top of page
  • Anoniem

Dis pampoen seisoen


Dis langnaweek hier aan ons kant van die wêreld. Dis nogal ‘n rare gebeurtenis! Ek dink nogal soms ek mis al die vakansie dae in Namibië meer as wat ek die kos, die duine en die reuk van die see mis!

Dis Dankseggingsdag vandag en ek reken dis seker een van my gunsteling vakansiedae. Seker omdat dit sinoniem is met ‘n groot familie feesmaal en samekoms en samesyn (alhoewel COVID nog steeds die rondtes doen en nie almal regoor Kanada die geleentheid gaan hê om die dag saam met vriende en familie te kan spandeer nie). Dit herinner my so baie aan al die lekker Kersfeesvieringe wat ons (groot) gesin om die tafel spandeer het. Lag en gesels en kos en nogmaals kos (en baie skottelgoed daarna).


Met ons eerste Dankseggingsdag laasjaar het ek ‘n groente boks bestel wat deel was van ‘n fondsinsameling vir die skool. Wel, ek kon natuurlik nie die geleentheid laat verby gaan nie. Die skool is asemrowend en as ek kan help deur net ‘n boksie groente te koop, doen ek dit met graagte.Die boksie se advertensie het ook gekom met die groot belofte dat dit perfek gepak is met al die beste groente vir die dankseggingsmaaltyd. Vir my het dit dus sin gemaak – ekstra geld vir die skool en al die “bells and whistles” om ons eerste dankseggingsmaal ‘n fees te maak.


Groot was my opgewondenheid om hierdie boksie te kon gaan optel. Ek is nie heeltemal seker wat ek verwag het nie. Dalk patats, aartappels, wortels en ‘n paar appels (dink gebraaide aartappels, soetpatats of wortels en appel tert. Eg tradisionele kos vir ons). En vir die meeste gedeelte is dit presies wat in die boksie was. Daar was wel een item wat my stoutste verwagting oortref het: vars rooibosbessies (cranberries).

In my hele lewe het ek nog nooit ‘n vars cranberry geëet of geproe nie. My kennis van cranberries het gestrek van die sap wat jy koop in Spar of dalk die arm en been wat jy vir die gedroogdes betaal het by Woolies. Een ding was ek wel van seker; ek hou van cranberries!


Tussen my en manlief was ons kinderlik opgewonde om vir die eerste keer ‘n vars bessie te kon proe! Ons kon nie gou genoeg huis toe ry met hierdie nuwe fonds in ons boksie nie. Die ontnugtering was groot! Yslik groot!


As jy die verwagting het dat hierdie bessies dalk ‘n surerige, soeterige smaak gaan hê, is jy reg. Want dis hoe die sap en die gedroogde bessies smaak. Maar vars? Vars is ‘n heel ander storie. Dis so ‘n mengsel van frank, bitter en sommer net goor. Dis sommer net volksvreemd. Ons het daardie bessies darem bitter vinnig uitgespoeg en gegryp vir die water om van die goor smaak in ons mond ontslae te raak. My liefde vir cranberries het sommer net daar amper verdwyn.


Maar hier sit ek nou met ‘n hele sak vol bessies wat ek wat mee moet doen. “Cranberry sauce” is natuurlik die een dis wat op elke dankseggingstafel moet wees. En dis wat met daardie cranberries gebeur het. Hulle het ‘n sous geraak wat toe heel lekker smaak saam met ‘n goeie ou kaas. Is ek mal oor cranberry sauce. Nee. Ek reken ek het dit nou een keer gemaak, probeer en dit was eetbaar. Gaan ek dit weer maak? Ek dink nie so nie.

En so kom ons by hierdie jaar se Dankseggingsdag. Nes laas jaar, kom die skool se epos en verduidelik weer oor die boksie en dis perfek gepak met alles wat jy nodig het vir jou feesmaal. Maar slim ek, besluit nee, ek word nie twee keer gevang nie en gee die boksie ‘n mis die jaar.


So blaai ek deur al die vars vrugte en groente bokse op Flashfood en een boksie vol aarbeie vang my oog. Onmiddellik is die boksie in my mandjie en ons ry om die klomp aarbeie te gaan optel. En sowaar, heel onder in die boks, onder al die aarbeie, lê en loer ‘n sakkie vars cranberries vir my. My moed het letterlik in my skoene gesak. Duidelik het die heelal besluit dis dankseggingsdag en cranberries sal iewers oor my pad kom (ek kan nie kos weggooi nie, so die asdrom was nie ‘n opsie nie, maar ek het dit wel sterk oorweeg).


Wat ek het gemaak met die cranberries wat blykbaar nou elke dankseggingsdag deel van my lewe gaan wees? Die heel lekkerste muffins.


As jy dalk, soos ek, hande in die hare sit met ‘n klomp vars cranberries, probeer gerus die resep. Dit smaak amper soos Kersfees (net op ‘n ander dag). En as jy nie vars cranberries het nie, gaan koop sommer nou en maak die muffins. Dis regtig besonders lekker!




Gelukkige en feestelike dankseggingsdag aan almal wat die dag vier!


PS: ek het die vye uitgelos, want ek het nie vye nie en die haselneute vervang met pekanneute.




66 views1 comment

Recent Posts

See All
bottom of page