top of page
  • Anoniem

Ouma Lenie se pannekoek


Dis vandag die heerlikste, reënerigste weer hier in Halifax. Dis ‘n tradisie in ons huis om pannekoek te maak (en te verorber) as die eerste reëndruppels val. Min het ons geweet hoe baie dit hier reën! Die tradisie is dus bietjie aangepas – anders het ons 3 keer ‘n week pannekoek geëet.


As ‘n jong getroude dorpsmeisie, het ek het op die plaas in die droë Kalahari aangekom en nie eens geweet hoe om ‘n eier te bak nie, wat nog te sê van pannekoek as die reën uitsak oor die Kalahari se rooi duine. So het my man se ouma Lenie my onder haar vlerk geneem en ‘n dag spandeer saam met my in haar Aranos huis se kombuis en my geleer om ragfyn, Bybel-bladsy-dun, pannekoek te bak.


Sy het geglo die geheim is om ‘n druppel geel voedsel kleursel (vir kleur) en ‘n druppel suurlemoen geursel (vir smaak) by te gooi.

‘n Paar dae terug het ons hierdie wonderlike ouma, en martriarg van my skoonfamilie, aan die dood afgestaan. Sy los ‘n groot leemte in ons almal se lewens en ons almal gaan haar ongetwyfeld mis.


Hierdie is dalk nie haar resep nie. Ek dink nie eens sy het ooit ‘n resep gebruik nie. Elke liewe keer as ek my pan uit die kas haal om die volgende baksel pannekoek aanmekaar te slaan, dink ek aan haar. So hierdie is my resep, met ‘n stywe dosis herinnering daarby ingemeng.


Pannekoek

(12 – 24 pannkoeke, afhangend van pan grootte en pannekoek se dikte)


500 ml koekmeel

10 ml bakpoeier

2 ml sout

2 eiers

250 ml melk

30 ml sonneblomolie

450 – 500 ml water


Metode:

1. Meng alles saam. Moenie te veel aandag gee aan ‘n meel klontjie hier en daar nie. Jy wil nie die mengsel te veel klits nie.

2. Laat staan dit vir so 30 minute. Dis nie ‘n moet as jy haastig is nie. Dis maar net om die meel te rehidreer.

3. Bak in ‘n kleefwerende pan tot die kante van die pannekoek begin omkrul en wegtrek van die kante van die pan. Draai om en bak nog ‘n paar sekondes.

4. Geniet elke happie!



Notas:

· Ek het gevind dat ‘n kleefwerende pan die heel beste werk. Jy kan na so elke 10de pannekoek ‘n klein bietjie olie in die pan smeer. As jy enige ander pan gebruik, sal jy moontlik olie tussendeur moet gebruik.

· Ek gebruik so 45ml – 60ml se beslag op ‘n keer. Dit gee vir my die heel dunste pannekoeke. Andersins is dit so dik soos skoensole.

· Draai en swaai jou pan soos jy die beslag ingooi sodat dit eweredig oor die boom versprei en ‘n mooi dun lagie maak.

· As die beslag vir jou te dik lyk, gooi nog bietjie water by.

· Ek gebruik ‘n $10 pan van IKEA vir my pannekoek. Dis ‘n 18 cm een.

4,666 views3 comments

Recent Posts

See All

3 Comments


jacolinevdmerwe
Jul 09, 2021

Jy moet meer stories oplaai, ek geniet dit om jou verhale te lees! Jy het baie goeie penmanskap en ek is elke keer onsteld as die storie klaar is en ek moet wag vir 'n volgende een. 😊 Jammer om te hoor van Ouma Lenie. ❤

Like
jacolinevdmerwe
Jul 09, 2021
Replying to

Ek sien uit daarna.

Like
bottom of page