top of page
  • Anoniem

Kamma Bovril en kaas rolletjies

Updated: Jul 31, 2020


Mis jy ‘n bovril broodjie? O jinne, ek doen! My kinders mis dit vir seker! Bovril is hier soos witgoud. As jy dit in die hande kry, eet jy spaarsamig daaraan. Jy weet nie wanneer jy weer gaan kry nie.

Jy kan dit op Amazon bestel – en dan kos dit amper soveel soos witgoud per pond! Ek was gelukkig genoeg om nog van die laaste botteltjies te kry by Eet Sum More (in Ontario). Maak nie saak wat dit gekos het nie, dit was deur en deur die moeite werd.

Gister sit en kliek ek so deur Instagram en hier doem ‘n resep op van Jan Hendrik van der Westhuizen – Marmite Swirls. Dit lyk vreeslik lekker! Maar in my hele wese is ek nie ‘n Marmite liefhebber nie. En heel toevallig kan jy Marmite hier sommer maklik vind. By Walmart, Sobeys en Atlantic Superstore het ek al Marmite raakgeloop. Al Bovril wat jy hier kry, is die botteltjies aftreksel.

Maar ek het iets anders ontdek. Ek het dit eintlik gekoop vir ‘n bredie in die winter, maar die onmiskenbare Bovril reuk het my getref die oomblik toe ek die bottel oop maak! Dit gaan dalk nie so lekker werk op ‘n sny brood nie (dit het ‘n korrelrige tekstuur), maar vir hierdie resep werk dit perfek!

Ek het die resep aangepas en so bietjie Kanada vriendelik gemaak. Die bestanddele is redelik maklik bekombaar in elke uithoek van Kanada. Ek dink ook hierdie is ‘n perfekte braai bygereg!


Lees asseblief die notas voor jy begin bak!



Kamma Bovril en kaas rolletjies

Brood:

600 g meel (All purpose werk goed)

10 ml suiker

10 ml sout

5 g kits gis

360 – 400 ml louwarm water

Meng al die bestanddele saam en knie vir 5-10 minute. Laat rys vir 30 minute.

Smeer:

15 – 17.5 ml Better Than Bouillon Beef Base

70 g ongesoute botter

Smelt die botter tot net gesmelt. Moet dit nie kook nie (so 25 sekondes in die mikrogolf). Roer die aftreksel by. Klits goed met ‘n draad klitser tot goed gemeng. Laat staan dit om weer effens solied te word (die 30 minute terwyl die brood rys). Klits dit deurentyd om seker te maak dit meng goed deur.

Ekstra:

250 g kaas, gerasper

1 eier, geklits

Samestelling:

· Rol die deeg uit in ‘n langwerpige vorm tot die deeg so 1 cm dik is.

· Smeer die botter/aftreksel mengsel oor.

· Strooi die kaas oor.

· Rol in die lengte op.

· Deel die rol in die helfte.

· Sny nou die rol in die lengte in die helfte deur. Los die bopunt geheg.

· Vleg die twee helftes oor mekaar.

· Sny in 6 skyfies.

· Herhaal met die ander rol.

· Plaas ‘n skyfie in elke holte van jou kolwyntjie pan.

· Laat rys vir 30 minute.

· Verhit oond tot 375 F (180 C).

· Verf die broodjies se bokante met die geklitste eier.

· Bak vir 30 minute.



Notas:

· Ek gebruik Compliments se Unbleached All Purpose meel.

· Ek gebruik net 5 g gis. Ek weet nie wat is in die gis nie, maar liewe genade dit rys vreeslik vinnig. Ek het gevind as jy 10 g gebruik, soos meeste SA resepte voorstel, raak die deeg baie moeilik (amper taai) om mee te werk. Ek gebruik Fleischmann gis (dis 'n geel pakkie).

· Ek moes 400 ml water gebruik. Begin eers met minder en pas dit aan soos nodig.

· Ek het begin met 15 ml van die aftreksel en eers geproe daaraan. Ek was gelukkig met 17.5 ml. Werk met ‘n ligte hand. Dis baie sout! Die finale produk het nie ‘n oordonderende Bovril smaak nie. Jy proe dit baie ligweg. Dit smaak meer na Bovril die volgende dag.

· Omdat die aftreksel baie sout is, beveel ek ten sterkste ongesoute botter aan. Onthou die kaas is ook nog sout.

· Ek het minder kaas gebruik om dit meer ekonomies te maak. Niks keer jou om meer kaas te gebruik nie. Hou net die sout inhoud in gedagte.

· Ek hou van my (bitter ou) metaal kolwyntjie panne. Ek het ook silikoon panne, maar ek dink persoonlik dat metaal panne beter werk. Gebruik wat jy het.

· As jy dit as ‘n heel brood wil bak, is dit ook moontlik. As jy die deeg opgerol en klaar gesny het, rol dit al in die rondte van ‘n groot (25 – 28 cm) koek pan. Jy sal dit dalk bietjie langer moet bak. Maar dit mag dalk gaar wees na 30 minute. Ek het nog nie die resep so probeer nie, maar het ‘n pesto brood resep wat ek so maak. Dit lyk ongelooflik mooi!

· Hierdie gebak kan nogal rokerigheid veroorsaak. Dis al die olie in die botter en kaas. Maak al jou vensters oop, en staan reg met die pan om die rook weg te waai van die ‘smoke dectector’ af. Ek sou voorstel dat jy eerder die kolwyntjie pan op 'n ander pan plaas. Dis die olie en botter wat drup in die oond wat die rook veroorsaak (en jou oond gaan vuil maak).

· As jy in ‘n land bly waar jy Bovril kan kry, kan jy sekerlik die oorspronklike resep volg.

· Ek plaas hieronder Jan Hendrik se bestanddele lys. Gaan asb. na sy Instagram rekening vir die oorspronklike resep en metode. Dis onder Marmite Swirls gestoor op sy blad. En as jy daar krap, maak sommer die Cauli Bites ook. Dis ongelooflik lekker!



163 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page