top of page
  • Anoniem

Nektarien krummel tert


Ek hou nie van kos weggooi nie. Dit steek my dwars in die krop. Ek dink dis omdat ek in ‘n huis groot geword het met ‘n baie vlytige ma. Hier in Kanada, kom jou huis klaar toegerus met meeste appliances – yskas, wasmasjien, tuimeldroër, stoof, mikrogolf en skottelgoedwasser is meestal klaar geïnstalleer. So jy het geen keuse oor wat jy kry nie. In my vorige lewe was ek bederf met die beste Samsung produkte. En nou het ons ‘n yskas wat ouer as my oudste kind is. Ek kla geensins nie, want dis ‘n yskas. Maar o genade, met ouderdom kom daar mos nukke en grille. Ek koop elke tweede week ‘n boks klaar verpakte groente by ons plaaslike groente winkel. In my laaste boks was ‘n klompie nektariens. Ek is dol oor nektariens. Dit smaak vir my soos somer! Ons yskas se nuutste nuk is om al die vrugte te vries. Maak nie saak hoe hoog of laag ek die temperatuur stel nie. Dus, toe ek nou een oggend my wil verlekker aan ‘n sappige nektarien, vind ek hulle is almal gevries. Ek was sommer oombliklik vies. Maar, met my ma se bloed sterk in my are, was daar ‘n plan te make. En vandaar ‘n Nektarien Krummel Tert. Hoekom? Want ek is mal oor ‘n lekker appel krummel. Appel tert is ook lekker, maar my hart en wese sal altyd eerder ‘n appel krummel kies. En dis hoekom hierdie ‘n tert en krummel in een is. Die beste van beide.

Nektarien krummel tert

Kors:

250 g koekmeel (all purpose werk goed)

125 g ongesoute botter

50 g versiersuiker

1 eiergeel (bêre die eierwit om oor die kors te verf)

15 – 30ml yswater

Knippie sout

Meng al die bestanddele vir die kors totdat dit net bymekaar kom as ‘n deeg. Plaas in die yskas vir ‘n uur.

Krummel:

90 g koekmeel (all purpose werk goed)

50 g bruin suiker

¼ teelepel kaneel

75 g ongesoute botter

25 g hawermout (oats)

Knippie sout

Meng al die krummel bestanddele tot krummelrig. Plaas in die yskas vir ‘n uur.

Vulsel:

6 nektariens (ek het myne nie geskil nie)

60 ml bruinsuiker

60 ml koekmeel (all purpose werk goed)

¼ teelepel gemmer

½ teelepel kaneel

Knippie sout

Meng al die vulsel bestanddele en laat staan by kamer temperatuur tot wanneer die kors en krummel laag reg is.

Metode:

Verhit die oond tot 350 F (175 C). Smeer ‘n 26 cm (10.5 in) tertbak liggies met botter (of wat jy ook al verkies). Rol die deeg uit tot die grootte van jou tertbak. Tel liggies op en plaas in die bak. Die kors mag dalk breek. Myne het. Moenie bekommer nie. Druk al die stukkies vas met jou vingers tot jou tertbak volledig bedek is met die kors. Verf die tertkors met die eierwit wat oorgebly het. Plaas in die yskas vir 15 minute.

Verwyder die kors uit die yskas en plaas die vulsel daarin. Verwyder die krummel mengsel uit die yskas en werk nog bietjie deur met jou vingers vir kleinerige frummels. Versprei die krummel laag oor die vulsel. Bak 40 – 50 minute tot die kors mooi bruin is. Laat heeltemal afkoel voor bediening (ten minste 1 uur). Dit sal heerlik smaak saam met 'n skeppie vanielje roomys!

Notas:

Hierdie resep is aangepas van seker 5 ander resepte in my arsenaal. Vir die kors en krummel, het die oorspronklike resep koue botter gebruik. Ek het gewone kamer temperatuur botter gebruik.

Ek het wit nektariens gehad wat redelik smaakloos is. Ek dink geel nektariens of selfs perskes sal 'n veel beter smaak verleen.

Ek is seker daarvan dat appels ook sou werk. Ek sou eers die appels skil, in blokkies sny, liggies kook vir 10 – 15 minute en heeltemal laat afkoel voor die vulsel bestanddele bygevoeg word.

Vir al die Halifax en Bedford inwoners:

Ek bestel elke tweede week ‘n boks groente/vrugte by Tomavo in Bedford. Ek vat gewoonlik die klein Combo. Dit kos $ 25. As jy inteken op hulle nuusbrief, kry jy elke week ‘n kode vir $ 5 af as jy aanlyn bestel (spandeer $ 25 of meer om te gebruik). Hulle het elke week ‘n klomp $ 1 winskopies (soos druiwe, avo’s, suurelemoene). Ek bestel gewoonlik ‘n paar van die items ook om binne die $ 25 kerf te bly.

44 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page