top of page
  • Anoniem

Ons is hier (deel 2)

Updated: Jul 17, 2020


En so kom ons by die huis! Ons klim daar uit met ‘n diepe dankbaarheid dat ons dit gemaak het!

Daar voor die deur staan ons eerste aanlyn inkopie aflewering (behalwe nou vir die booster seats): Hello Fresh! Dis ‘n wonderlike diens en het al ons kos vir die week in (ek sal onderaan verduidelik). Ek is net so dankbaar dat ek in ‘n oomblik van wysheid gebruik gemaak het van die diens. Maar die kos hierin is net vir aandete (of middagete). Die Afrika kindertjies se gemoed is bly – daar is sneeu om in te speel. Dit het skaars gereën waar ons eens gebly het, so sneeu is soos die beste van die beste. Maar ons moet ‘n winkel gaan soek eerder as om in die sneeu te speel.

Dankie tog vir wi-fi by die huis om te begin soek. En nog meer dankbaarheid vir maters wat name van winkels gedeel het. Ek weet ek moet soek vir die naaste Sobeys (dis soos Spar).

Met moeë lywe en ‘n wankelrige vertroue in Apple Maps, pak ons die volgende ‘avontuur’ aan. Ons moet vir Sobeys vind. Genadiglik is die pad soontoe nie moeilik nie. Ek gil en skree ‘n paar keer op my man, want hy ry aan die verkeerde kant van die pad (hy doen nie). En natuurlik mag jy hier regs draai al is die verkeerslig rooi (robot vir ons Namibiërs. En natuurlik net as daar nie aankomende verkeer is nie).

Ek kan ook net noem: dis winter en dis bitterlik koud. Jou Namibiese winter klere hou jou nie hier warm nie.

Ons stop in die parkeer area en betree ons ‘nuwe Spar’. Dis oorweldigend. Niks, maar niks lyk bekend nie. Daar is nie iets soos volroom melk nie – nee, o nee. Dis 1%, 2% en 3.25%. Daar is amandel, soja, rys, bok en oat melk. Sjokolade melk is blykbaar ook ‘n groot ding hier.

In my dag des lewens het ek ook nog nooit soveel verskillende tipe brood gesien nie. Dis iets van alles onder die son – bagels, wraps, tortillas, kaas brood, aartappel brood, wit brood, bruin brood, New Foundland brood, volkoring brood, saad brood en naan brood. Julle kry die boodskap – dis rak op rak met net brood. (Ons het amper alles probeer, maar niks kom by Artisan Bread Builders se brood wat ons ken nie).

Om botter raak te loop kos bietjie rondkyk en krap. Mensig, die winkels is gek oor margarien. Dit staan ook die rakke vol. Ek het nog nooit ‘n liefde daarvoor gehad nie. Ons spoor later die gesoute botter op en besluit daarop (fout! Gesoute botter is GESOUT hier!)

In al ons soeke kry ons darem een bekende item. Rice Krispies. En tot my en die kinders se groot vreugde, is dit die tipe soos ons dit altyd geken het. Daardie wat ‘snap, crackle and pop’. Nie die tipe wat vrygestel is in Namibië net voor ons groot trek nie.

Koffie is blykbaar ook baie gewild hier as jy kyk na die rakke en rakke koffie. Dankie tog vir die Keurig (soos Nespresso) en al die kapsules terug by die huis. Ons kyk en kyk, maar hou eers verby. ‘n Whatsapp vriendin het gewaarsku dat Kanadese koffie vreeslik sleg is. Ons sal maar eers die kat uit die boom kyk (of die boon uit die boom kyk). Ons is mos darem bederf met Slowtown se koffie.

Laaste op ons lysie is suiker. Mens sou reken dat suiker regoor die wêreld dieselfde is. Dit is nie. Ons is ‘n bruinsuiker gesin. Die suiker hier lyk soos kinetiese sand. Daai goed waarmee jou kinders so lekker speel en mors. En dis natuurlik ook hoekom hulle praat van ‘n “packed cup of brown sugar” in elke Noord Amerikaanse resep wat jy al ooit gelees het.

