top of page
  • Anoniem

Ons is hier (deel 4)


Na al ons verdwaal sessies en my man wat amper verdwyn (en nog ‘n keer in die storie), weet ons een ding: ons moet ons selfone en SIM kaarte uitsorteer! Op die lysie wag ook ons SIN nommers (belasting nommers vir Namibiërs).

Heel eerste op ons lysie is ons SIN nommers. Jou SIN nommer is sommer baie belangrik hier (en jy moet dit bewaar soos goud). Ons vind ons pad na Services Canada. Dit is iewers in die stad en ons is sommer al klaar half nie lus nie. As jy ooit met die Ministerie van Finansies in Namibië te doen gehad het, gaan jy weet dis nie ‘n prettige ondervinding nie. Ons het glad nie hierna uitgesien nie. Maar dis iets wat gedoen MOET word – lekker of nie.

Die gebou is redelik groot en is onder konstruksie. Ons strompel daar in uit die ysige koue. Dankbaar vir die hitte in die gebou. Daar is ‘n rits hysbakke en die bordjie wys op watter vloer ons moet wees. Voor ons staan mense en hulle het klaar die knoppie gedruk. Ek en die kinders spring gou in saam met die mense en daar gaan die deur toe. Baie vinniger as wat ons verwag het. En daar staan my man - buite die hysbak. Mooi man! Ons kom tot bo en ek besluit ons staan en wag sommer daar voor die hysbak vir hom. Nou ja, 15 minute gaan verby, en hy kom nie uit nie. Ek besluit ek gaan al die kindertjies vat en maar weer terug piekel af ondertoe, hy wag seker daar vir ons. Ons kom onder en al wat ek kry, is ‘n groot leë en koue voorportaal. Geen mens (of man) in sig nie. Weet jy, hoekom die wese ook nie net kon wag nie, weet ek nie. Daar staan ons; wat nou? Waar begin soek ek? Die selfone werk nog steeds nie. Ek kan hom nie eens bel nie.

Wel, dan maak ons maar ‘n plan. So klim ons terug in die hysbak – moerige mamma en die kindertjies. So stop ons op elke vloer en kyk of ons die wederhelfte kan sien. Geen mens (of man) op enige vloer nie. Ons kom uiteindelik weer op die 8ste vloer waar ons moet wees. En so per toeval, gaan beide hysbakke se deure op dieselfde tyd oop en klim ons uit een hysbak en pappa uit die ander een. Ek kan net sê dit was ‘n blye hereniging.

Die Services Canada kantore is so skoon en alles is super georganiseerd. Jy kry jou nommer in die ry, hulle roep jou nommer en binne 10 minute is jy kant en klaar geregistreer. Die kinders wil gou die toilette (washrooms asb.) gebruik voor ons die gebou verlaat. My mond hang so bietjie oop dat ‘n regering instansie se badkamers so netjies en skoon is. Beslis nog iets wat ons nie in ons vorige lewe geken het nie.

Na al die gesukkel is dit duidelik dat ons nie ons fone kan registreer met ons Namibiese bank kaarte nie. Ons volgende stop is Walmart. Daar is ‘n redelike groot tech afdeling. Die personeel is gelukkig baie behulpsaam. Hulle verduidelik hoe vooruitbetaalde pakkette hier werk en dis glad nie dieselfde as in Namibië nie. Daar het ons ‘n nommer gekoop en elke week het jy ‘n sekere bedrag gelaai op jou kaart en jou pakket vir die week gekies. Hier neem jy ‘n vooruitbetaalde kontrak uit. So jy betaal elke maand ‘n sekere bedrag vir ‘n sekere hoeveelheid minute en internet toegang. Geensins soos ons dit ken nie.

En hier, in Walmart, beleef ons die eerste geval (van vele) waarlik Kanadese gasvryheid. Ons het nog nie Kanadese bank kaarte nie en betaal alles kontant. Die vriendelike meisie wat ons help, gee vir my die som totaal wat ek moet betaal ($ 80.25). Met net ‘n klomp note in my hand, vra sy vir my of ek kleingeld het. Ek sê nee, want vir ons is kleingeld eintlik maar waardeloos. Ons los dit sommer altyd by die huis. En daar haal sy haar beursie uit en sit die 25 sent by. Ek protesteer iets ysliks! Ek weet ‘n kassiere kan sekerlik nie ‘n baie groot salaris verdien nie. En sy weier; sy betaal daardie 25 sent. Stomgeslaan beskryf nie eens my gevoel en gemoed op daardie stadium nie. (Op dieselfde trant wil ek net noem, kleingeld is wel iets werd hier. Met $ 1 kan jy iets koop – soos ‘n slab chocolate by Walmart!)

