top of page
  • Anoniem

Kanada, die land van melk en heuning


Ek was so bietjie in stilte gehul die laaste rukkie. Ek moes net eers weer mens voel. Ek was so bietjie ‘under the weather’ soos die Engelsman sou sê.

Terwyl ek gister in my bed lê en baie jammerlik voel vir myself, begin ek en ‘n hartsvriendin ‘n gesprek op Whatsapp. En so tussendeur raak ons sommer ‘n paar punte aan wat ek dink nie baie mense oor praat nie.

So hierdie is sommer ‘n stukkie uit my hart uit.

As mens met hierdie proses van immigrasie begin, of dalk nog net daaroor praat, gaan jy dalk bietjie lees en baie navors (of andersom). En meestal gaan mense vir jou sê Kanada is wonderlik! Pak jou tasse en trek net! Was dit maar so maklik, né.

In jou navorsing en leeswerk, mag jy dalk sien hoe laag is die werkloosheidsyfer, hoe mooi is die mere, hoe goedkoop is karre en dat skool en medies verniet is. Dis alles baie lekker en wel. Maar hier is die ding – daardie mense wat vir jou so sê, bly dalk al hier vir die laaste 5 tot 10 jaar. Hulle is al redelik ingeburger in die daaglikse lewe. Hulle het nie pas van die vliegtuig afgeklim nie.

As jy hier land, is jy in vervoering. Jy het pas in die land van melk en heuning (of dan maple syrup & chocolate milk) geland. Almal het jou vertel hoe lekker en maklik die lewe in Kanada is. As jy kyk na mense se foto’s op Facebook of Instagram, sien jy net glimlag op glimlag. Dis die mooiste mere, strande en woude en die lewe is ‘n lied. Maar onthou, die werklikheid wat meeste van ons lewe op sosiale media, is nie die realiteit nie. Jy wil nie oor ‘n jaar van nou ‘n Facebook memory kry en daar sit jy; betraande oë en siels ongelukkig. Jy mis vriende en familie. Jy mis jou eie huis. Jy mis jou goed. Maar meeste van alles: jy mis bekendheid!

As jy hier aanland wag niemand jou in op die lughawe en skud jou hand en verwelkom jou nie. Dis ook nie hoe dit moet werk nie. Maar meer so, is daar niemand wat outomaties uitreik na jou en jou helpende hand gaan wees nie. Ons het ons poegaai gesukkel om vir medies te registreer, die skole se inskrywing was ‘n riller (COVID), ons kon glad nie die Newcomer Centre opspoor nie, niemand het ons vertel van die derduisende rande wat ons aan deposito’s gaan spandeer nie en sommer nog baie ander goed.

Die werkloosheidsyfer het jou dalk wys gemaak dat om werk te kry, so maklik is as om jou CV (résumé) te stuur vir ‘n paar maatskappye en binne 2 weke het jy ‘n werk. Maar die feit is, dit het vir ons 4 maande gevat om darem vir een van ons ‘n werk te kry (ek moet wel noem dat COVID ons lelik gepootjie het).

Om ‘n kar te koop is nie so maklik nie, want versekering vir buitelanders is ongelooflik duur hier (dit gaan oor Kanadese ry ervaring, meer as PR status). As gevolg van COVID kon ons nog glad nie lisensies kry nie.

Mense wou nie huise aan ons verhuur nie, omdat ons nie werk gehad het op daardie stadium nie. Al het ons aangebied om 3-6 maande se huur vooruit te betaal.

En so tussendeur, verloor jy bietjie jou geloof. Of altans ek het. Ek was so kwaad. Ek het verraai gevoel. Vir ander was dit so maklik. Hulle besing die lof van die land en kan nie genoeg goeie dinge van Kanada praat nie. Binne die eerste maand of twee het hulle werk gehad, ‘n mooi huis en is heeltemal ingeburger. Daar is gebid oor hierdie skuif van ons. En ek glo met my hele hart hierdie kans is aan ons gegun deur genade alleen. En tog, hier sit ons – letterlik 3 maande weg van slaap op die straat of in die kar (op daardie stadium).

Maar weereens, toe ek besef hierdie journey is nie in my hande nie, en ek sal moet leer om oor te gee, toe val alles eintlik half in plek nes dit moes.

Is Kanada die land van melk en heuning? Nee

Is dit maklik om te immigreer? Nee

Sal ons dit weer doen? Ja

Is ons gelukkig? Ja, op hierdie oomblik

Die goed is beslis vêr meer as die sleg. En as ek vir iemand moet raad gee, sal ek ook sê: pak jou tasse, pak dit sommer nou. Maar kom asb. met ‘n oop gesindheid en goeie gemoed. Weet jy gaan vêr meer sukkel as wat jy verwag daardie eerste ruk, maar binne ‘n paar jaar (of dalk maande) gaan Kanada voel soos die land van melk en heuning.

Ek wil net noem, hierdie was ons ervaring. Joune was dalk baie makliker of baie moeiliker. Maar dis wat immigrasie so uniek maak. Niemand se storie is ooit dieselfde as joune nie.

238 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page