top of page
  • Anoniem

Heimwee in die vreemde


Gister was een van daardie dae. Watse dae mag jy dalk wonder. Een van daardie dae waar ek veel eerder my sonbril sal opsit en stilletjies iewers gaan sit en huil. My gemoed voel so grys en grou soos die weer.

Dalk maak dit nie vir jou sin nie, want ons is dan so gelukkig hier waar ons is.

Dis waar, ons is baie gelukkig waar ons is.

So hoe kan ek dan nou wil huil, mag jy dalk hardop dink?

Ek is seker daarvan dat ek nog nooit enige vorm van homesick gehad het vandat ons hier bly nie. Verlang het ons almal al verlang. En hierdie is nie dieselfde nie.

Ons het vir onsself ‘n redelike gemaklike lewe hier uitgekerf. En ons is in een van die beste seisoene tot nou toe. Daar is moontlik ‘n paar redes hoekom ek so voel. Dalk is dit my foon wat vol streke was en ek so baie van my kosbare foto’s verloor het. Dalk is dit die tasbare verandering van seisoene om my – somer tot herfs. Of dalk is dit die feit dat ons binnekort trek (darem nog in Halifax).

Ek dink laasgenoemde is waar hierdie verlange na die bekende vandaan kom. Sien, om in Halifax ‘n huis te kry wat groot genoeg is vir ons almal, is ‘n wonderwerk. 3 Slaapkamer huise is so skaars soos hoendertande. Dan moet die huis nog in die regte skool opvangsgebied ook wees. Dis nou soos om wors in ‘n hondehok te soek. En ek dink dis wat my vang.

Ons sou in Namibië sommer vinnig iemand kon bel en ons sou ‘n huis kon huur nog voor die son gesak het vanaand. Ons het familie, vriende en kontakte gehad wat enige tyd kon help. En hier sit ons nou. In die vreemde. En ja, vriende het ons al gemaak en kontakte is gebou, maar dis net nie dieselfde nie. Nog nie.

So is hierdie hoe heimwee voel? Ek weet nie. Ek weet net ek het ‘n hunkering om die foon op te tel en met mense te praat wat my ken. Ek verlang nie noodwendig na Namibië se wye ooptes of die sand duine nie, ook nie die see nie en nog minder na die wind. Maar ek verlang na bekendheid en mense. My mense.

Hierdie is maar een vlietende gevoel en is so deel van immigrasie. Teen môre vind ons dalk net die regte huis of skyn die son weer en dan voel my gemoed sommer stukke beter!

106 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page