top of page
  • Anoniem

Aarbei roomys


Na ons aarbei plaas uitstappie, het ek ‘n hele klomp aarbeie gevries. Net om die somer se lekkerte darem bietjie langer te strek! (En as ek geweet het gister was International Ice Cream Day sou ek al gister die resep gedeel het).

Ek het laas week ‘n roomys bak gekoop vir my getroue KitchenAid klitser. So daardie arme aarbeie het geen kans gestaan om ooit ‘n smoothie te word nie! Ek wou roomys maak en aarbei roomys sou dit wees. My man het die naweek ander planne gehad (boerewors maak), en het my roomys bak uit die vrieskas gehaal. So toe ek nou Sondag middag wou roomys maak, toe sit ek met die roomys mengsel en geen gevriesde bak nie. Kom ons noem dit maar mis kommunikasie. Dit laat my wel toe om te noem, dat jy geen spesiale roomys masjien of bak hiervoor nodig het nie.

My ma het in my kinderjare altyd so ‘n roomys aanmekaar geslaan met net Ideal melk en kondensmelk. Vir my herinner die roomys my aan my kindsbeen dae in Walvisbaai. Die Duitse bakkery (Probst, as jy al jare daar bly) het ‘n aarbei roomys verkoop wat amper nes die een gesmaak het. Dit was die aller grootste bederf gewees. My kinders reken dit smaak soos karamel.

Aarbei roomys

1 lb aarbeie (of sommer net 500g)

1 knippie sout

1 blik kondensmelk

473 ml room (35% whipping cream)

1 eetlepel alkohol (ek het Spiced Gold gebruik)

1 teelepel vanielje ekstrak

Metode:

1. Maak die aarbeie fyn in ‘n versapper tot ‘n pulp.

2. Gooi in ‘n pot saam met die knippie sout en kook baie stadig af tot dit met die helfte verminder het.

3. Gooi in ‘n houer en laat heeltemal afkoel.

4. Klits die room tot baie sagte punte vorm (Nie te veel nie. Jy maak nie botter nie).

5. Klits die kondensmelk by.

6. Roer die aarbei puree, alkohol van keuse en vanielje by.

7. Gooi in houer en bêre oornag in die vrieskas.

Notas:

· Die alkohol help dat daar nie ys kristalle vorm nie. Dit maak so min of meer 1.3 liter roomys. Dus is die effek van die alkohol minimaal. Laat dit gerus uit as jy verkies. Die roomys mag dalk meer ys kristalle vorm as jy dit uit laat. Jy kan natuurlik ook die alkohol vermeerder as jy braaf (en lus) voel.

· Jy het nie nodig om die roomys deurentyd te roer nie. Los dit eenvoudig oornag in die vrieskas.

· Die roomys vries nogal redelik solied (my vrieskas is baie koud gestel). As dit baie hard is, laat staan dit vir so 5 minute voor bediening.

154 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page