top of page
  • Anoniem

Vetkoek...soos die basaar tannies s'n


Grote Griet! Toe ek die vetkoek resepte begin toets, het ek nooit gedink dit sal my soveel grys hare gee nie. Meer as wat my kinders (of man) my gee!


Ek was op soek na daardie goudbruin perfeksie! Bros aan die buitekant, met 'n groot gat in die middel wat jy kan vul met baie, baie kerrie maalvleis. As jy in dit byt, moet die kerrie eintlik by jou hand afloop. En mag ek noem, in my soeke na perfeksie, het ek die laaste week seker meer vetkoeke as enige basaar tannie in Augustus gebak.


My sussie se dogter laat weet my: vra net my ma, sy bak die beste vetkoeke. So haar raad is sommer ook hier ingeweef! Ek het elke liewe brokkie raad ter harte geneem, en eindelik het ek iets gevind wat vir my werk.


Vetkoek

Bestanddele

250 ml lou water

5 ml suiker

5 ml gis (Fleischmann Active Dry Yeast, nie instant nie)

625 ml meel (all purpose werk goed)

2.5 ml sout

15 ml botter

Kook olie vir diepbraai


Metode

  1. Roer die water, suiker en gis saam tot die gis opgelos is.

  2. Meng die res van die bestanddele by en knie goed (vir 'n 5 minute).

  3. Laat rys vir 30 minute.

  4. Rol die deeg uit tot so 2 cm dik op 'n geoliede oppervlak.

  5. Druk vetkoeke uit met 'n ronde koekiedrukker of glas (so 10 cm in deursnee).

  6. Verhit die olie tot warm (so tussen 130-150 C).

  7. Sit die vetkoek in die warm olie. Die kant wat onder was met die uitrol, moet nou bo wees.

  8. Sit die deksel op, en los dit vir 2 - 3 minute om bruin te braai en op te pof (dis hier waar die gaatjie ontwikkel).

  9. Haal die deksel versigtig af, draai om, sit die dekstel terug, en bak weer 2 - 3 minute aan die ander kant.

Maak 6 - 7 vetkoeke.

Notas:

  1. Die geheim blyk te wees, die uitrol en uitdruk van die vetkoeke. En ek het baie maniere probeer. Hierdie was beslis die mees suksesvolste.

  2. My sussie los haar uitgedrukte vetkoeke om nog 20 minute te rys voor sy dit bak. Ek het dit net uitgedruk en gebak.

  3. Jy kan die botter in die resep met olie vervang.

  4. Die vetkoeke maak vog terwyl dit bak, so daar val druppeltjies water in die olie en dit skiet as jy die deksel afhaal. Werk dus asseblief versigtig! Daardie warm olie brand baie seer. Moet ook nie direk oor die pot staan nie. Staan maar bietjie terug.



2,737 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page