top of page
  • Anoniem

Ek wil immigreer (deel 1)

Updated: Jul 17, 2020


So jy mag dalk nou vir my sê, Ons Storie is goed en wel, maar hoe immigreer ek? Hoe maak ek as ek uit Namibië wil immigreer Kanada toe? En wat kos dit?

Ek gaan so goed moontlik probeer verduidelik en skakels en kostes bysit. Ek mag dalk ‘n stap of twee mis – ek het ook al vergeet hoe en waar ons alles gedoen het. Hierdie stappe is ook net vir gewone sterflinge met ‘n graad of twee en ‘n Namibiese paspoort. Daar is baie ander reëls vir dokters, onderwysers, prokureurs en so meer.

Jou eerste stap – en glo my, dit moet jou eerste stap wees – is kry jou gesindheid reg. As jy hierdie proses gaan aanpak met ‘n halfhartige houding, kan jy dit maar net sowel los. Dis baie duur en al daardie geld kan betaal vir ‘n baie lekker vakansie iewers! Ons het baie gespot oor die lekker vakansies wat ons sou kon neem met al daardie geld!

Ek sou die eerste 3 stappe aanbeveel as jou begin punt. Dis die verniet gedeelte. Hier kan jy al min of meer bepaal watter roete jy sal moet vat – Express Entry, Provincial Nomination of werk permit.

Jou FSW punte is wat bepaal of jy kan aansoek doen via Express Entry. Ek sou heel eerste die stap doen. Dit help nie jy doen eers al die res, betaal duur daarvoor en dan kwalifiseer jy nie.

Jy sal nog nie jou IELTS punte hê nie, maar gebruik ‘n skatting. Jou mikpunt vir IELTS moet wees: Lees (7), Luister (8), Skryf (7), Praat (7). Hierdie IELTS punte kombinasie gaan vir jou ‘n CLB punt van 9 gee op hierdie toets.

Jy gaan nog nie jou graad akkreditasie hê nie. My UNISA 3 jaar graad (B.Compt) is geakkrediteer as ‘n “Applied Bachelor Degree” op die punte sisteem.

As ek nou weer ons punte uitwerk, staan ons op 78.

Language skills = 24

Education = 21

Work experience = 15

Age = 8

Arranged employment in Canada = 0

Adaptability = 10

As jy 67/100 punte kry, dan kwalifiseer jy vir Express Entry. En as jy nie 67/100 kry nie, moet nog nie tou ingooi nie.

Kostes: verniet

Stap 2: Werk jou CRS (Comprehensive Ranking System) punte uit

Op die skakel word jou punte outomaties bereken. Weereens, skat jou IELTS punte (soos hierbo).

Ons punte kom uit op 390 as ek dit nou uitwerk.

Kostes: verniet

Stap 3: Gaan kyk wat is die punte wat op die oomblik getrek word

So die laaste trekking (soos op vandag 10 Julie 2020) was op 8 Julie 2020. Die aansoeke wat getrek was, het punte tellings gehad van 478. Soos hierbo uitgewerk, ons s’n is net 390.

Kostes: verniet

So as jy nou die eerste stap gedoen het, en jy sien jy kwalifiseer om ‘n Express Entry profiel te kan skep (67/100) – baie geluk! Jy het jou CRS punte uitgewerk en doen sommer baie goed in daardie afdeling – fantasties! Jy het gekyk na die punte trekkings van die laaste rukkie en jy val binne die raamwerk van punte wat getrek word – waarvoor wag jy?

As jy vir Express Entry kwalifiseer, maar jou CRS punte is bietjie laag in vergelyking met wat hulle nou trek, doen nogtans die volgende stappe. Sommige “Provincial Nominee” programme vereis ‘n Express Entry profiel en sommige provinsies kies mense outomaties uit die Express Entry poel (sonder dat hulle die punte het wat op die oomblik getrek word).

Stap 4: As jy ‘n graad het, doen aansoek vir jou WES akkreditasie

Jou eerste stap hier gaan wees om jou transkripsies te kry. Daardie transkripsies moet direk van die Universiteit na WES gestuur word. Die koevert moet spesifiek geseël wees en daar is streng regulasies. Jy sal dit alles op WES se webtuiste sien.

