top of page
  • Anoniem

Dankseggingsdag


Gister kon ek dit al voel. Daar is ‘n baie tasbare verandering in die temperatuur. Vanoggend, met die wind in ag geneem, was dit ‘n koel -1C. Dit was regtig amper soos ‘n skok vir die siel – waar het die koue nou vandaan gekom? Nie dat ons dit nie verwag het nie; maar dit kon maar nog bietjie langer warm gewees het.

Ons staan op die vooraand van nog ‘n eerste vir ons gesin. Dis Dankseggingsdag (Thanksgiving) die langnaweek (vir sommige van ons ‘n langnaweek). Dis iets so vreemd vir ons. Dit voel vir my asof Kersfees eintlik so bietjie soos Dankseggingsdag vir ons was. Dis sekerlik die enigste dag waarmee ek dit kan vergelyk.

Die Desember vakansies van my kinderdae, en meer so Kersfees, was altyd gevul met tafels wat kreun van die kos. My ma sou al vir weke lank koekies bak en die vrugtekoeke was al vir maande ‘ryp’ gemaak. Ons is ‘n redelike groot familie, so ons sou tafels las en pas tot al 24 van ons om die tafel kon sit (dis nog sonder al die kleinkinders). Dit was ‘n gekekkel en gekloek van gesels, en soms bietjie stry, tot almal moeg geëet en gesels was.

Hier word Dankseggingsdag gevier met kalkoen, cranberry sous en pampoen tert. Ons groep vriende beplan ons eie, meer tradisionele danksegging viering en kalkoen is beslis nie op die spyskaart nie. Dalk eerder lam, hoender, my Afrikaanse weergawe van pampoen tert en dalk ‘n koeksister of 3. En ek hoop van harte dat dit sommer ‘n jaarlikse instelling gaan word.

Daar is soveel vir ons gesin om voor dankbaar te wees.

· Ons het die geleentheid gekry om wortel te skiet in ‘n land ver verwyder van waar ons eintlik geplant is.

· Ten spyte van ekonomiese toestande regoor die wêreld is een van ons geseën met werk, ‘n stabiele inkomste en ‘n woonplek.

· Ons is geseën met vriende wat al amper soos familie is hier in die vreemde.

Dis dalk net 3 punte, maar dis 3 groot punte wat beslis die lewe vir ons makliker (en lekkerder) hier in die vreemde gemaak het.

Ek hoop dat almal van julle wat hier lees, ook iets vind of het waarvoor of waaroor julle innig dankbaar is.

Waar julle dit ookal vier of hoe julle dit ookal vier, mag julle Dankseggingsdag ‘n fees van lekkerte wees!

PS: ‘n foto van ‘n reënboog na ‘n onlangse reënerige dag. Op groot dae soos hierdie glo ek mis ons almal ons familie en vriende by die huis. En ons mag dalk ‘n traan of twee pik. Maar na die reën (of trane) kom daar altyd weer ‘n reënboog (of hoop en dankbaarheid).

75 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page