top of page
  • Anoniem

Melktert roomys


Ek is SO opgewonde om hierdie resep te deel! Dis iets wat ek baie lank terug beproef het, en dit was toe net so lekker!

Ek is nie regtig ‘n tert persoon nie. Gee my eerder ‘n baie lekker skyf sjokolade of wortel koek. Maar melktert; melktert het ‘n spesiale plekkie in my hart. Dis iets waarvoor elke persoon seker sy eie unieke resep het en hulle gaan sweer hulle s’n is die beste.

Ek belowe jou, hierdie melktert roomys IS die beste! As jy ook ‘melktert liefhebber is, is hierdie net die regte somer son bederf vir jou!

Melktert roomys

Bestanddele:

237 ml room (of 250 ml as jy iewers anders in die wêreld bly)

500 ml volroom melk

1 blik kondensmelk

4 eiergele

5 ml kaneel

5 ml vanielje geursel

1 ml sout

Metode:

· Verhit die room, melk en kondensmelk tot net onder kookpunt.

· Draai die stoof plaat tot tussen laag en medium.

· Gooi ‘n eetlepel of twee van die warm melk mengsel oor die eiergele en meng dit goed deur. Meng nog ‘n paar lepels van die melk mengsel by. Dis net om die eiergele bietjie op te warm. As jy die eiergele net bygooi, gaan dit skif.

· Gooi die eiergeel mengsel by die res van die melk.


· Kook dit oor baie stadige hitte tot net dik. As jy dit te vinnig en te warm kook, gaan jy roereiers maak. Dit is reg as die eier mengsel so dik soos room is. As jy ‘n streep deur die mengsel kan trek (op ‘n houtlepel) met jou vinger en die streep bly daar, is dit reg.

· Roer die kaneel, vanielje en sout by.

· Los dit om heeltemal af te koel tot kamertemperatuur en plaas in die yskas vir ‘n paar uur.

· As die mengsel heeltemal afgekoel is, gooi dit in jou roomysmaker se bak. Laat dit karring vir so 30-40 minute.

· Skep uit en plaas in die vrieskas.

Notas:

· As jy nie ‘n roomysmaker het nie, probeer hierdie metode:

Gooi die eiermengsel in ‘n bak, bedek en vries vir ‘n paar uur. Dit moet nie heeltemal hard wees nie. Klits dit goed deur met ‘n hand klitser. Vries weer. Herhaal die proses nog 2 keer. Dit mag dalk bietjie yskristalle vorm met die proses.

· Op die foto hierbo, het ek die roomys tussen 2 tuisgemaakte klapper koekies gesit. Dan is dit nou regtig net so goed as om melktert te eet.

748 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page