top of page
  • Anoniem

Ons is hier (deel 13)

Ek en my man gaan sit en besin oor ons immigrasie besluit. Hierdie was nie waarvoor ons gehoop en waarvan ons gedroom het nie. Ons besluit dis tyd om te trek...

Ons weet ons meubels is op pad. Dit sal binnekort in Halifax aanland. Ons kan dus nêrens heen beweeg totdat ons vrag houer met meubels nie opgedaag het nie. Ons besluit om nog ‘n maand uit te hou en te kyk wat die ooskus ons gaan bied. My man gesels met sy broer in Edmonton, en ons weet as dinge nie drasties vir ons verbeter binne die volgende maand nie, gaan ons beslis MOET trek. Nader aan familie en ‘n ondersteuning netwerk en hopelik meer geleenthede.

My man krap heelwat op Kijiji rond en gewaar ‘n bakkie. ‘n Toyota bakkie. En ek weet sommer van meet af, hierdie kar gaan binnekort in ons oprit staan. My liewe man was nog altyd ‘n bakkie man. ‘n Toyota man. En as ons dan nou moet trek, het ons darem vervoer. Die verkoper daag hier op met die bakkie (of altans truck), en ek kan sien daar word ernstige sake bespreek. Maar ek weet ook, hier hou ek my neus uit. En woerts warts, daar ry die man en los die bakkie agter. En ek weet. Ek weet ons het sopas ‘n kar ryker geword. ‘n Kar waarmee ons nêrens heen mag ry nie – want dis nog nie geregistreer nie.

So hier werk dinge bietjie baie anders in Kanada. Jy kan nie jou kar gaan registreer sonder dat jy versekering uitgeneem het nie. Midde in die COVID-19 wêreld, is amper alle kantore toe en ons sukkel om iemand te kry wat darem net ‘n foon antwoord. Meestal is die antwoord: jammer, maar jy het geen Kanadese lisensie nie en ons gaan nie die risiko aangaan nie. Uiteindelik kom ons verhuurder tot ons redding. Hy stuur ons darem in ‘n rigting van iemand wat bereid is om te help. Teen $ 460 per maand. Beslis die duurste versekering wat ons nog ooit uitgeneem het. Maar ons kan regtig doen met wiele, en teken die kontrak. Die volgende skok wag by die Access Nova Scotia kantore. As jy hier ‘n kar registreer, moet jy belasting betaal op jou kar as jy dit op jou naam registreer. Vir ons was dit nog ‘n $ 2,000 later (ek is nie seker of dit so werk met huurkope nie. Ons het ons kar kontant gekoop). Maar ons het ‘n kar! En ons kan darem weer binnekort die huis se 4 mure verlaat – nie dat veel plekke oop is nie, maar die natuur daarbuite wag op ons. Ons koop ook vir die kinders fietse – dit gee hulle darem ook wiele om so bietjie te verken en besig te bly.

Een Sondag môre, maak ek gou bietjie huis skoon. Nou kyk, die Kanadese huise is nie gebou soos ons Afrika huise nie. Dis meestal gips mure (dry wall) en baie dun vloere. Terwyl ek die kinders se badkamer skoonmaak, spoel ek die toilet en ek sien die water vlak tel so effens op. Nie dat dit my veel pla nie, dit gebeur maar gewoonlik. My kindertjies het hierdie wonderlike gawe om nie te weet hoe spoel ‘n mens ‘n toilet nie. En ek moet weer die toilet spoel om seker te maak dis skoon. En weereens tel die water vlak op, maar dit hou aan en aan. Totdat dit bo-oor die rand van die toilet loop. Ek is sommer dadelik vies, want nou is daar een yslike gemors om skoon te maak. Ek stap luilekker af met die drie stelle trappe tot onder in die motorhuis om die skoonmaak goed te kry. Toe ek so verby die eetkamer tafel stap, sien ek die kolletjie water op die tafel, en dink so in my enigheid – wonderlik, nog ‘n gemors om skoon te maak. Een van die kinders het seker weer hier gesit en water drink, en hulle mag nie. Dis per slot van sake nie ons meubels nie, so ek pas dit bitter mooi op. Op pad van die motorhuis af, sien ek die kol op die tafel het groter geword. En sommer so terselfdertyd sien ek hoe drup die water van die eetkamer se lig af. Ja, die water drup van die lig af op die tafel. Ek gil en skree soos ‘n viswyfie, want hier is ‘n groot probleem. Almal spring oor in aksie. Sien, die kinders se badkamer is reg bo die eetkamer. Daar waar uitloop pype van die toilet in die plafon gaan, is ‘n yslike gat en dis nie geseël nie. Dus het al daardie massas water nou op die eetkamer se plafon beland. Dis ‘n yslike gemors en nie een waaraan ons veel kan doen nie. Dit los ‘n baie lelike water merk op die plafon. ‘n Buisie silikon beland sommer baie hoog op ons inkopie lys!

Midde in die lang dae by die huis, het ek vir my ‘n suurdeeg plantjie bestel en brood bak raak my daaglikse terapie. Op geen winkel rak kry mens gis op die oomblik nie en sommige dae is daar geen brood te vinde nie. Dis asof die hele Nova Scotia ewe skielik bak en brou en lewe van brood.


Ons besef ook dat daar eenvoudig wonderlike perke daaraan is om nou in ‘n eerste wêreld land te bly. Instacart kom tot my redding. Elke week plaas ek ‘n bestelling vir ons week se inkopies. Dan hoef ons darem nie daagliks winkel toe te stap nie (mens kan ook net soveel goed dra) en kan ek veel meer van ‘n item koop. Die wynplase lewer jou wyn sommer by jou deur af, en daar is ‘n toep (app) om meeste dinge tot by jou huis te kry. ‘n Plaaslike restaurant begin lewer kruideniersware af en die plaas markte begin aanlyn verkoop en (soms) aflewer. Dit alles kom tot ons redding. Al ons vrugte, groente en vleis word sommer by ons deur afgelaai. Die feit dat ons sonder ‘n kar is, pla darem nie meer so baie nie.

Ek spoor uiteindelik die regte Newcomer Centre op. Hulle help my sommer gou-gou om die kinders in die skool te kry. Nie dat hulle kan skoolgaan nie, maar ons doen aanlyn skool. Die onderwysers sukkel maar bietjie met die Afrikaanse name, maar almal kry elke week hulle werk en doen gereeld Google Meets met hulle nuwe juffrouens. Ek stry tot ek blou is in die gesig met die onderwysraad. My kinders gaan almal een graad mis. Boeta moet nou Graad 7 toe (hy was in 5), sussie moet Graad 3 toe (sy was in 1) en jongste sussie moet Graad 1 toe (sy was in voorskools). Ek gee nie bes nie, maar hulle beslis ook nie. Die uiteinde is – die sussies gaan ‘n graad mis, maar boeta gaan darem graad 6 toe.

Dit raak lente om ons. Die weer is warmer en oral is blomme! Dit maak ons harte bly om die seisoen van verandering te beleef. Nie net fisies nie, maar in ons eie lewe ook. En daar kom 'n groot verandering! Dis net om die draai!

Ons vrag houer is hier, en dis nou maak of breek. Pak ons uit, of trek ons?

106 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page