Ek gaan darem nou nie oor elke dag skryf van ons nuwe land en reis nie, maar hierdie eerste paar dae was nogal interessant! Ek dink ons het gedink dit gaan baie makliker wees. ‘n Trek, is ‘n trek is ‘n trek. Moet nooit die trek na ‘n ander land toe onderskat nie!
Aangesien ons die vorige dag ons pad Sobeys toe gevind het, en weer relatief maklik die huis gevind het, daal daar ‘n vals vertroue van rigting op ons neer. Meer hieroor bietjie later.
In elk geval, die kindertjies raak wakker en is kinderlik opgewonde – hulle wil gaan speel in die sneeu wat oral om die huis is (alhoewel ek dink selfs ons as volwassenes is opgewonde). Ons laat begaan hulle maar! Maar dis koud! Bitterlik koud! Ons bly net ‘n paar minute buite en dan soek ons weer bietjie hitte in die huis.
My man weet wat maak sy vrou se hart gelukkig – inkopies! Met die hulp van Apple Maps vind ons ons pad na die Halifax Shopping Centre toe. Ons het nie iets nodig nie, maar wil darem so bietjie rondloop en verken. Malls lyk ook anders hier. Dis nie soos ons dit ken nie. Daar is winkel op winkel – dis dieselfde. Maar daar is geen kruideniersware winkel in die mall nie (iewers naby is ‘n Sobeys vind ons later uit, lees net verder). Buite die mall, in ‘n ander parkeer area, is wel ‘n Walmart.
Na so bietjie wandel in die mall, sê die kinders hulle is honger (hulle is tog altyd honger). In die mall is ‘n yslike, skoon ‘food court’. Nog iets wat ons nie ken uit ons vorige (Namibiese) lewe nie. Dis vol van elke denkbare kitskos restaurant waaraan jy kan dink: Tim Hortons, Subway, Dairy Queen, A & W, McDonald’s en natuurlik iets wat ons ken: KFC. Ons besluit om eerder te hou by wat ons ken. KFC sal dit wees.
As ek hierdie storie oorvertel, vra mense my altyd wat het jy dan bestel. Sien, ek het 3 x burger combo’s bestel (snack burgers soos ons dit ken), en 2 x strips en chips. Die totaal: $ 56. En dis Canadian Dollar daardie. So dink daaraan as N$ 560. Het jy al ooit in jou lewe sulke duur KFC geëet? Ek het beslis nog nooit nie! Teen daardie prys verwag ‘n mens eintlik goue stof op jou burger! Ek kan eerlikwaar sê daar was niks so buitensporig aan die burger nie.
Die duur maaltyd ten spyte, is ons dankbaar vir die free wi-fi. Ons kon nog nie die SIM kaart storie uitsorteer nie. So ons is konstant besig met wi-fi hopping: ry van die een plek na die volgende net om wi-fi te kry (en Apple Maps aan die gang te hou).
My man sê vir my ons sal maar ‘n GPS moet koop. Iewers gaan ons in groot moeilikheid beland as ons nie wi-fi kry nie en ons verdwaal weer. So gesê en so gedaan. Dis op ons lysie vir die volgende dag.
Vroegerig pak ons die pad aan na die naaste Canadian Tire. Sonder voorval. Ons het natuurlik ‘n baie duur, lieflike GPS in Walvisbaai gehad, maar die het in die vraghouer beland en nie in ons bagasie nie. Ons kies die goedkoopste een op die rak. Solank ons darem net ‘n vorm van rigting kan kry wat nie internet nodig het nie. Terwyl ons staan by die kasregister, vang my oog die deur. Dit het begin sneeu! Kyk, nou is ons eers in ons noppies! Ons sien hoe die sneeu neer val. Dit hou nie lank nie, maar dis soos magic vir ons!
Ons vind ons pad maklik genoeg terug huis toe. Dankie tog vir die GPS. Teen 16:30 die aand sê my werderhelfte hy gaan gou na die kompleks toe ry hier om die draai, hy wil gou bier gaan koop (alles is mos vreemd en nuut en moet nou geproe word). Ek is nie lus vir saam ry nie en gaan eerder maar kos maak. Los hom maar oor aan die genade van die GPS. Hy sal ok wees.
Onthou ek het gesê ons het ewe skielik ‘n vals vertroue in ons rigting gekry! Ek het nog nooit rigting gehad nie – my links was nog altyd regs en andersom. My man, aan die anderkant, plaaskind en boer van baie jare, het baie goeie rigting. Hy weet gewoonlik waar ons is en waarnatoe ons moet gaan. Hy ken Noord van Suid. So ek het baie vertroue in sy vermoë om terug by die huis te kom.
Ek staan en maak kos en let nie regtig op na die tyd wat verby tik nie. Na ‘n uur begin wonder ek wat vat so lank. Maar ag wat, dalk het hy iets interessant op sy pad gesien en gou gestop. Ek is nog nie bekommerd nie. Die uur raak later 2 ure. En toe begin ek paniekbevange raak. Die winkel is net 10 minute weg en ons fone werk nogsteeds nie. Hy kan my nie in die hande kry nie en ek kan nie bel en vra waar hy is nie (en Find My iPhone het ook internet nodig. So ek kan hom nie eens so opspoor nie). Na 2 en ‘n half ure oorweeg ek om die polisie te bel. Dis ‘n radelose oomblik. Wat doen ek? Wat as hy nou in ‘n ongeluk was? Hoe gaan hulle my in die hande kry? Wat gaan ek doen in ‘n vreemde land met 3 kindertjies? Na 3 ure is ek minute weg van die hospitale begin bel. En so voor my vinger die knoppies kan druk en ek al amper histeries en na aan trane is, stop hy voor die deur. Bier in die hand (of altans sak).
Sien, soos ek voorheen gesê het, Sobeys sit naby aan die betrokke winkel waarnatoe hy wou gaan. So toe hy in die kar klim, druk hy net Sobeys in op die GPS en daar gaan hy. Maar die Sobeys wat hy kies op die GPS, is die Sobeys by die mall (waarvan ons nog nie geweet het nie)! En toe hy dit agter kom, toe is die koeël deur die kerk en hy sit in spitsverkeer vas!
Nog ‘n les is geleer! Jy vat altyd jou co-pilot (of altans vrou) saam! Al skree sy soms dat jy aan die verkeerde kant van die pad ry (al doen jy nie)!
En volgende, volgende is môre se stories!
Comments