• Anoniem

Ons is hier (deel 12)


Ek het omtrent my voete gesleep om hierdie volgende stukkie te deel. Dis die minder lekker gedeelte. Die feit is, April 2020 was eintlik vir ons ‘n goor maand. Die ‘lekker’ van immigrasie het by die agterdeur uitgevlieg.

Tot op hierdie punt het ons nog ‘n kar gehuur by ‘n (wêreld) bekende groep. Dit het ons die vryheid gegee om ons nuwe provinsie te verken en te kom en gaan soos ons wil. Een goeie aand bel die agentskap en vra hoe lank gaan ons nog die kar gaan huur. Maar terloops, julle kan solank die eerste maand se bedrag betaal. My wederhelfte sê dis reg so, hy ry sommer gou en sal die rekening gaan betaal. Tot op hierdie punt, het ons gewerk op ‘n gekwoteerde bedrag, wat heeltemal aanvaarbaar was. Wat egter gebeur, is dat die vrou wat die kwotasie (mondelings) gegee het, nooit genoem het dat die versekering nie bygereken was nie. Die bedrag vir die kar se huur vir 6 weke - $ 4,588.79 (en ja, daardie is Kanadese Dollar). My man betaal die rekening en gee net daar en dan vir haar die sleutel van die kar terug. Hy vat sommer ‘n taxi terug huis toe. Bitterlik ontsteld.

So hier is dit nou. Ons sit vasgekeer by die huis. COVID-19 het die hele wêreld kom omkrap. Jy moet asseblief by jou huis bly – of soos ons Premier dit gestel het: ‘Stay the blazes home!’. Sonder ‘n kar kan ons werklik nêrens heen gaan nie. Ons wil nie die publieke vervoer gebruik nie (as gevolg van COVID-19). Soos die bestiering werk, en ook gelukkig, sit ons nuwe huis nie ver weg van die supermark, apteek en ander winkels af nie. So ons begin stap! Kilometers ver. Vir melk, vir brood en vir ons gemoed.

In ons hele getroude lewe was ek my man nog nooit so lank onder een dak vasgekeer nie. Sy gemoed is swaar want nie een van ons kry werk nie en geld loop soos stroop hier. My gemoed is moeilik want ek het ‘n hele huis vol mense (ek het die laaste 7 jaar alleen vanaf die huis gewerk) en hulle is konstant onder my voete en my stiltetyd verdwyn. Dis op hierdie punt waar ek in ‘n diep depressie vasgevang word. Dit raak moeilik om soggens die wêreld in die oë te kyk. Dis ook waar hier waar jy besef dis waar wat hulle sê: jou huwelik moet onwrikbaar wees as jy hierdie immigrasie proses aanpak.

Ons het hiernatoe getrek vir beter geleenthede en ‘n gesonde ekonomie, en toe tref die virus. In April verloor miljoene mense hulle werk in Kanada (of hulle ure word gesny). Ons moet probeer meeding met mense wat jare se Kanadese werk ondervinding het. Ons het hiernatoe getrek vir ons kinders en hulle toekoms, en toe tref die virus. Alle skole is toe. My kinders kan nie maatjies leer ken nie. Hulle kan nie inskakel met hulle nuwe Engelse omgewing nie. Op die koop toe, kwalifiseer ons nie vir enige van die regering se bystand programme nie.

As ‘n mamma (en vrou), kom lê daar ‘n diep skuldgevoel in my hart. Een Sondag, kyk my man in my rigting en raak iets simpel kwyt (ek kan nie eens onthou wat dit was nie), en die dam se wal breek. Dit voel vir my ons het een yslike fout gemaak. Maar hoe deel jy hierdie gevoel met jou sielsmaat? Ek het nie. Ek wou nie my vrese uitspreek nie. Ek wou dit nie waar maak nie.

Ek weet wat ek moet doen om myself uit hierdie put uit te trek. My terapie lê in stiltetyd en roetine. Sonder dit is my wêreld deurmekaar en my gemoed onstuimig. Ons is al vir maande lank sonder enige vorm van roetine en die nuutheid van immigrasie is besig om vinnig die sprankel te verloor. Dis ‘n sokkies optrek storie wat ysere wil verg. Maar die balans in ons familie lewe en huwelik herstel so stadig maar seker. Ons nuwe vermaak in hierdie seisoen is die kreef bote wat elke dag hulle kreef mandjies kom uithaal. Reg by ons voordeur.

Net ‘n week hierna, stuur ‘n vriendin in Newfoundland vir my ‘n boodskap: “Ek hoor daar is groot nuus”. Ek is geheel en al uit die veld geslaan en vra haar om ook die nuus met my te deel. Sy praat van ‘n skietery. Die aand voor ek gaan slaap het, het die polisie ‘n verklaring op sosiale media geplaas en gewaarsku oor ‘n skietery. Mense moet asseblief skuiling neem in hulle basements. Ek het geen ag daarop geslaan nie, want dis ‘n entjie van ons af (so 50 km). Net om die televisie aan te sit en te sien dat ‘n man losgebrand het en 22 mense (23 saam met die ongebore baba) doodgeskiet het.

Dit ruk so effens die wind uit my seile. Ons het ook hiernatoe getrek omdat dit so veilig is. En hier gebeur sulke goed. Die ergste massa skiettog nog in Kanada se geskiedenis. Dit laat my nog meer wonder of hierdie die regte besluit vir ons gesin was. Ons het in ‘n redelike veilige land gebly, met hoë mure en ‘n duur alarm sisteem. Ek het nog nooit onveilig gevoel in Namibië nie. En nou sit daar skielik ‘n beklemming om my hart. Wat maak ons hier? Die lewe is soveel anders hier. Dis dalk nie waarop ons gehoop het nie.

‘n Paar dae later, om 16:00 die middag, is daar chaos in ons huis. Elke foon en elke televisie skree op maksimum volume. Dit maak ‘n onaardige alarm geluid. Die emergency alert waarsku oor nog skote wat geskiet is. My hart sink nog ‘n bietjie meer.

Ek en my man gaan sit en besin oor ons immigrasie besluit. Hierdie was nie waarvoor ons gehoop en waarvan ons gedroom het nie. Ons besluit dis tyd om te trek...

191 views0 comments

Recent Posts

See All