En so breek ons eerste naweek in Halifax aan. Bo en behalwe die verjaarsdag viering, het ek ook ‘n krieweling vir bietjie rondloop en verken.
Eerste op ons lysie vir die naweek is die Halifax Seaport Farmers Market. Ek het hulle al vir maande op Facebook gevolg, en my hele hart verlang om so tussen die stalletjies rond te dwaal en al die vars groente en gebak te aanskou. Dis ‘n yslike ent se ry van ons tydelike huis af. Jy vleg so half deur die stad en dit gee ons sommer ook ‘n blik van die ou geboue in Halifax. My mond hang oop. Dis so mooi!
Dis ‘n redelike koue -9 C op die Saterdag oggend. Sommer met die intrap slag voel ek tuis! Ons gewaar ‘n Griekse stalletjie en besluit om sommer daar iets te ete te kry. Hulle adverteer sulke asemrowende wafels en die kinders wil net wafels eet. Ons laat begaan hulle maar – mens is mos net een keer ‘n kind.
Ons vind ons plek by een van die klomp tafels en stoele wat gereed staan en wag. Ons kry ook net ons sit en toe begroet ‘n yslike geraas ons. Die brand alarm! Dit skree vir ‘n vale.
Ons Namibiërs sit en eet en drink rustig voort. Min gespin. Daar word nooit ‘n groot storie van alarms gemaak nie – dis tog deel van ons alledaagse lewe. Binne minute is die plek amper leeg en daar sit ons. Een van die vele personeel lede kom vra ons om tog groot asseblief NOU die gebou te verlaat. Dan maak ons maar so. Daar staan ons in die ysige koue. Binne enkele minute staan die brandweer voor die deur. Hulle moet eers kom inspekteer hoekom die alarm af gegaan het. Na 15 yskoue minute mag ons almal darem weer die gebou betree. My mond hang oop oor die absolute doeltreffendheid van die brandweer! Nog iets wat ons nie ken nie!

Die Sondag oggend skyn die son te lekker en my Afrika hart vertel vir my dis warm genoeg buite. Ons het mos nou snow boots, winter baadjies en handskoene; ons is gepantser teen die koue. Dit het die vorige dag gereën en daarna weer gesneeu. Tog te lekker vir ons woestyn kinders. Maar waarmee ons moes rekening hou – die reën maak so ‘n ys sludge (dink aan die Slush Puppy van jou jeug) en as dit dan weer koud genoeg word, vries daardie sludge as ‘n soliede ys laag (dink aan ‘n ysskaats baan). Gegewe dit kom sneeu weer net daarna, sien jy nie die ys laag raak nie.
Maar my wanderlust vertel vir my ons moet vandag na ‘n ‘strand’ toe gaan. Ek moet eenvoudig sien hoe lyk die Kanadese strande. Ek het mos darem groot geword in ‘n kus dorpie. Die see sal seker altyd vir my ‘n aantrekking krag hou. Ek kan wel noem, in Kanada is enige stukkie sand langs ‘n stukkie water ‘n strand. Ek tik ‘beach’ in op Apple Maps en kies Chocolate Lake Beach.
Eers ry ons geheel en al verby. Daar is net ‘n piepklein parkeer plek aan die oorkant van die besige pad. Ry nog eers weer ‘n ent aan, draai om en kom terug om te parkeer (alhoewel dit amper daagliks gebeur). Ons piekel oor die baie besige pad. Kinderlik opgewonde om te sien hoe lyk die strand. Ek is nie seker wat ek verwag het nie. Dat die meer gevries sou wees, is voor die hand liggend. Maar ek dink ek het darem ‘n stukkie sand strand ook verwag.
Nee, o nee. Dis massas sneeu. En natuurlik daardie lieflike yslaag onder die sneeu. Ons het al ‘n redelike stukkie gevorder, so van omdraai is daar nou nie meer sprake nie. Ons leer gou die penguin walk. Jy skuifel skuifel vorentoe soos ‘n pikkewyn. Jy durf nie jou voete optel nie. Ek kan julle belowe, rugby toks is ‘n baie beter opsie as snow boots.
Iewers langs die pad verloor ek die ritme van die pikkewyn stappie en ploeg neer op moeder aarde. Dis ‘n gevoel soos min. Jy besef amper nie eens dat jy nou gaan val nie. Jou voete gee pad eenvoudig net. En dan sit jy daar; op koue ys, met nat klere en voel so bietjie jammer vir jouself. Maar nie vir lank nie. Ek het vreeslik gelag vir myself. En net so het die res van die familie ook gelag vir my.
Ons weet net een ding, dit het kouer geraak vanaf ons daar aangekom het. Nie in temperatuur nie, maar die wind het opgesteek. Jy leer gou om nie jouself vas te staar in temperature nie. Kyk eerder na die real feel lesing op jou foon. Ons weet ook nou, jy maak nie staat op jou eie vermoëns om regop te bly nie. Ek loop van die een tak na die volgende en hou vas vir lewe en dood. Die kinders gryp almal stokke as hulp middel. Net een (minder) wyse man stap hande in die sakke daar rond. En net so voor ons by die besige pad kom op pad kar toe, toe glip daardie wyse man se voete mos ook onder hom uit! En dit was ook ons laaste besoek aan ‘n strand vir die res van die winter!
PS: Ons het ook gehoor dat iemand by die mark boerewors verkoop. Ons soek nou nog na daardie boerewors!
תגובות