. Watter skoen grootte sal ons in Kanada dra? Hier werk die groottes anders. Na ‘n yslike meet en pas het beide meisies hulle skaatse aan en is reg vir die storie. Mamma, pappa en boeta sit maar uit vir die rondte. Daar staan sulke rooi plastiek goeters wat moet help vir die beginners (ek weet nie wat die regte naam is nie). Dit lyk amper soos ‘n loop raam, maar dit gly so oor die ys en maak dit dalk makliker om te kan skaats. Die twee meisies kom gou agter dat nie alles altyd so maklik is as wat dit lyk nie. Ysskaats is nie maklik nie! Intussen het die weer gedraai en die van ons wat nie skaats nie, staan en bibber en bewe buite die ring. Die weer was heel lekker by die huis en ons is net daar uit met gewone winterklere. Maar beide sussies wil een keer om die ring gaan. Een sussie is suksesvol, die ander een help ons maar af. Al wat ons nou wil hê is iets warm!
Oornag val daar ‘n yslike klomp sneeu. Die meeste wat ons nog gesien het. Om ons verander die wêreld ewe skielik in ‘n winter wonderland. Dit is so, so mooi! Alles is gehul in spierwit onskuld. Ons staan en vergaap ons ook aan hoe vinnig en effektief die paaie en sypaadjies skoongemaak word na die sneeu. Oral is ploeë besig om die sneeu weg te stoot en sout te gooi. En dis daar waar jy eerste besef: dinge werk net hier.
En môre, môre besoek ons ons eerste museum.
Comments