top of page
  • Anoniem

Ek wil immigreer (deel 3)

Updated: Jul 17, 2020



Nadat jy al die stappe in Deel 2 gedoen het, gaan jy aan met jou lewe soos voorheen – maar jy gaan elke dag opstaan met hernieude hoop vir daardie finale JA! vir Kanada.

Jou hart gaan vir jou sê dit vat net 6 maande (die webtuiste sê so). Maar die realiteit is, dit vat soms (dalk meestal) baie langer as 6 maande.

Die realiteit is. Jou mediese toetse is net geldig vir 1 jaar. So jou PR visa gaan verval op die dag as jou mediese toetse verval (of die Kanadese regering gaan vra vir nuwe toetse). As jou PR aansoek langer as 6 maande vat, raak jou periode tot jy hier moet land, al hoe korter. As hulle 9 maande vat om jou aansoek deur te werk, gaan jy in effek net 3 maande hê tot jy in Kanada moet wees.

So wat kan jy doen terwyl jy wag?

1. Jy kan jou huis in die mark sit (as jy gemaklik voel daarmee. Ons het langer gewag). As jy nie ‘n huis besit nie, sal dit sekerlik makliker wees. Meeste verhuurders eis net een maand se kennisgewing.

2. Begin sorteer jou huis uit. Besluit of jy jou meubels gaan verskeep of net ‘n paar sentimentele items in jou tas gaan pak.

3. As jy jou troeteldiere wil saambring begin soek solank na vervoer vir hulle tot in Kanada en vind uit wat die regulasies gaan wees.

4. Mese gaan jou vertel hoe gelukkig jy is om te kan immigreer. Begin werk sommer nou al aan jou antwoord. Hierdie proses het niks met geluk te make nie en eerder met harde werk, tonne navorsing en baie (spaar)geld.

Die lys kan natuurlik baie langer wees, maar dis die waaraan ek nou so vinnig kan dink.

GCMS notas:

As jou siel ‘n bietjie kriewelrig raak en jy wil jou hart rustig maak, kan jy aansoek doen vir GCMS notas. Hierdie notas bevat die hele geskiedenis van jou aansoek en waar hulle trek met die aansoek. Daar is heelwat agentskappe wat dit namens jou kan doen (jy kan dit nie self doen as jy nie alreeds in Kanada is nie). Ons het Get GCMS gebruik (https://getgcms.com/). Dit vat so 30 dae vir die verslag. Elke liewe stap wat jy neem vandat jy met jou EE profiel begin, gaan op die notas wees. Ons s’n was 171 bladsye lank. Jy sal moet gaan soek vir interpretasie van die notas (kyk ook op hulle webtuiste daarvoor). Dis nie vir ons gewone leke in altyd verstaanbare taal geskryf nie. Die belangrikste bladsye, en dit wat jy eintlik wil weet, is op die laaste paar bladsye geskryf.

Goue e-pos:

Na, wat voel soos ‘n ewigheid, loer jy dalk na jou selfoon of rekenaar skerm en jy kry ‘n e-pos van ‘n adres af en die beskrywing is: ‘Your file appears ready to be finalized’. Hierdie, my mens, hierdie is die goue e-pos. Die een waarvan mens droom, die een waarvoor jy gewag het, die een wat jou in Kanada gaan kry!

Jou eerste stap hierna, is om fees te vier! Laat die gevoel net so bietjie insink! Dit mag dalk ‘n braai wees, ‘n bier, baie trane, whiskey saam met die vriende of ‘n yskoue bottel sjampanje wat wag! Wat dit ook al mag wees – hierdie datum gaan jy vir altyd onthou! Soos ‘n verjaarsdag of ‘n herdenking. Geniet die oomblik! Daar is min sulke “life chaning” oomblikke in mens se lewe! Moet net nie te hard kuier nie, môre wag daar nog admin! 😊

VFS en paspoorte:

Saam met daardie goue e-pos gaan jy ‘n vorm kry om te voltooi. Daardie vorm moet saam met jou paspoorte en foto’s ingestuur word na die VFS kantoor waar jou ‘Biometrics’ gedoen is. Jy moet ook ‘n vorm voltooi vir VFS om die paspoorte te ontvang. Daardie vorm is weggesteek op hulle webtuiste. En vra jy hulle, stuur hulle die verkeerde een. Tik op Google in: VFS Consent Form Canada. Jy sal dit kry. Hulle gaan nie die paspoorte sonder die vorm aanvaar nie.

