• Anoniem

'n Sak vol kwepers


As jy weet watter vrug op hierdie foto is, reken ek jy is nie ‘n geboortereg Kanadees nie. Ek gaan nou-nou vertel hoekom.

Elke oggend staan en wag ons by die snelweg vir die skoolbus. Daar is maar min kinders wat by die stop op die bus klim. 6 in totaal (waarvan myne alleenlik 3 is). So merk ek hierdie vreemde man op wat heeltyd vinger wys en beduie van ‘n distansie af. My Afrika (of dalk mamma) instinkte vertel vir my hier is iets vreemd aan die gang. Saam met hom is 2 kinders en elke keer as hy so vinger wys en iets in sy kinders se ore fluister, sien ek ‘n greep uit die film Taken in my geestesoog (dit gaan oor mensehandel). Ek hou my kinders dop met valkoë en vertrou hierdie vreemdeling net solank ek hom onder oë het.

Teen die derde oggend daag hy daar op met ‘n vrou. En onmiddellik begin ek wonder wat die taktiek agter hierdie vrou is. Ek kan sien hulle is van ‘n ander afkoms (sy dra ‘n kopdoek), maar kan nie lekker peil presies van waar af nie. En kan jy nou meer, daar daag die skoolbus vir my oudste nie op nie. Dis later 09:00 en dit raak duidelik dat geen bus gaan opdaag nie. Ek sê vir my oudste ons gaan maar terug huis toe stap. Hy kan maar die dag af vat – ‘n bietjie van ‘n bonus vakansie.

Net so voor ons loop sê die vrou vir my in gebroke, maar verstaanbare Engels: No, you come with me. I take you to school. In baie duidelike Afrikaans sê ek vir my seun ek dink nie dis ‘n goeie idee nie. Maar hierdie vrou dring aan; sy vat hom skool toe. Gryp my sommer ook aan die arm, sleep my kar toe en sê: you come with. Mense, my hart het amper gaan staan. Maar so klim ek in die kar. Baie ongemaklik met hierdie situasie. My heel eerste aksie is om vir my man ‘n boodskap te stuur en vir hom te vertel dat ek op pad skool toe is met ‘n wildvreemde vrou. As hy binne 30 minute nie van my hoor nie, moet hy weet daar is fout. Ek het nie eens die kar se registrasie nommer opgemerk nie.

My hart klop teen dubbel sy normale ritme tot ons voor die skool se deure stop. Die twee seuns klim uit en pak hulle skooldag aan. En hierdie vrou sê vir my: and now I take you home. Tell me your address. So doem elke moontlike scenario voor my op. Die rooi vlaggies wapper; maar nuwe land, nuwe dinge. Sy laai my reg voor my deur af en ek slaak ‘n sug van verligting. In my gedagtes kon hierdie hele petalje heeltemal anders afgespeel het.

Die middag ontmoet ek haar weer by die busstop en bedank haar weer vir haar gawe guns. Terwyl ons nog so staan en wag vir die bus, bel die skool. Die twee seuns het hulle bus gemis. Don’t worry sê sy vir my, I bring your son home.

O julle! Ek stap huis toe met ‘n gebed vir elke treë wat ek gee. Vir my kind se veiligheid, want ek is die keer nie saam nie. Ek sit op my huis se trappe en tel die minute af. Na ‘n lang 30 minute stop sy voor my deur. My seun is heel onbewus van sy ma se oproerige hart. Ek bied haar $ 20 aan vir brandstof geld. Sy het my voorwaar ‘n yslike guns bewys. Sy weier botweg om dit te aanvaar.

Met die ys wat gebreek is, begin ons meer en meer gesels elke dag. So leer ek, hulle is ‘n Siriese gesin en bly al vir 15 jaar in Kanada. Sy het ‘n hart van goud en kyk sommer ook na haar buurvrou (wat ‘n vorm van Alzheimers het).

Eendag nooi sy my vir koffie, want die kinders wil tog graag speel. Dis ‘n heel aangename namiddag. En ek begin voel meer op my gemak. Die kinders begin speel oor en weer. Een oggend bly hulle by haar terwyl ek gaan vir ‘n afspraak om my hare te laat doen. Met die terugkom slag staan sy slaggereed by die deur. Hulle het ‘n verrassing vir my.

Sy het ‘n hele drasak vol pruime en tamaties uit haar tuin gepluk vir my. Ek sê vir haar sy is darem gelukkig om so ‘n lekker tuin te hê. Sy dring aan ek moet haar tuin kom aanskou. Met die uitstap by die agterdeur, vang my oog die boom met die vreemde vrugte. Onmiddellik vra ek haar wat dit is. Dit lyk amper soos appels. My vraag was nog nie eens amper geuiter nie, toe ek besef dis eintlik kwepers. Twee yslike groot bome met kwepers wat hang aan elke tak.

Sy is stom verbaas dat ek weet wat dit is. Die Kanadese wat elke dag verby haar huis stap, wil gereeld weet watter vreemde vrug dit is; hulle ken dit nie. Sy het spesiaal die saad van Sirië af saamgebring omdat sy dit nie hier kon kry nie.

Sy belowe my as die kwepers reg is, sal sy vir my ook gee. En dis hoe ek toe opeindig met ‘n hele groot sak vol kwepers. My plan is om blatjang daarmee te maak en ‘n paar in te lê. So bietjie kinderlike nostalgie vir my.

En dis hoe ek my Siriese vriendin ontmoet het. Al kom ons van twee heel verskillende wêrelde en kontinente af, het ons so baie in gemeen. Soos ons oor ons verskillende lande praat, vind ons soveel ooreenkomste met wat ons eet en hoe ons leef. Melkkos is in ons huis ‘n reënerige aand bederf; vir hulle is dit ontbyt. Hulle rys poeding word gegeur met bietjie rooswater en pistasie neute (afgelewer by ons deur); ons weergawe is meer Brits.

Ek dink dis een van die beste voorregte om hier te bly. Die kans om ons horisonne te verbreed en met mense van ander lande te kan kennis maak.

91 views0 comments

Recent Posts

See All