In ons huis eet ons pannekoek met die eerste reën. Die jaar kom die voorstel toe, dit moet melkkos wees met die eerste sneeu. Alhoewel ek moet erken, dit staan bekend as padda-ogies in ons huis, want ek verkies sago bo snysels. Hier is my vinnige resep daarvoor as dit dalk ook sneeu daar waar jy bly of as jy dalk bietjie nostalgies voel!
Bestanddele:
10ml olie
45 ml botter
125 g spaghettini (die dun spaghetti)
875 ml melk
875ml water
1 blik kondensmelk
2 stokke kaneel
5 ml sout
60-125 ml sago
Metode:
Smelt die olie en botter saam.
Braai die spaghettini in die olie tot strooikleurig.
Gooi alles behalwe die sago by en bring tot kookpunt. Draai die hitte na medium.
Week die sago vir 10 minute. Onthou om deurgans die mengsel op die stoof te roer (dit brand maklik).
Spoel die sago af en dreineer. Gooi by die warm mengsel in die pot.
Kook tot alles gaar is. So min of meer 30 minute. Onthou: roer, roer, roer.
Skep in bakkies en strooi fyn kaneel oor (as jy dit soeter verkies, gebruik kaneelsuiker).
Wenke:
As jy van dik melkkos hou, gooi 125ml sago by.
As dit te dik is, maak dunner met nog melk.
Comments