top of page
  • Anoniem

Die poskantoor sages


Jy mag dalk dink ek is stapel gek om 'n hele blog af te staan aan die poswese! Ons almal weet mos dis een funksie wat glad nie funksioneer soos dit moet nie (in Afrika). Maar as daar een ding is wat geheel en al anderste werk in hierdie Great White North, dan is dit die posdiens.

Net gister het Canada Post se karretjie weer voor my huis gestop. En dis geensins abnormaal nie. Hulle lewer wel pakkies hier af. By jou huis. En as jou voordeur oop staan, soos myne, dan word dit sorgsaam so half in die drumpel neergesit. Dis al te wonderlik en lekker dat dit so effektief werk – tot dit jou groot skande en 'n rooi gesig besorg.

Met al ons radeloosheid oor selfone, besluit ek om nog ‘n SIM kaart aanlyn te bestel. Dalk werk ‘n nuwe een beter. My bestel datum was 5 Februarie 2020. Volgens die verskepings e-pos wat ek kry op 6 Februarie, sal ek dit binne 7 dae ontvang. Goed en reg so. Ek sal dit teen 13 Februarie ontvang.

Gelukkig word ons selfone binne hierdie 7 dae uitgesorteer en vergeet ek eintlik so half van die SIM kaart wat ek bestel het. Dis nou tot een goeie middag. Ek het al genoem dat jetlag ons lekker beetgekry het. Teen 03:00 is ons wakker en teen 18:00 wil ons slaap. So op een goeie, gawe Maandag middag (10 Februarie), besluit my man en seun om gou iewers heen te ry (dink dit was na Bass Pro Shops). Ek en die 2 meisiekinders bly by die huis. Dis ‘n redelike koue dag (die sneeuman op ‘n vorige blog inskrywing is op daardie dag geneem) en daar is geen beter lafenis vir my siel as ‘n lekker warm bad nie. Ek kan ook noem dat ons eerste huis ‘n vreeslike groot, aanloklike bad gehad het. So sit ek vir die meisiekinders ‘n storie aan op televisie. Die televisie is reg by die voordeur. Mamma preek hulle om haar asseblief net ‘n bietjie saligheid te gun. Hulle belowe hulle sal.

Ek sink neer in daardie salige, warm lekkerte. Masker op die gesig, masker in die hare. En nes ek heel rustig en lui raak, kom hol die jongste die badkamer in en skree: “Mamma, mamma! Daar is ‘n man by die deur!” Ek sê vir haar los dit net, dis seker die verkeerde adres. En vort is sy. Nie 2 minute later nie, hier is sy weer: “Mamma, jy moet nou kom. Die man sê jy moet iets teken”. En toe weet ek, hier is iets aan die gang. Ek vlieg uit die bad, draai die handdoek so half om my lyf, en besef nee, dit gaan nie deug nie. Dit maak skaars my bobeen toe. So half nat, water wat drup uit my hare, maskara strepe oor my wange, trek ek bitter vinnig ‘n sweetpak aan en suiker af by die trappe. En daar staan die posman! Hy kom gee die SIM kaart af en ek moet teken vir ontvangs! Ek is nie seker wat hy gedink het nie en ek kon ook nie gou genoeg teken vir die item nie. Dit was ‘n les vir ons almal! Pakkies word soms vinniger afgelewer, los maar die bad stories vir laat aand en leer asseblief die kinders om nie net die deur oop te maak nie.

En toe kom die volgende poswese petalje! Ons almal kry ons PR kaarte, behalwe my seun. Sy foto is nie reg nie. Ons moet dit weer instuur. So gemaak en so gedaan. Ons neem die foto’s by Shoppers Drugmart, vul alles in en sit dit in die koevert. Dit moet teruggepos word. Goed en reg. Meeste mense het seker al iets in hulle lewe gepos. Hoe moeilik kan dit wees? My mens, as 'n nuweling is alles anders. Tik Post Office in op die GPS en daar gaan ons. En beland voor Shoppers. Daar sit ‘n teken vir Canada Post op die gebou, maar waar is die poskantoor? Ek sê vir my man, die GPS is deurmekaar. Dit kom nou van ‘n goedkoop ding koop. Apple Maps is soveel beter. Tik weereens in Post Office en ons eindig op voor nog ‘n apteek. Nou kyk, teen die tyd is ek en my man goed in mekaar se hare. Want hoe de duiwel eindig ons elke keer op voor ‘n winkel van een of ander aard? Weet ek nie hoe spel mens poskantoor in Engels nie? Teen die derde Shoppers waar ons stop, sê hy dis nou genoeg. Nou gaan hy in en vind uit wat die storie is. So ja, daar leer ons toe hier is nie ‘n fisiese poskantoor nie. Dit net sulke klein seksies binne verskeie winkels. Goed, les geleer. Hier is nie fisiese poskantore nie. Nie soos ons dit ken nie.

Nou mag jy dalk vir my vra, nou hoe kry jy dan jou pos? In ‘n posbus. Maar daar is nog steeds geen poskantoor nie. Elke blok huise/woonstelle het ‘n paar posbusse iewers sentraal in die buurt. Jy het ‘n sleutel daarvoor. Elke dag kom sit die posman/posvrou die pos in jou posbus. Aan die onderkant van elke stel posbusse, is groter posbusse. As jy groot pakkies kry, sit hulle ‘n sleutel in jou posbus. Jy sluit dan die groot posbus oop, kry jou pakkie en gooi die sleutel in by die gleuf vir items wat gestuur word. Dankie tog vir iemand wat hierdie les vir ons geleer het!

Die pos sisteem hier werk baie goed in my opinie. Nadat ons ons eerste kar se koop gekanselleer het, het die agentskap vir ons die $ 15,000 (N$ 150,000) tjek terug gepos. Ek was bitter ontsteld daaroor. Maar dit het opgedaag binne ‘n paar dae sonder enige probleme. En dis dood normaal hier.

Sou jy dus ooit in Kanada beland, onthou tog asseblief dat die poswese hier ‘n perd van ‘n heel ander kleur is hier!

92 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page