O genade! Ek het ‘n hele opstel reg gehad vir gister (4 Feb. 2021) en toe raak ek besig! Baie besig! So julle moet hierdie maar lees in die verlede tyd!
So! Hier is ons nou. Dis ‘n volle jaar later. Of dan; ‘n jaar en een dag. Die foto wys dalk 3 Feb., maar met Halifax tyd in ag geneem, het ons amptelik die eerste keer ons voete op Nova Scotia grond gesit op 4 Feb. 2020. En wat ‘n jaar was dit nie!
As ek moet dink aan die laaste jaar was dit tegelyk die langste en kortste jaar gewees. In my hart voel dit maar soos ‘n paar maande en tog sê my kalender iets anders.
Ek dink die maklikste manier van hierdie blog aanpak is dalk in ‘n vraag en antwoord styl.
Is ons nog gelukkig?
Dit hang af wat jou definisie van geluk is. Ons is so gelukkig as wat ons kan wees. My definisie van geluk lê beslis nie in die kar wat ek ry of die huis waarin ek bly nie. Ons is gelukkig want ons het ‘n dak oor ons kop, ‘n stabiele inkomste en die hoop op meer geleenthede vir ons en ons kinders.
Werk jy?
Nee, ek werk nie. Nie in die tradisionele sin van die woord nie. Met 5 mense in die huis is daar altyd baie om te doen. En as jy nog nie gesien het nie – daar is ‘n nuwe bak projek op die horison. En natuurlik help die Canada Child Benefit ook elke maand (gaan lees gerus daaroor as jy nie weet wat dit is nie).
Is die gras regtig soveel groener daar?
JA! Want dit reën (of sneeu) so baie hier! Dis seker een van die moeilikste goed om te verduidelik. Die lewe hier is net anders. Daar is ‘n vryheid wat kom posvat in jou siel as jy nie meer agter tralie deure en hoë mure bly nie.
Wat sou ons anders doen?
Die grootste een – ons moes hierdie stap al 10 jaar terug gedoen het. Maar nou ja, wysheid kom saam met grysheid, nè! Ek dink ons sou alles presies weer net so doen. Ons sou dalk ‘n ander verskepings maatskappy gebruik het, maar ek sou nog steeds my meubels saambring (minus ‘n hele klompie goed wat onnodig was). Dit het vir my onmiddellik weer soos MY huis gevoel toe ek op my eie bed kon slaap onder my eie beddegoed iewers in ‘n ander deel van die wêreld. Ons sou ook beslis vinniger ‘n motor gekoop het in plaas daarvan om so lank met ‘n huurmotor te ry. Hierdie is wel alles waardevolle lesse wat geleer is.
Verlang jy na Namibië?
Met my hele hart en siel hunker ek na Namibië. Dit reën damme vol op die oomblik (en dit gebeur bitter min). Ek sal wat wou gee om nou die woestyn te sien – geheel en al geklee in groen. Maar ek weet waar ek moet wees, en dis hier. As ek net bietjie aan ‘n tak hang is ek een van die dae weer omring met Kanada se mooi groen bome en mere (wat nie gevries is nie).
Sal julle terug trek Namibië toe?
Moet nooit nooit sê nie. Ek het in 2009 ook gesê ek sal NOOIT Kanada toe trek nie, en kyk waar sit ek nou; kniediep in die sneeu (nie regtig nie).
Is dit regtig so koud?
Dis ons eerste amptelike volle winter. Sover was dit heel hanteerbaar. En sneeu is baie lekker – vir toboggan, vir slushies en vir sneeumanne bou! Die ooskus is nie die “prairies” of BC nie. As liewe Lauren hulle -36 C temperature deel voel ek die koue tot in my gebeendere. As julle ‘lekker’ weer soek, trek ooskus toe! Dis lekker hier! (In alle eerlikheid, ek het geen idee hoe koud dit is in die res van die yslike groot land nie).
Hoe weet ons ons het die regte besluit gemaak?
Ons weet nie. Geen mens sal ooit weet nie. Ek weet wel hoekom ons die besluit gemaak het. Op die dae wat ek wonder wat ons besiel het, hou ek daardie rede in my geestesoog. Dis vrek moeilik om op daardie dae te wil uithou en aanhou. My grootste motivering (en julle mag maar lag); is skoolfonds! Privaatskole in Namibië is duur (hier is dit nog duurder). Die verskil is egter dit – in Namibië sou ek nooit my kinders kon stuur na ‘n staatskool toe nie en hier is ‘n staatskool heel goed. My liewe vriendin Carla het met ‘n hutsmerk (hashtag) begin wat sy noem #rememberyourwhy. As jy ooit wonder of hierdie die regte besluit is, gaan soek daardie hustmerk en lees al die ander mense se motivering.
My oudste moes nou die dag ‘n projek by die skool doen oor kultuur. Die liewe kind gaan kies Suid Afrika. ‘n Land waarvan hy nie veel weet nie (geen idee hoekom hy nie Namibië gekies het nie). Aan die etenstafel die aand kom musiek toe op as deel van hierdie projek. Ons is nie een liefhebbers van Afrikaanse musiek nie (moet my nie kruisig nie), maar met die oog op die projek, speel ons toe so paar liedjies vir hom want die arme kind het nog nooit na iets Afrikaans geluister nie (behalwe nou sy ma se konstante “Tel jou klere van die vloer af op”!). Ieder geval, ons speel toe van die meer moderne musiek, en volg op met Dozi se Ou Ryperd en Die Campbells se Rooirok bokkie (stokoud, maar dit was die idee agter die projek).
Iewers langs die pad het ons heel rigting verloor. Op die ou einde het hy toe sommer ‘n hele skoling in musiek gekry en het saam geluister na Bryan Adams, Elvis Presley, Tina Turner, Green Day en nog ‘n klomp ander (mengelmoes se moses). So kom ons toe uit by Creedence Clearwater Revival (my pa se heel gunsteling) met Have You Ever Seen The Rain (coming down on a sunny day).
Die gedagte vat toe pos: hoe waar beskryf die liedjie se trefferlyn nie die immigrasie proses nie? Dis inderdaad soos reën op ‘n sonnige dag! Jy sit hier, in die land van melk en heuning, die land van jou keuse, maar die jou wese verlang (reën) jy vir die land van jou jeug.
Namibië sal altyd my hartklop-land wees en Kanada sal altyd my keuse-land wees!
(‘n Heel laaste nota – Jip, my naam is soms Martha. Maritza is baie moeilik in die Engelse wêreld!)
Comentários