Maar ons het wat ons nodig het vir eers, en kies koers om te betaal. Mens sou ook reken dat hierdie redelik maklik gaan wees. Het jy al ooit van ‘self service chekcouts’ gehoor? Nie in Namibië nie en nog minder in Walvisbaai. Dis ‘n vreemde storie vir ons en ons hou verby. Kies maar wat ons ken. ‘n Kasregister met ‘n lewendige wese daaragter.

Weereens, dit werk bietjie anders hier. Die persoon voor jou pak al hulle goed op die ‘conveyor belt’. Hulle vat dan so ‘n plastiek strokie en sit dit op die belt as skeiding tussen hulle goed en jou goed. Ok. Dit sien (en leer) ons sommer gou. Merk sommer ook op dat jy hier betaal vir jou sakke en meeste geeste in die winkel het hulle eie gebring. Het ons? Nee. So ons gryp sommer ‘n paar van die rak af en betaal daarvoor. Dan het ons mos sakke vir volgende keer (maar ons vergeet amper elke keer die sakke). En so verloop die laaste stukkie van die storie.

Kassier: Do you have airmiles?

Ek: Sorry. What?

Kassier: Airmiles

Ek: No

Kassier: You can tap.

Ek: What?

Kassier: Tap. To pay.

Ek: (clueless).

Kassier: (staan en wonder seker wat is hierdie mense se storie).

Ek: (sê vir my man ‘ Gee net die beursie asb.’ Hy het kontant). I’ll pay cash.

Die enigste ‘tap’ wat ons ken, is die ‘tap’ waar jy water drink! In Namibië het jy ge-swipe. Met tyd leer ons, die Kanadese kaarte het ‘n mikro skyfie. Jy ‘tap’ dit net op die masjien en jou transaksie gaan deur. Geen PIN. Geen knoppie word eens gedruk nie.

Ons storm vir die kar in die koue. Dis nogal vreemd om nie ‘n ‘car guard’ te sien nie. En jy laai maar alleen jou sakkies in. Op die hoek van hierdie kompleks sit ‘n drank winkel. Ons het pas getrek van die land van biltong en bier na die land van ‘maple syrup & chocolate milk’. My man reken ‘n bier is net die regte lafenis vir sy siel (al is dit hoe koud). Hy hol gou daar in en kies twee. Vinnig vinnig kies ons koers terug huis toe sonder om te verdwaal.

Ek slaan gou die eerste Hello Fresh maaltyd aanmekaar en ons eet sommer vroegerig. Ons hele roetine is deurmekaar. Op hierdie stadium is daar ‘n 6 ure tyd verskil van Namibië. Teen 18:00 wil ons net slaap. Ons kan letterlik nie ons oë oophou nie. Al probeer ons hoe hard, gee ons bes en gaan slaap net voor 19:00. Teen 03:00 is ons wakker. Sit en kyk grootoog vir mekaar.

En daar breek dag 2 aan (en die volgende gedeelte van die reis)!

Meer oor Hello Fresh:

Hello Fresh is ‘n boks wat weekliks afgegee word. Jy kies elke Woensdag jou spyskaart en aflewering datum. Hulle kom laai die boks voor jou deur af. Daarin is al jou resepte en bestandele vir die week (net nie olie, suiker, sout en peper nie). Jy kies wat jy die dag wil eet, haal jou sakkie met bestandele uit die yskas en kook soos ‘n sjef. Die kos is baie lekker en ek vind die porsies groot genoeg vir ons 5 (ek kies gewoonlik die opsie vir 4 mense.)




As jy in Kanada bly en dit wil probeer, kliek op die skakel vir $40 afslag op jou eerste bestelling:

Hello Fresh $ 40 discount (ek hoop die skakel werk)

Ek het ook 3 gratis bokse om weg te gee (voor Vrydag 17 Julie). Stuur net jou e-pos adres na: contact@ongiini.com met Hello Fresh in die onderwerp lyn.

139 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page