• Anoniem

Die skoolbus


As ouers het ons soveel bekommernisse (of dan vrese) as ons hierdie reis aanpak Kanada toe. Gaan my kinders gelukkig wees? Gaan hulle aanpas in die skool? Gaan hulle maats maak? Natuurlik het ons ook ander vrese. Gaan my kind ‘n goeie lewensmaat kry? Gaan hy ‘n toekoms hê hier in die nuwe land? Dis ‘n elle lange lys. En natuurlik, gaan hulle veilig wees hier in hierdie nuwe wêreld?

Een van my grootste vrese as mamma is dat my kinders verdwyn. Soos ‘n groot speld en ek weet nie waar of hoe om hulle te vind nie. Tot nou was ek in beheer van al hulle bewegings. Nog lank voor die skole begin het, het dit al aan my begin knaag. Soveel so, dat ek dit sterk oorweeg het om vir hulle een of ander GPS toestel aan te skaf, net om te weet waar hulle hulself bevind. ‘n Ander mamma stel my gerus en sê die busse het hulle eie GPS toestelle; ek sal dus altyd weet waar die bus is. Dit stel my darem so bietjie meer gerus.

Vir ‘n bietjie agtergrond; net ‘n paar maande terug het ‘n 3 jarige seuntjie verdwyn in ons provinsie. Spoorloos. Hulle het hom nog steeds nie gevind nie. Ek sal jok as ek sê dat hierdie saak my nie geaffekteer het nie. Dit het. En dit het my nog meer attent gemaak op my kinders se doen en late.

Dinsdag oggend breek toe aan en dit was ‘n senutergende oomblik toe ek my twee meisiekinders op die bus moes sit om skool toe te gaan. Maar dis ‘n nuwe land en nuwe dinge. Hier ry die kinders al vir jare lank die skoolbus, sonder voorval. Die bus is laat. Vreeslik laat. Op een stadium oorweeg ek om maar eerder terug te stap huis toe met hulle veilig by my by die huis. Net die noem daarvan, veroorsaak ‘n tranedal. Hulle WIL skool toe gaan. Dus wag ons maar. Die bus daag uiteindelik op. Ek kalmeer my onstuimige mamma hart, groet hulle en stap so bietjie huilerig die 600m terug huis toe. En so begin tel ek die ure af na 15:00 toe. Ek wil graag hoor hoe die eerste dag verloop het en kan nie wag vir al die stories nie.

10 minute voor die bus hulle moet aflaai, staan en wag ek vir hulle. Die bus is weereens laat. 30 minute laat. Oorkant die pad, verder weg van die bus roete, stop ‘n skoolbus. Ek loop nader en sien dis hulle bus nommer. Nog voor ek by die bus kan kom, klap die deure toe en daar ry die bus. Geen kind in sig nie. Ek snak so bietjie na my asem, en besef hier is fout. Groot fout! Waar is my kinders?

My heel eerste 4 oproepe is aan die skool. En daar is geen antwoord nie. Ek onthou dat ek vroeër die dag met die onderhoof gepraat het en bel sommer haar direkte nommer en iemand antwoord die foon. Ek verduidelik vir die sekretaresse dat die bus sopas hier gestop het en my kinders het nie afgeklim nie. Is hulle dalk nog by die skool? Sy laat hou my ‘n rukkie aan om gou seker te maak waar hulle is. Nee, mevrou, jou kinders is op ‘n bus. Ons het geen idee waar hulle is nie. En net daar, met een enkele oproep, word een van my grootste vrese en nagmerries ‘n waarheid. Daar is ‘n paar dinge wat kon gebeur, maar my grootste vrees is dat hulle lukraak afgeklim het en iewers in hierdie groot stad is. Waar, weet geen mens nie. Op die koop toe, vind ek ook uit dat die busse se GPS sisteme nie werk nie. So ons het letterlik geen idee waar die bus of my kinders is nie.

My volgende oproep is na my man. In my ganse lewe het ek nog net 3 keer so erg gehuil dat hy my nie kon hoor nie. Die eerste keer was met een van my swangerskappe wat erge komplikasies gehad het, die tweede keer was toe ek saam met die kinders en honde gaan stap het en my vinger gebreek het, die derde keer was Dinsdag middag met die wete dat hierdie 2 kindertjies iewers in hierdie stad is, en ons weet nie waar nie. Waar begin soek ‘n mens?

Die skool het onmiddellik met die vervoer departement in verbinding getree. Met absolute genade en deur ‘n engel van ‘n mens, het ek ook uitgekom by die vervoer departement. Hulle telefone is meestal onbereikbaar. Almal het onmiddellik in werking gespring en begin soek na hulle.

My man het intussen alles net so gelos by sy werk en begin huis toe ry. Hy het die bus nommer gekry by my en begin kyk vir daardie nommer op sy pad terug huis toe. En sowaar ry hy verby die bus. Sommer net daar op die snelweg, maak hy ‘n U-draai en sit die bus agterna en stop hom sommer in die middel van die pad. Jammer, sê die bus drywer, hy het nog net een kind my hom. Hy het geen idee waar ons twee afgeklim het nie.

