Ons vrag houer is hier, en dis nou maak of breek. Pak ons uit, of trek ons?
As jy Kanada toe trek, en jy bring jou meubels saam, moet jy ‘n “Goods to Follow” lys saamstel. Daarop moet jy alles uiteensit wat agterna kom en nie saam met jou op die vliegtuig nie. Ons wou ons meubels saambring. Dit het vir ons meer sin gemaak. Ons het so 4 jaar voor ons groot trek al ons ou meubels vervang met duursame meubels.
Nou ja, ek het ons “Goods to Follow” lys 1:00 die oggend gesit en tik. Baie moeg na ‘n week se pak deur die dag en nag (en nog werk ook tussenin). Ons het ook ure vantevore ons familie vir oulaas gegroet. So my brein was in ‘n totale waas op daardie oomblik.
Toe alles kant en klaar gepak is in die vrag houer, en die lys finaal uitgedruk is, vra my man vir my of ek onthou het om die drank op die lys te sit. Nee, ek het nie. Ek het heeltemal vergeet daarvan. Dis ‘n paar sentimentele bottels wyn, sjampanje van ons troudag, ‘n goeie 20 jaar oue KWV brandewyn en nog ‘n paar ander bottels drank (so 20 in totaal). Ons reken ons vat maar die kans en kyk wat gebeur. Daar is nie veel wat ons nou kan doen nie.
Ons vrag houer het 9 Mei geland in Halifax. Ons het met die doeane agent gepraat en hulle het gesê hulle wil eers ‘n inspeksie hou van die inhoud. Ons het niks om weg te steek nie en sien geen probleem daarmee nie, behalwe nou vir die drank wat nie op die lys is nie. In dieselfde asem sê die doeane agent vir ons dat daar ‘n groot oponthoud is en dat hulle nie genoeg mense het om by al die werk uit te kom nie (COVID se skuld). Dit gaan so 2 weke neem. Ons kan nie veel aan die situasie doen nie, en los dit daar. Elke tweede dag bel ons en hoor of hulle nie dalk al tyd gekry het vir die inspeksie nie.
Einde ten laaste, laat weet hulle op 22 Mei die inspeksie is klaar. Manlief sit af na hulle kantore toe. Daar gekom vra hulle vir hom of daar enige drank in die vrag houer was. Weereens, ons het niks om weg te steek nie, en antwoord eerlik: ja. Reg so. Hulle het die hele vrag houer uitgepak en al die drank gevind. Ons mag ‘n maksimum van 8 bottels ingebring het, sonder om belasting te betaal. Maar natuurlik het ons nou veel meer. Dit kos ‘n vinnige lisensie aansoek en ‘n paar rand, en siedaar, hierdie probleempie is opgelos.
Intussen laat weet die invoer agente my ons moet die inspeksie en staan fooie betaal voor hulle die houer gaan vrystel. Wat geen mens, invoer agent of doeane agent, vir ons gesê het nie, is dat slegs 4 dae se staan fooie verniet is. Ons houer het vir amper 2 weke in die hawe gestaan. Die inspeksie fooi is $ 2,438 en staan fooie is $ 2,725. Om te sê die wind is uit ons seile geslaan, is dalk nie korrek nie. Ons voel sommer verpletter. As enige agent net eerlik met ons was oor die hele proses, sou ons veel eerder begin aandring en opdruk het om die hele proses so gou moontlik af te handel. Maar die eerste woord wat ons hoor van die kostes, is toe ons begin reël vir die vervoer van die vrag houer na ons huis. Hierdie yslike uitgawe was beslis nie ingereken in ons trek begroting nie.
Omdat ons in ‘n Cul-de-Sac bly, kan ons ook nie enige vragmotor kry om die aflaai van die houer te hanteer nie. Uiteindelik spoor ons iemand op met die regte tipe vragmotor vir die werk. Hy gee vir ons ‘n gekwoteerde bedrag en ons aanvaar dit. Ons stry letterlik van die oggend tot die aand met die agente. Dan is die bedrag verkeerd en dan is die vorms nie reg nie, en so kom daar elke dag nog staan fooie by. Dit kos ysere wil om nie baie lelik te begin praat met die mense nie. Nie dat praat help nie, want as gevolg van COVID is alle kantore gesluit. Dis epos op epos die hele dag lank.
Nog $ 1,000 later vir vervoer (dis nie die gekwoteerde bedrag nie), staan die vrag houer voor ons deur.
Mensig! Wat ‘n blye gevoel. Die laaste keer wat ons ons eie goed gesien het, was 2 Februarie toe ons die deur toegesluit het. Met groot afwagting sluit ons die deur oop. Dit voel ‘n bietjie soos Kersfees! Al is dit jou eie, ou bekende goed.
Wat ‘n skok! Duidelik het iemand (ons reken doeane) die hele vrag houer uitgepak. En niks, maar niks, is met sorg terug gepak nie. Nee, dis terug ingegooi. Ons matrasse lyk goor en is vuil, van my hout vase is aan flarde, al ons eetkamer stoele se onderkante is oopgesny, en ons baie duur herwinde hout eetkamer tafel is aan flarde. Maar ons vat dit soos dit kom.
Soos ons uitpak, raak die skade net meer en meer! Elke liewe stukkie elektronika is vernietig. My iRobot, Karcher stofsuier en Nikon DSLR kamera is daarmee heen. My man se elektroniese toerusting is ook voos. Elke liewe yster tipe knoop is vernietig, sowel as enige juwele. Daar waar die yster knope teen materiaal was, is die materiaal voos (kyk op die video). Dit val uitmekaar uit. Dis baie duidelik dat daar een of ander chemiese reaksie in die vrag houer was. Ons instink sê vir ons, dit was die effek van die beroking (fumigation). Ons reken die skade beloop so min of meer N$ 100,000. Dit nog ‘n groot slag in ons immigrasie reis.
Daar gebeur wel iets daardie dag wat ons harte en gemoed sommer ligter maak!
Op presies dieselfde dag wat ons vrag houer afgelewer word, gebeur daar ook iets wonderbaarlik. Ek het al vroeër genoem, dat daar bitter min poste beskikbaar is ten tyde van die COVID pandemie. In my man se rigting (sweiser), is daar 5 poste regoor die provinsie. Daar is een groot maatskappy wat gereeld poste adverteer. En elke keer as ek die advertensie sien, doen ek aansoek. Uiteindelik kry hy ‘n onderhoud by die maatskappy. Hulle wil hom nie aanstel nie, want hy het nie ‘n Kanadese rooi seël nie.
Terwyl ons staan en wag vir die aflewering van die houer, kry my man ‘n oproep op sy foon, maar dit lui net een keer. Ons dink dis dalk die vragmotorbestuurder wat nie die huis kry nie en hy bel onmiddellik terug. En sowaar, dis dieselfde maatskappy wat hom nie wou aanstel nie. Hy moet kom vir nog ‘n onderhoud die Maandag. Ons is verheug!
Hy kom Maandag na die onderhoud by die huis met ‘n groot glimlag op sy gesig! Hulle het vir hom ‘n aanbod gemaak sommer net daar in die onderhoud. Hy begin volgende Maandag werk!
So ja, ons het nie opgepak nie, maar uitgepak. Ons het nie getrek nie, maar ingetrek. Ons is nog steeds in Halifax. Presies waar ons immigrasie reis begin het!
Comments