Ek het deur UNISA my graad gekry. Om met daardie mense te sukkel van ‘n ander land af, kan nogal frustrerend wees. Ek het bloot vir elke liewe persoon wie se email adres ek kon kry, ‘n pleit briefie gestuur. Daar is ook ‘n vorm wat jy moet invul en faks na hulle toe (ek het nie meer die skakel nie). Nadat iemand my uiteindelik terug geantwoord het, het ek ook met die persoon gereël dat Coastal Couriers die dokumente by hulle gaan optel en na my toe bring (ek wou seker maak dis reg gedoen). As jy die transkripsie WES toe stuur, moet jy ook ‘n afskrif van jou graad sertifikaat stuur. Ek wou myne as een pakkie stuur – koste besparing en bietjie OCD.

WES sal jou laat weet as jou akkreditasie klaar is.

Kostes (net vir WES): CAD $ 220 (min of meer N$ 2,700)

Kostes (vir stuur na WES per koerier): N$ 650 (min of meer)

Stap 5: Boek en gaan skryf IELTS (Engelse toetse)

Dit klink dalk ligsinnig om Engelse toetse te gaan skryf, want jy praat daagliks Engels, werk in Engels, dink amper al in Engels. Maar hierdie toetsie is baie belangriker as wat jy dink. Jy mag dalk hoor die mense praat van die “golden score”. Dis die punte wat vir jou die beste resultaat op jou CRS gaan lewer. Jou mikpunt vir IELTS moet wees: Lees (7), Luister (8), Skryf (7), Praat (7).

As ek ons CRS punte uitwerk met net een kerf laer, val ons punte na 317. Die toets is regtig nie moeilik nie, maar konsentreer en oefen, oefen en oefen voor die tyd. Heelwat mense gaan skryf hierdie toetse meer as een keer om die gesogte 7/8/7/7 te kan kry.

As ek die IELTS punte met een kerf hoër maak (as 7/8/7/7), raak ons CRS punte 402.

Kostes: N$ 4,750.80 per persoon

Stap 6: Wag, wag en wag

Op hierdie stadium kan jy nie veel meer doen nie. Voor jy amptelik jou Express Entry profiel kan skep, moet jy eers die akkreditasie van WES af kry en jou IELTS uitslae kry.

Wat jy intussen kan doen, is om jou geboorte sertifikaat en huwelik sertifikaat (indien nodig) uit te sorteer. As jy moet aansoek doen vir ‘n nuwe paspoort, doen dit nou. Toe ek wou aansoek doen vir my paspoort, het die Ministry of Home Affairs oorgeskakel na ‘n nuwe data basis toe. Ewe skielik is ek nie meer op die geboorte register nie. Dit het gekos dat ek na die hospitaal moes gaan waar ek gebore is sodat hulle ‘n geboorte bevestiging kon doen.

As jou CRS punte laer is as wat hulle trek op die oomblik, begin lees en doen tonne navorsing oor “Provincial Nomination”. Kanada het 10 provinsies en 3 gebiede (‘territories’ volgens Wikipedia). Elkeen van die provinsies/gebiede het hulle eie nominasie program. Vir sommige het jy ‘n werk nodig, vir ander nie.

En as Express Entry nie vir nou na ‘n opsie lyk nie, sal jy moet begin soek na ‘n werkgewer wat jou sal aanstel en vir jou ‘n werk permit reël. Hierdie gedeelte ken ek glad nie, en ek kan nie help daarmee nie. ‘n Bron van waarde is die SACanada Facebook groep. Mense help graag as jy vrae het en deel ook baie raad uit.

Jy kan nou maar alle vakansies en nuwe karre vir die volgende paar jaar afskryf. Jy gaan binnekort “Proof of Funds” benodig! So spaar, spaar en spaar elke sent wat jy het. Hoeveel het jy nodig? Jy sal die antwoord hier kry! https://www.canada.ca/en/immigration-refugees-citizenship/services/immigrate-canada/express-entry/documents/proof-funds.html

En dis jou eerste paar stappe na Kanada!

As ‘n nota: ek is nie ‘n immigrasie agent nie. Ek kan net vertel en deel wat die stappe is en hoe ons te werk moes gaan om ons immigrasie droom te kan verwesenlik. Die stappe mag dalk dieselfde vir jou wees of heeltemal anders.

293 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page