top of page
  • Anoniem

Blatjang...amper nes Mrs Balls


Die pas afgelope Vrydag beland my nuutste Amazon bestelling voor my deur. Ek was vreeslik opgewonder daaroor. Want daarin was al my bestanddele om blatjang te kook! Ek het al so ‘n vinnige een aanmekaar geslaan met gebraaide uie, tuisgemaakte appelkoos konfyt en ‘n goeie skeut kerrie poeier. Dit smaak goed en is vinnig en maklik om te maak, maar dit was nie Mrs Balls nie. Ons kan wel Mrs Balls se befaamde blatjang hier koop. Dit kos $ 6.99 (voor belasting, $ 8.04 na belasting) vir ‘n bottel van 470 gram. En teen die trant wat ons dit eet, maak dit net nie ekonomies sin om elke paar weke dit te betaal nie. So hier is my koste berekening en resep vir tuisgemaakte blatjang. Dit smaak dalk nie 100% soos Mrs Balls nie, maar dis amper 95% daar! Begin droom solank van bobotie met blatjang, warm aartappelslaai, boerewors rolletjies en al daardie lekker dinge!

Blatjang (kostes agterna aangedui):

Bestanddele: Kostes:

650 g gedroogde perskes $ 13.81 ($ 21.25 per kg)

250 g gedroogde appelkose $ 4.32 ($ 17.26 per kg)

2 x 946 ml bottels appelasyn $ 15.98 ($ 7.99 per bottel)

2.5 kg suiker $ 2.50

500 g uie, gekap $ 1.15

100 g sout $ 0.20

15 ml gekapte vars knoffel $ 0.20

10 ml gemmer (gedroog) $ 0.50

5 ml mosterd poeier $ 0.50

Vooraf:

· Week perskes en appelkose oornag in een bottel asyn. Maak seker dis heeltemal bedek met die asyn.

Metode:

· Kap die uie redelik fyn (ek gebruik my voedselverwerker hiervoor).

· Sny die perskes en appelkose in kwarte en verwerk tot redelik fyn in die voedselverwerker. Gooi so paar lepels van die vloeistof wat agtergebly het saam in. Dit maak die maal proses makliker.

· Gooi dit saam met al die ander bestanddele in ‘n baie groot pot (BAIE groot!).

· Kook dit teen ‘n baie lae temperatuur vir min of meer 2 ure. Jy sal sien dat die kleur gaan verander. Toets dit so na 90 minute deur ‘n bietjie op ‘n bord in die vrieskas te plaas vir ‘n minuut of so. Jy sal gou sien of die gesetheid daarvan reg is.

· Roer so elke nou en dan om seker te maak dit brand nie vas op die bodem nie.

· Gooi in gesteriliseerde bottels en bêre iewers in ‘n donker kas.

· Natuurlik moet jy een bottel hou vir daaglikse gebruik!

Lewer tussen 4.5 – 5 kg blatjang.

Notas:

· Ek het 5 kg blatjang met die resep gekry. Dus is my koste (sonder krag) vir een 470 g bottel gelykstaande aan $ 3.69

· Ek kon nêrens gedroogde perskes kry nie, en het myne op Amazon bestel. Ek betaal nie vervoer kostes nie (ek het ‘n Prime rekening).

· Die oorspronklike resep kan op YouTube gevind word. Ek het dit aangepas met die speserye se hoeveelhede en bietjie ander lekker goed bygesit vir smaak.

· Ek het skakels geplaas na die perskes, appelkose, rooi peper en appelasyn wat ek op Amazon bestel het. Kliek net op die bestanddeel naam.

950 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page