top of page
  • Anoniem

Ons is hier (deel 10)


Net so voor ons ons vlugte Kanada toe haal, sien ek een van my vorige kollegas se Instagram plasings. Sy is op pad vanaf iewers in China na ‘n ander land. Sy plaas so ‘n vinnige video op Instagram en dis net mense met maskers oral om haar. Vir geen oomblik het ons, nog in Namibië, gedink die situasie met COVID-19 is so erg nie. So half senuweeagtig, besluit ons ons gaan maar kyk hoe lyk dit op die lughawe voor ons vertrek. Lank terug het ek die wyse raad raak gelees: smeer antibiotiese salf in jou neusgate en ore, ontsmet jou vliegtuig sitplek goed en was jou hande baie. Ons besluit om darem hierdie stappe te doen as ons dan nie die maskers gaan dra nie. En net soos ons dink, tydens al ons vlugte en oorstaan plekke, gewaar ons seker 10 mense (in totaal) met maskers. Nie eens die lughawe personeel dra dit nie. So hoe erg kan die hele COVID-19 storie nou eintlik wees? Lees net verder.

Een goeie môre, terwyl ek so deur Facebook krap, gewaar ek die advertensie vir die Atlantic Outdoor & RV Show. Een van die grootste skoue in die Atlantiese provinsies. Ek het geen oorreding nodig om ‘n skou by te woon nie. Koop sommer gou die kaartjies aanlyn, sit dit in my Apple Wallet en weet wat ons volgende avontuur gaan wees.


Ons daag gelukkig net na oopmaaktyd op by die skou, so daar is lekker min mense. Dis groot. En dis lekker. Dis RV’s (baie, baie spoggerige karavane) slaan ons asems weg. Dis regtig soos ‘n huis op wiele. Ons belowe onsself, as ons eendag die geleentheid het, gaan ons beslis een van hierdie spoggerige huise op wiele aanskaf. Daar is ‘n hele paar vertonings die dag. Ons heel gunsteling is The Scott’s Timber Show. Daai klomp manne is tog te snaaks met hulle hout kap vernuf en die grappies langs die pad. Die kinders sit die hele tyd stil. Dis regtig die moeite werd. As julle ooit die geleentheid het om dit te sien, gaan kyk gerus. Maar om weer tot die punt te kom. Ons sit en kyk nog so lekker na die vertoning, toe die aankondiging kom. Die skou moet onmiddellik sluit. Die rede: COVID-19.

Ag nou ja. Dit is nou so dink ons. Die regering verbied enige byeenkomste van meer as 50 mense. Dis darem nie te erg nie, maak ons onsself wys. Met onmiddellike effek word alle parke en staproetes ook gesluit. Van my vorige blog, sal julle nou weet, dat ons op hierdie stadium in ‘n woonstel bly. 5 mensies in ‘n 2 slaapkamer woonstel. Geen erf nie. Ons sit op die derde vloer van ‘n 8 vloer gebou in die North End van Halifax (baie industrieel). Die park daar naby was ons heil, en nou kan ons nie eens meer park toe stap nie. Ons voel letterlik hoe die mure ons begin vasdruk met die intrap slag by die woonstel. Die aankondiging in die hysbak op pad boontoe vang nogal ons oog!


So 2 dae na ons skou ondervinding, raak een van ons siek. My liewe, amper tiener, staan op met ‘n hoë koors en erge keelseer. My hart klop in my keel. As voorkoming by die skou, het ons wel die antibiotiese salf aangesmeer en ons hande gereeld gewas. Ons het dit op die vliegtuig gedoen, en ons almal was nou vir 6 weke heel gesond. My mamma hart voel sommer onstuimig. Wat as dit dalk nou die gevreesde virus is? Ons het nog nie ‘n familie dokter in Kanada nie, so hoe nou? Ons is genadiglik klaar geregistreer op die mediese sisteem. Ons heil is die Walk In Clinic. My man en seun pak hierdie sessie aan. Ons kan nie almal saam gaan nie. Hull wag min of meer 3 ure by die kliniek om die dokter te sien. Jy mag nie binne die kliniek wag nie. Jy sit en wag in jou kar.


Na ‘n 3 ure wag, laat meet my man my, dis mangelontsteking. Dis presies wat ek gedink het, maar in die wêreld van COVID-19, wou ek eerder doodseker wees my mamma instink is reg. Die konsultasie is verniet, ons betaal slegs vir die medikasie. Die kostes: $ 21.25 (N$ 250).

Binne dae hierna, kondig die regering ‘n State of Emergency aan. Ons is nie heeltemal seker wat dit beteken nie, maar ons leer gou. Die hele provinsie kom tot stilstand. Besighede maak toe. Reg oorkant die woonstel is Irving Shipyard. Ons het daagliks die karre in en uit sien ry soos dagskof en nagskof ruil. Ewe skielik is dit soos ‘n spook gebou. Hulle dank 1,100 mense af van hulle 1,800 werkers. Die kleuterskool aan die anderkant van die woonstel, maak oornag toe. Die raserige karre en vragmotors, kom ewe skielik tot ‘n halt. Dis amper soos om in ‘n spookdorp te bly. Dis eerie, soos die Engelsman sou sê. Die stad is geheel en al tot stilstand geruk.

Te midde van hierdie situasie, het ons maar 6 weke terug hier geland. Die skole sluit, so die begin van die kinders se Kanadese skool loopbaan vlieg by die venster uit. Besighede sluit, so werk is so skaars soos hoendertande (om ‘n idee te gee, daar is 5 poste oop vir sweisers in die hele Nova Scotia op hierdie stadium).

Wonder bo wonder, kon my skoonpa toegang kry tot my skoonma se rekening en ons fondse oorplaas Kanada toe. Maar met die wêreld, vasgevang in die greep van COVID-19, het die wisselkoers ten gronde gegaan. En ons verloor derduisende rande in die proses.

Ons het wel iets om na uit te sien – ons trek binnekort!

129 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page