top of page
  • Anoniem

Koeksisters...soos Woolies (of jou tannie) s'n!

Updated: Jul 17, 2020

So, as jy van die suidelike punt van Afrika trek na 'n vreemde land toe, is daar sekere goed (en winkels) wat jy mis! Ek weet nie wie mis wie die meeste nie: ek vir Woolies (Woolworths) of Woolies vir my!


Een item wat meestal die pad na my mandjie gevind het, was daardie pakkie met 12 mini koeksisters. Hulle is gelyk gedeel. Fair & square! En nou, nou is hier nie meer 'n Woolies nie. Maar wat hier is, is bestandele vir koeksisters. Ek het my magdom kookboeke saam getrek. Daar was geen gekibbel daaroor nie.


Maar, en dis 'n groot maar, ek het nog net een maal vantevore koeksisters gebak. En dit was nie wat ek onthou uit my kinderjare nie. My tannie was 'n bobaas koeksister bakker - die hele dorp het by haar bestel en gesmul daaraan. As jy dit byt, dan kraak dit en die stroop drup sommer uit. Ja, wonderlik soos hare was, dit was nie hoe my eerste lot geproe het nie. Dit was maar 'n soeterige, degerige affêring.


En dit bring my hier - tot in Kanada. Die buurvrou bly dra goed aan vir ons - dek stoele, avokados, kersies, roomys vir die kinders, kole vir die braai. Ons voel skuldig! Kanadese is bekend vir hulle goedhartigheid en vrygewige gees (dis regtig so). My man sê vir my: my vrou, jy sal iets moet maak vir die oom en tannie (hulle is al 60+). Nou ja, en daar kry die koeksister ding spoed. Ek voel ek moet vir hulle ietsie gee wat eie aan ons kultuur is.


Daai hordes boeke word uitgepak. Iewers is my tannie se resep, moontlik nog in my (oorlede) ma se handskrif. Dit laat pik my sommer 'n traan van verlange terwyl ek krap en soek. En dan onthou ek, daar is mos 'n hele stapel Boerekos tydskrifte wat saam getrek het. En daar, tussen al die ander 1,000 resepte, kry ek die een. Die een wat hoogs aanbeveel kom.


Sondag oggend besluit ek dis bak dag. Ek volg daai resep tot op die nommer en letter. Dis beslis nie 'n flop-vry resep nie. My man kan sien my gesig is rooi van frustrasie. Maar aanhouer wen! Met 'n paar veranderinge aan die oorspronlike resep slaan ek goud raak! Die buurvrou is uit die veld gelsaan en smul aan die Afrikaner lekkerny. Kan ek nog kry?


So hier is die resep (met veranderinge) sou jy dalk ook jou (Kanadese) buurvrou wou beïndruk.




Stroop (maak vorige dag):

· 2 kg suiker

· 1 liter water

· 2 ml sout

· 5 ml vanieljegeursel

· 5 ml suurlemoensap

· 5 ml kremetart (cream of tartar)

Deeg:

· 550 – 625 ml koekmeel (all purpose flour werk heel goed)

· 20 ml bakpoeier (baking powder)

· 3 ml sout

· 2 ml kremetart (cream of tartar)

· 100 g ongesoute botter (gesmelt)

· 1 eier (geklits)

· 100 ml volroom jogurt (Liberte 5% is my gunsteling)

· 100 ml melk


Stroop: Verhit die suiker, water en sout tot die suiker gesmelt is. Verhit tot kookpunt en kook vir 5 minute. Verwyder van die hitte en roer die res van die bestandele by. Verdeel in twee dele en laat afkoel. Plaas oornag in die yskas.


Deeg: Meng (of sif) al die droëe bestandele saam (meel, bakpoeier, sout, kremetart). Meng die nat bestandele saam. Gooi die nat bestandele by die droëe bestandele. Meng tot 'n sagte deeg. (Werk met 'n ligte hand. Jy soek nie klei nie.) Laat rus dit vir 20 minute. Rol uit op 'n meel bestrooide oppervlak tot so 3-5 mm dik. Sny in stroke van so 2 - 3 cm. Verdeel elke strook, sonder om dit dwarsdeur te sny aan die bokant (die fotos sal dalk help om beter te verstaan). Vou die stroke oor mekaar (soos 'n vlegsel) en sny in verlangde lengte. Druk die punte baie mooi styf vas, anders gaan dit oop as jy dit bak. Plaas die koeksister vlegsels op 'n ge-oliede bakplaat en bedek met 'n lappie (of plastiek) terwyl jy die deeg klaar sny en vou.




Verhit olie tot tussen 140-160 C. Bak 5-6 koeksisters op 'n slag tot mooi bruin en bros. Skep uit met 'n gaatjieslepel en dompel dit onmiddelik in die koue stroop. Hou dit daar vir so 30-60 sekondes. Skep dit uit in 'n vergiettes sodat die oortollige stroop kan afdrup.


Maak 60 - 70 klein koeksisters.



Notas:

  1. Die oorspronklike resep kom uit Landbou Boerekos Somer 2017-'18 Erfeniskos (bladsy 101). Ek het die meel vermeerder (die deeg was baie slap) en die stappe bietjie meer probeer uitbrei. Die resep vra ook vir aangesuurde melk (of dan karringmelk) . Ek het altyd jogurt in my huis, dus my rede daarvoor.

  2. As jy nie bakpoeier het nie, vervang dit met 10 ml kremetart (cream of tartar) en 5 ml koeksoda (baking soda).

  3. Ek verkies om met 2 stringetjies te werk en nie 3 soos met 'n vlegsel nie. Dit voel vir my elke stukkie deeg word bruin gebak met net 2 stringetjies en die stroop absorbeer beter. Maar dis my persoonlike keuse.

  4. Jy kan veel meer smaakmiddels by die stroop sit - 'n stuk kaneel, ster anys, meer suurlemoensap, gemmer stukkies. Ek verkies myne soos hierbo.

  5. Die stroop is genoeg vir 2 keer se bak. Bêre dit in die vrieskas vir volgende keer (wat dalk net 'n week later mag wees).

  6. Ek hou van klein, kort koeksisters en kry 60-70 van hulle met een lot deeg. As jy hou van langer en groter koeksisters, sal dit natuurlik minder wees.

  7. Onthou asseblief om deurentyd tussen die 2 bakke stroop te wissel. Die stroop moet altyd koud wees.

  8. Die vanieljegeursel hier is geen Robertsons nie. Dit ruik en smaak erg na alkohol. Ek gebruik op die oomblik die ekstrak (nie essens) wat Walmart verkoop.

  9. Volgens bobaas baksters moet jy die deeg op 'n ge-oliede oppervlak uitrol. Die meel laat die olie skuim. Ek het probeer. Dit het nie gewerk nie.

  10. Volgens oorlewing moet gebakte koeksisters wat gevries word bedek wees, maar koeksisters wat in die yskas gehou word, moet oop gehou word.

Ek hoop jy maak dit en as jy doen, deel tog asb 'n foto of twee!



Koeksisters (English version)
.pdf
Download PDF • 98KB

597 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page