
Ek eindig Ons Storie (deel 3) waar ons pas deur immigrasie en doeane is op Pearson International (Toronto lughawe).
Ons is moeg. Bitterlik moeg. Die vlugte was lank en ons reis al vir dae aaneen (of so voel dit). Ons totale reis tyd was 52 ure.
Ons vlug Halifax toe verloop sonder voorval. Ons land die oggend 01:30 op Stanfield International. Genadiglik is die lughawe klein en nie naastenby so intimiderend soos die groter lughawens nie. Dis nou nie heeltemal Walvisbaai klein nie, maar ook nie Parys groot nie.
Omdat ons geweet het ons gaan op so ‘n onmenslike uur land, het ek vir ons plek geboek in die hotel by die lughawe. Dis gekoppel aan die lughawe gebou. So jy loop sommer net in. Geen gesoekery na ‘n kar of enige sulke stories nie. Die hotel is nie so goedkoop nie, maar ons was baie dankbaar vir die bietjie rus in ‘n ordentlike bed. Geen (ekonomiese klas) vliegtuig sitplekke slaap lekker nie.
Ons skrik vroegerig wakker (so teen 07:00) en ons almal storm vir die hotel kamer se vensters. Vrek nuuskierig oor hoe dit om ons lyk. Die ding wat ons eerste sien: SNEEU! O jitte, hierdie Afrika kindertjies is opgewonde! Hulle wil net in die sneeu gaan speel. Maar ons moet oppak en klaar maak. Ons moet 11:00 weer uit wees.
Manlief het intussen gou na Hertz toe gegaan en ‘n kar gaan huur. Ons het ‘n magdom tasse (2 per persoon, alhoewel myne alleen 6 was) en moet ‘n yslike wa huur om tot by ons volgende bestemming te kom. Kinders moet hier in ‘booster seats’ sit as hulle onder ‘n sekere ouderdom en gewig is. Gelukkig vertel iemand my hiervan voor ons arriveer (dankie Michelle!), en ek bestel dit op Amazon (uit Walvisbaai). Hulle gee dit sommer by die hotel af voor ons aankoms.
Ek het vir ons 'n plek bespreek op VRBO (dis net soos Air BnB). Die huis is so mooi en die eienaar, Wayne, kan nie meer tegemoetkomend en gasvry wees nie (via e-pos op die stadium).
Net so voor ons die lughawe verlaat, tik ek gou die adres in op my Apple Maps. Die hotel het wi-fi en dis mos maklik om op Apple Maps gou 'n roete te vind. Jinne, wat kan nou so moeilik wees. Dis net ‘n 20 minute rit, dan is ons by die ‘huis’ en kan ons net bietjie ontspan en weer mens word. Die hotel waar ons gebly het, het nie ‘n ontbyt opsie nie. Daar is ‘n restaurant, maar ons is half haastig. Dis Kanada – daar is duisende winkels hier. Ons sal iewers iets kry. Ons pak en pas gou al die tasse in die kar, installeer gou die ‘booster seats’ en ons is oppad.
Alles is vreemd en op die koop toe, ry jy ewe skielik aan die ander kant van die pad. En die wa se rathefboom (gear lever) is een van daardie wat hierbo teen die stuurwiel sit. Dis ‘n gedoente hoor! Ons is maar senuweeagtig, maar ons het geen twyfel in Apple Maps of ons vermoë om by die ‘huis’ te kom nie. Dit was ‘n fout!
Waar ons vandaan kom, is die enigste afrit wat jy ken, die een voor jou motorhuis. Die enigste snelweg, is die pad tussen Walvisbaai en Swakopmund (nie regtig nie, maar as jy daar bly sal jy verstaan).
So hier verlaat ons die lughawe en beland op die snelweg. Dis intimiderend as jy nie in die stad gebly het voor jou groot trek nie. Maar ons ry soos die tannie op Apple Maps verduidelik. Daar is wel een probleem. ‘n Groot probleem! Sy praat te veel op die nippertjie!
Toe ons naby die eerste afrit (exit) kom, sê sy: Take the exit. Maar ons is al amper verby en dis te laat om te draai. En daar, net daar, tref die realiteit! Ons weet nie waar ons is nie, ons het nie meer wi-fi (soos by die hotel) nie, MTC se Tango nommer het nie ‘roaming’ in Kanada nie, en ons is geskroef.