Ons besluit om sommer so bietjie inkopies by Walmart te doen. Ons vergaap ons aan die Suid Afrikaanse druiwe wat net $ 2.97 kos (let wel dis per pond en nie kg nie. Dis 'n baie slim sales gimmick hier). Mens sou reken dit moet baie duurder wees. Die Nutella kos net $ 3.97 per 725 g bottel (vergeleke met N$ 65 by Pick n Pay vir 350g). Natuurlik beland daar sommer 2 bottels in ons mandjie! Die kinders gewaar die grootmaat lekkergoed seksie en staan daar en staar ons aan met sulke groot ogies. Hier werk dit ook bietjie anders. In Namibië pak jy alles in ‘n sakkie en hulle weeg en sit die prys op by die skaal sommer daar by die seksie waar jy is (soos wanneer jy los uie of aartappels koop). Hier sit jy alles in jou sakkie, vind ‘n potlood en papier etikette bo-op die betrokke kas. Elke afskorting het sy eie nommer op. Jy maak jou sakkie toe met die etiket en skryf die nommer op. Dit word geweeg en geprys by die kasregister. (Sommer 'n paar ander goed se pryse ook, vir almal wat altyd wonder wat goed kos).



Met dankbare harte stap ons by Walmart uit met selfone wat einde ten laaste werk. Geen meer sukkel om mekaar in die hande te kry nie, Apple Maps werk te alle tye en ons kan darem iemand bel as ons in die moeilikheid beland.

Ons het op 4 Februarie in Halifax geland. Dit was koud ten spyte van die son wat skyn. Ons het redelik vinnig besef dat ons Namibiese winter klere nie gemaak is vir die Groot Wit Noorde se winters nie. Jy kan maar 3 truie aantrek, jy kry koud! Jou skoene is nie waterdig nie, en raak nat as jy deur die sneeu ploeg winkel toe en kar toe. Sonder handskoene is jou hande semi permanent yskoud. (Op die foto's hieronder is die bome se takke gehul in ys. Die ander foto is van Sobeys se parkeer area).



Omdat ons net die stert kant van winter beleef het, wou ons nie ‘n klomp nuwe winter klere koop nie. Kinders groei mos oornag uit hulle klere uit. So vind ons ons pad na Value Village toe. Ek weet thrifting het eers onlangs ‘n ding geraak in Namibië. Dis blykbaar al lankal ‘n ding hier. As jy daar instap is dit rakke en rakke en rakke vol tweedehandse klere, skoene, kombuis toestelle, breekgoed en speelgoed. Dis ongelooflik om te sien. Jy moet maar jou eie oordeel gebruik en besluit of jy daar gaan koop. Sommige klere is in ‘n goeie toestand, ander is weer redelik gehawend. Ons het wel vir ons skoene en ‘n paar winter baadjies daar gekry waarvan die oorspronklike pryse nog op was (of die item nog redelik nuut gelyk het). Dit het voorwaar ons gered van ‘n gewisse verkluiming.



Dit was ook ons eerste naweek in Kanada en saam met dit ook ons eerste verjaarsdag viering! Dis my wederhelfte se verjaarsdag! Dis ysig koud maar ons weet net een ding – ons gaan braai! Nou nie braai soos ons dit eens geken het nie. Daar is geen hout betrokke nie. Net ‘n gas braai. Maar ‘n vleisie gaan ons ‘braai’.

Ons piekel na ons plaaslike Sobeys toe om iets lekker te kry vir die nuwerwetse manier van braai. Baie oningelig oor pryse, koop ons sommer ook die eerste en beste stuk steak wat ons sien. Moet asb. nie verstik in jou koffie (tee of bier) as jy die prys op die foto sien nie! Ja, ons het N$ 280 vir steak betaal! Met tyd het ons wel slimmer geraak en nog nie weer so baie betaal nie.



152 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page