Intussen, deur al die tientalle oproepe, het my selfoon se battery uitgeloop. Ek moes terugloop huis toe anders gaan niemand my in die hande kry nie. Die meisie by die vervoer departement bel my amper elke 2 minute om my op datum te hou. Ek snik so, dat sy my skaars verstaan. Sy weier om die foon neer te sit, want sy kan die angs in my stem hoor oor die foon.

Ek probeer net so bietjie asem skep by die huis en my kalmte herwin. Na nog ‘n ewigheid op die foon, hoor ek tas wieletjies wat raas op die teerpad. Met die opkyk slag, sien ek hoe kom stap die twee meisies aan by die huis. Vol glimlagte en heel onbewus van die storm wat om hulle losgebars het. Die gevoel van verligting was onbeskryflik! En natuurlik het ek eers geraas, voor ek mooi kon praat. Ek het geen idee hoe hulle self oor die snelweg gestap het nie, en ek weet ook nie hoe het hulle die pad huis toe gevind nie. Ek het hulle gevra om my te wys waar die bus hulle afgelaai het, maar hulle is self nie seker nie.

Hier is wat ons kon uitpluis van die dag se gebeure. Ek het hulle duidelik instruksie gegee dat hulle net mag afklim daar waar hulle opgelaai word. Die bus het nie daar gestop vir die namiddag aflaai sessie nie. Dit stop op ‘n heel ander punt. Dis duidelik verkeerd aangedui op die roete. Vir eens in hulle lewe het hulle na hulle ma geluister. Die bus was nie waar dit moes wees nie, toe klim hulle nie af nie en ry hulle maar verder saam en klim iewers af wat bekend lyk. As hulle om hulle gekyk het, sou hulle gesien het dat ek op pad was na die bus toe. Dit was ‘n 90 minute hart stilstand, angstige, nagmerrie ondervinding.

En toe breek Woensdag aan. En hulle moet weer bus ry. Dis ons enigste opsie. Nou kyk, toe daardie bus drywer die deur oopmaak, toe staan ek reg met ‘n mond vol woorde. Hy trek net sy skouers op en sê dis die skoolraad se probleem. Lesse is geleer, so ek weet toe presies waar die bus die namiddag gaan stop. En wonder bo wonder, verloop die middag sessie goed vir die sussies. Maar daar is ook nog ‘n boetie. En sy skool het eers Woensdag begin.

So staan en wag ek en hy vir die bus die oggend. Dis later 45 minute laat. Maar uiteindelik stop ‘n bus by ons. Nie die regte een nie. Dis ‘n heel ander roete nommer. Hulle het dit op die laaste minuut verander en geen mens is ingelig daaroor nie. Gelukkig is daar veel meer kinders wat saam met hom moet bus ry, so ons almal maak drie keer seker dis die regte bus. En so breek Woensdag namiddag aan en boetie se bus wat hom moet aflaai, daag nie op nie. Mamma en die meisies staan en wag geduldig. Dis nou tot een van ons NOU moet badkamer toe gaan. Stap maar terug huis toe, dan sal ons weer kom wag by die busstop. Sien, toe ons huis toe loop, toe staan en wag ander ouers ook nog vir hulle kinders. En toe ek terugkom, is al daardie ouers weg. En ja, die eerste gedagte wat by my op kom, is dat dit mos nie kan waar wees nie. Is ons nou presies waar ons gister was? Nog ‘n verlore kind. Ten minste het ek nou al die nommers en weet presies wat om te doen. My eerste oproep is aan die skool. Die lyne bly beset en ek kom glad nie deur nie. Dit kos ‘n paar keer se bel om te hoor dat al die kinders by die skool sit. Die bus het nooit opgedaag nie. Teen 17:00 gaan tel my man hom self by die skool op.

En toe breek Donderdag oggend aan. En mag ek sê, die busse was vanoggend redelik op tyd. Dit het seepglad verloop. Ek hoop dat vanmiddag ook so goed sal verloop.

Hier is ‘n paar lesse geleer hierdie laaste paar dae en harde woorde is geuiter. Ons weet ook nou dat ‘n nuwe maatskappy aangestel is as operateur en dat daar beslis ‘n paar haakplekke is wat hulle moet uitsorteer. Ek weet ook, my kinders is nie die enigstes wat ‘verdwyn’ het nie, ander kinders se busse het nooit Woensdag opgedaag nie, en die hele sisteem was eintlik in totale chaos gedompel.

Ons hoop die vuurdoop in hierdie eerste dae het al die probleme aan die lig gebring en dat dit hiervandaan net beter kan gaan.

PS: die kinders was dol oor die skool! Hulle kan nie uitgepraat raak daaroor nie! Ek wil ook noem dat dit asemrowend is om te sien hoe die karre tot stilstand kom as die bus stop. As jy verby die stilstaande bus waag ry, word jy ‘n heftige boete opgelê. Die stilstaande bus en al die karre wat MOET stop, was natuurlik die sussies se heil en dis hoe hulle oor die snelweg gekom het (of altans, dis wat ek glo en hoop gebeur het).

176 views0 comments

Recent Posts

See All