top of page
  • Anoniem

Fanie (en Mali) se droom beskuit


Kort na ons aankoms vra my man eendag vir my hoekom bak ek nie vir ons beskuit nie. Dis koud en ons drink veel meer koffie as wat goed is vir ons. ‘n Lekker stukkie beskuit saam met daardie eerste oggend koffie is net waarvoor hy lus is. So gesê, so gedaan! Kry al die bestanddele by Sobeys en soek ‘n vinnige en maklike resep op die internet (my kookboeke is nog op pad). Ek is in my noppies toe die beskuit klaar is. Dit het te mooi uitgekom en ruik vreeslik lekker. Ons is kinderlik opgewonde oor daardie eerste happie huis in die vreemde. En toe kom die skok – dis galbitter. Ek weet nie presies waar die bitter smaak ingesluip het nie. My beste raai skoot is dat dit die bruismeel of bakpoeier was. En net daar het my paaie met beide geskei in Kanada. Ek maak eerder my eie mengsels daarvoor.

Ek het al vroeër genoem dat ek lid van ‘n Whatsapp groepie is. Ons is regoor Kanada gesaai – British Columbia, Saskatchewan, Alberta, Nova Scotia en Newfoundland. Mali, in BC, stuur een oggend ‘n boodskap en sê: “Julle, my man het beskuit gebak! Dis so lekker, ek droom daarvan!” Nou ja, ek moes eenvoudig die resep kry! Ek ken nou nie Fanie (Mali se man) se bak of kook vernuf nie, maar ek reken dis redelik flop vry en dit is regtig SO lekker, dat ek ook nou sommer daarvan droom!

Ek het die resep so bietjie aangepas van hulle resep. Kyk net in die notas vir die oorspronklike een.

Fanie (en Mali) se droom beskuit

1 lb (454g) botter

250 ml joghurt (ek gebruik Liberte 5%)

250 ml melk

2 eiers

1 appel, gerasper met skil

1 kg meel (all purpose werk goed)

45 ml kremetart

35 ml koeksoda

15 ml sout

2 koppies suiker

5 koppies Raisin Bran (ek gebruik Walmart s’n)

Metode:

1. Smelt die botter en laat afkoel.

2. Meng die joghurt, melk, eiers en appel by die gesmelte botter in.

3. Meng die meel, kremetart, koeksoda, sout en suiker.

4. Druk die Raisin Bran fyner met jou hande (tot dit amper soos semels lyk).

5. Meng die meel mengsel, botter/joghurt mengsel en die Raisin Bran goed deur in ‘n groot mengbak.

6. Sit die mengsel in ‘n gesmeerde oondpan en druk effens plat (ek gebruik sommer net bakpapier sonder om te smeer). Jy gaan dalk 2 panne gebruik.

7. Bak vir 45 – 60 minute by 350 F (180 C) tot gaar (tandestokkie moet skoon uitkom).

8. Gooi die beskuit uit die panne en laat heeltemal afkoel.

9. Sny in vingers en droog uit by 200 F (100 C) vir 5 – 6 ure.

Notas:

· Jy kan die meel, kremetart, koeksoda en sout vervang met 1 kg bruismeel.

· In plaas van joghurt en melk kan jy karringmelk gebruik. Ek het altyd joghurt en melk in my huis, dus my keuse daarvoor. Jy kan dit ook vervang met 500 ml melk gemeng met 30 ml asyn.

· In Kanada is blokke botter net 454 g. Jy kan dit vervang met 500 g margarien.

· Ek het die appel bygesit vir meer klammigheid (en lekkerte) omdat die botter minder is as in die oorspronklike resep.

· Ek het Raisin Bran gekies want ek hou van die rosyntjies in my beskuit. Jy kan gewone All Bran tipe pap in die plek daarvan gebruik.

· My lieflike beskuit pan het saam met my getrek. Hierdie mengsel maak daardie pan net mooi vol. Dis so 1 en ½ keer die grootte van ‘n standaard oondpan. Met my beskuit pan kry ek presies 50 groot stukkies beskuit.

· As jy gelukkig genoeg is om ‘n konveksie oond te besit, onthou asb. om alle temperature met 20 C te verminder.

513 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page