Ons besluit ons gaan net aan ry, iewers gaan ‘n omdraai plek wees. Intussen, omdat ons nie meer op die roete is nie, het my Apple Maps heeltemal oorgelaai om ‘n nuwe roete uit te werk. Sonder internet werk dit natuurlik nie. Ons ry aan en aan vir kilometers en besef later, van omdraai is daar geen sprake nie. Dis ‘n aanhoudende netwerk van snelweë voor ons. Ons enigste opsie: vat die eerste exit wat ons sien.
Ons draai af en beland iewers. Waar, weet ons nie. Almal is honger, almal is moeg (jetlag) en almal is kwaad! Die 20 minute rit duur nou al amper ‘n uur.
Die eerste teken van ‘n winkel wat ons sien, is ‘n inkopie kompleks. Daar sit ‘n Dollarama (dink in terme van Crazy Store) en ons vaar daar in. Die eerste ding wat ons sal moet kry, is ‘n sim kaart. Ons het dit nodig om weer op Apple Maps te kom en ons pad te vind huis toe. Iewers spoor ons ‘n rakkie op met sim kaarte. Ons gryp een van Lucky Mobile (ons kan doen met ‘n skoot geluk) en een van Virgin Mobile (vir as Lucky nie so gelukkig is nie). Die sim kaarte is goedkoop. Dit kos net 'n paar dollar. Ons almal gryp sommer iets van die rak af om te eet.
Nou, as jy in Namibië ‘n sim kaart koop, kry jy sommer lugtyd ook by. Dit werk nie so in Kanada nie. Dit werk bietjie anders. Maar ‘n sim is ‘n sim. Agterop die pakkie staan instruksies oor hoe om die kaart te aktiveer. Maklik genoeg. Maar werk dit? Nee, natuurlik nie. Ons Namibiese bank kaarte word nie aanvaar op die sisteem nie. Ons vra die mense by Dollarama of iemand ons kan help. Nee, sê die vrou agter die toonbank, sy weet nie hoe dit werk nie, maar lees net agter op die pakkie. Nou as jou nerwe nou al klaar dun is, jy is frustreer en niks is so maklik soos jy gehoop het nie, dan voel dit of jy die vrou aan die keel kan gryp. Ons strompel uit die winkel uit kar toe, eet wat ook al voor kom, en kyk vir mekaar. Wat nou? Ons kan niemand bel nie, ons ken in elk geval niemand nie, en nou werk die kaarte ook nie (dis nou sim en Apple Maps).
So uit die hoek van my oog, gewaar ek vir Canadian Tire (dis soos Game). Ek sê vir my wederhelfte, ry asb. net soontoe. Daar sal ‘free wi-fi’ wees. Dan kan ek darem vir Apple Maps weer aan die gang kry. Ons spandeer amper ‘n uur in die winkel. Die mense kyk ons maar skeef uit. Hier staan ‘n groepie van 5 mense, so half naby die kas register, en hulle koop niks nie, praat ‘n vreemde taal en speel heeltyd op die foon. Min wetend – ons is erg verdwaald en probeer net weer die pad vind op Apple Maps.
Einde ten laaste kry ek darem weer vir Apple Maps aan die gang. Ek maak ‘n ‘screenshot’ (blykbaar skermkiekie in Afrikaans) van die hele roete na ons ‘huis’ toe. Net vir gemoedsrus. As die kaart weer verdwyn en ons sit weer sonder internet, het ons darem ‘backup’. Ons verlaat Canadian Tire sonder om iets te koop en is dankbaar vir die gebruik van hulle wi-fi.
Die oorspronklike 20 minute rit, raak ‘n 3 ure les. Uiteindelik stop ons daardie middag 15:00 voor ons tydelike huis. Moeg, gatvol, honger en nie meer so seker oor hierdie stad storie nie. Maar ons het dit gemaak! En my eerste pakkie staan en wag voor die voordeur!
PS: die enigste foto’s wat ek op hierdie eerste dag geneem het, was die foto uit die hotel venster. Dis op ‘n vorige blog gebruik, en dan die foto van die klitser op hierdie blog. Ek moes my KitchenAid verkoop toe ons trek. Ek (en my man) het geweet dit sal die eerste ding wees wat ek sal vervang. My mond het oopgehang toe ek sien hoe goedkoop dit hier is en ek moes net ‘n foto neem in daardie Canadian Tire. Ons het later weer daardie Canadian Tire gaan soek (vir die KitchenAid), en kon dit nie weer kry nie. Tot op ‘n dag! Maar dis ‘n latere storie.
Comments