top of page
  • Anoniem

Ons is hier (deel 11)


So tussen al die COVID gemors deur, het ons darem een ligpunt – ons kan binnekort in ons huis intrek. My onderhoud het baie goed afgeloop en ek word op die kortlys gesit vir ‘n onderhoud met die eienaars van die besigheid. Dit sal aanlyn geskied – geen onderhoude word in persoon gedoen op hierdie oomblik nie. Dis darem nog ‘n ligpunt vir ons!

Maar soos julle nou al weet, in hierdie huis is daar altyd iewers ‘n bietjie drama om oor te skryf. Dis niks ernstig nie; meer komieklik (en duur).


Met die dat ons nie meer mag park toe gaan nie, gaan soek ons ‘n ander plek om te verken. Die eienaar van die woonstel beveel die Halifax waterfront aan. Dis baie lekker om sommer net daar rond te wandel en hy gaan gereeld. Toevallig loop ons hom ook daar raak op ons eerste uittog soontoe. Oral sien jy iets nuut en snaaks raak – van die seekat ankers, die fiets-boom tot die ‘dronk’ lamppale.

Met ons koms by die huis, los een van die meisies hulle Build-a-Bear beer in die kar. En hulle kan nou nie sonder daardie beer lewe nie. Nie mamma of pappa voel lus om te gaan soek na die beer nie, en ons gee vir die twee meisiekinders die kar se sleutel om die beer te gaan haal (dis in die parkeer area wat heeltemal toe is en dis veilig). Hulle vat so bietjie lank om terug te kom. Net so voor een van ons wil loop om te gaan kyk waar draai hulle, kom hulle grootoog in by die deur. Half wit geskrik. Die kar se sleutel het by die hysbak skag afgeval! Hoe? Nee, hulle weet nie. Die sleutel het net geval en per ongeluk deur die gleuf by die hysbak se deur in die skag afgeval.

My man is eerste in die hysbak en beloer die skag met ‘n flits. Hy kan die sleutel sien. Heel onder in die middel van die sement vloer onder die hysbak. Hoe moeilik kan dit nou wees om die sleutel te kry? Ons kan mos net die superintendent van die woonstel gebou vra om die toegang na die hysbak area oop te sluit en die sleutel te kry. O nee! Dis nie hoe dit werk in Kanada nie. Eerstens, moet ons ‘n call out fee betaal vir die superintendent. Dit sal $ 75 wees. Dis darem nie te erg nie. Maar, hy het geen toegang tot die hysbak area nie, en hy sal ‘n hysbak tegnikus moet ontbied om die sleutel uit te haal. Dit sal $ 375 – $ 475 wees (N$ 4,000 – N$ 5,000) net om ‘n sleutel uit te haal! Dit sal heel moontlik net goedkoper wees om ‘n heel nuwe sleutel te koop, sê die woonstel eienaar. Behalwe, dis nie ons kar nie. Dis ‘n huur motor. Ons het darem ‘n spaar sleutel vir die kar. Maar ons sal die ander sleutel moet kry.

Nou ja, ons boek maar die tegnikus. Geen manier rondom dit nie. Dis nou naweek en ons moet wag vir die nuwe week. As die hysbak tegnikus in die area kom werk, sal hy sommer daar stop. Dit sal reis kostes bespaar. Die gebou is nog onder konstruksie, en daar kom weekliks verwers, elektrisiëns en so meer werk. My man is ‘n voortreflike plan maker. Die Maandag vang sy oog die een of ander gereedskap wat een van die manne gebruik. En net daar kom hy met ‘n briljante plan vorendag en hy en een van die manne haal die sleutel sommer self uit. As beloning vir sy moeite en gebruik van sy gereedskap gee hy hom darem $ 100. Dit spaar ons darem ‘n paar dollar se uitgawes!


Die eienaar van die nuwe huur huis laat weet ons ons kan ‘n week vroeër intrek. Ons is so bly! Vir meer spasie, vir die see buitekant ons deur, vir iewers om huis te noem! Ons begin pak amper onmiddellik. 3 weke in ‘n 2 slaapkamer woonstel was nie goed vir ons almal se gemoed nie. Die oggend van 25 Maart breek aan en ons kan nie gou genoeg alles in die kar gepak kry nie. Dis die finale trek vir die volgende rukkie. Die eienaar laat weet ons hy los sommer die deur oop vir ons as hulle klaar skoon gemaak het. Ons kan net intrek. Ons reken hy is stapelgek. Die huis staan vol meubels, televisies en beddegoed. Ek is doodbang as ons die volgende dag daar kom, is die huis leeg gedra.

Dis ‘n algehele malhuis in ons nuwe huis. Ons het lank gesoek na ‘n ten volle gemeubileerde huis. Ons meubels is nog op pad van Namibië af. Dit is iewers op ‘n skip in die Atlantiese Oseaan op hierdie stadium. Soos ons ons paar goedjies probeer uitpak, is die huis eienaar ook nog besig om meubels vir ons oral te reël en dit word ook stuk vir stuk afgelaai.

So in die malhuis en die intrekkery, beland die kinders in die basement. Hulle speel daar en dit pas ons goed. Hulle is onder ons voete uit. Die aand breek aan en ons is poegaai uitgepak. Ek doen gou die aand rondtes. Jy weet – deure toesluit, ligte afsit, handdoeke optel en nogmaals terug loop om seker te maak die deure is wel toegesluit. Dis gelukkig veels te koud om vensters oop te maak.

Nes ek wegstap by die voordeur, sien ek die basement se lig is aan. Voel, voel aan die deur, maar dis gesluit. Eers dink ek een van die kinders is daar binne. Hulle het per slot van sake heeldag daar gespeel. Die slotte is een van daardie met ‘n klein knoppie wat jy draai en dan sluit dit. En daardie knoppie sit aan die binnekant van die deur. Maar hier staan ons; al 5 van ons; voor die basement se toe deur. Geen siel daarbinne nie. Hoe daardie deur gesluit het, weet geen mens nie. En al die kinders is ewe onskuldig. Ons los dit maar net daar en gaan slaap.

Weereens dankie tog vir my man met die planne! Die volgende dag gaan koop hy ‘n boorpunt en boor die slot uit! Die basement is weer oop vir die kinders se genot! Ons besluit ook sommer net daar om nie nou al die slot te vervang nie. Net vir in geval die situasie weer opduik.

Die huis eienaar kan gelukkig nie meer tegemoetkomend wees nie. Ons voel wel bitter sleg oor die situasie. Skaars 24 uur in sy huis en ons moet ‘n slot vervang. Hy is wel ‘n liewe mens. Elke kind kry ‘n verwelkoming kaartjie en $ 50 as ‘n verwelkoming geskenk (dis nie die laaste geskenk nie en ook nie die laaste drama nie).

123 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page