Ek het vir elke persoon ‘n sakkie gemaak met al die dokumente in: paspoort, foto’s soos per spesifikasies, toestemming vorm. Jy sou by VFS ‘n kwitansie gekry het toe jy ‘Biometrics’ gedoen het, sit dit ook by. Ek het nie en moes dit agterna vir hulle stuur.

Hulle sal jou ook laat weet wat die fooi is wat jy vir die kinders se paspoorte moet betaal (as jy kinders het). Vir ons was dit N$ 233.70 per kind. Jy kan dit nie EFT nie. Jy moet ‘n SWIFT doen daarvoor.

Jy kan met enige koerier maatskappy reël om die paspoorte by VFS af te gee. Ons het DHL gebruik. Die kostes vir SA toe stuur was N$ 650.

As jou paspoorte by VFS aankom, gaan jy ‘n e-pos kry vir ontvangs van elke paspoort. En nog honderde daarna. Vir elke liewe stappie van die proses gaan jy ‘n e-pos kry. So sal jy ook weet as die paspoorte reg is om te laat haal. Weereens het ons DHL gebruik. Die kostes was dieselfde as om af te lewer. Jy gaan weer die ‘consent form’ invul en vir die koerier maatskappy gee. Hulle mag dit nie optel sonder dit nie.

As jou paspoort uiteindelik weer terug in jou hande is, gaan jy die visa daarin aantref. Maak net seker al die inligting is reg en kyk wanneer verval jou visa.

Vlugte:

Jy kan nou maar jou vlugte begin reël en doen wat gedoen moet word!

Jy kan kyk op meeste lugrederye se webtuistes vir pryse. Toe ons in Februarie 2020 gereis het, het ons dit in twee dele gedoen. KLM het op daardie stadium net 2 x per week vanaf Windhoek gevlieg. Ons kaartjies sou N$ 145,000 gekos het (ons is 5). Op die einde het ons met British Airways gevlieg tot in Johannesburg met ‘n enkel roete kaartjie (N$ 12,000). Van daar af het ek ons deur geboek tot in Halifax met Air France (N$ 79,000). In totaal ‘n besparing van N$ 54,000. Ons het in Parys oorgestaan vir amper 8 ure. Ons het nie die lughawe verlaat nie en het dus geen Schengen visas benodig nie. My enigste stukkie raad rakende die vlugte: soek die roete met die langste oorstaan tyd met jou eerste aankoms in Kanada. Daar waar jou voete eerste die Kanadese grond voel (of jy dit dalk soen), daar gaan jy ook jou PR aktiveer. Bêre jou ‘Landing Papers’ veilig. Jy gaan dit nog baie gebruik. Hulle trek ook ‘n yslike groot streep deur jou PR visa. Vir ons was die proses gou, maar ander mense wag ure om die stap af te handel. En jy wil nie jou volgende vlug mis as jy weer verder moet reis nie. Jy gaan ook deur doeane moet gaan – hulle sal jou vra vir jou ‘Goods to Follow’ lys.

As jy in Toronto land: hulle boek nie jou bagasie deur na jou volgende bestemming nie. Ek het eers gestaan en stry met die man, maar een van die mense daar het my jammer gekry, my eenkant toe gevat en verduidelik. Ek het maar geglo met ‘n goeie hart. En sowaar, net so voor ons doeane toe gaan (na PR aktivering), daar staan en wag al ons tasse vir ons by die bagasie band. Dankie tog vir vriendelike, behulpsame Kanadese!

As jy by doeane uitstap, is jou stappe nou klaar! Jy is hier! Jy het dit gemaak (tensy jy nog 'n vlug moet haal)! Jy is nou ‘n amper Kanadees!

BAIE GELUK!

(Nou kan jy gaan rus).

PS: Hierdie stappe het ons natuurlik gedoen net voor COVID-19 die hele wêreld omvêr kom gooi het. Die stappe mag dalk nou bietjie anders lyk (en werk).

As ‘n nota: ek is nie ‘n immigrasie agent nie. Ek kan net vertel en deel wat die stappe is en hoe ons te werk moes gaan om ons immigrasie droom te kan verwesenlik. Die stappe mag dalk dieselfde vir jou wees of heeltemal anders.

158 views1 comment

Recent Posts

See All
bottom of page